SuperSport Schools Plus

Rusties sorg vir drama op die André van der Walt

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-16 Tags: , , , , , , ,

CALLIE FRYER, Hoërskool Rustenburg se staatmaker-snelbouler, in aksie teen Eldoraigne. FOTO: Hoërskool Rustenburg op Facebook.

Senuagtige glimlagte, hande voor die gesig en dan… ekstase!

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Dit is hoe die laaste oomblike van Hoërskool Rustenburg se dramatiese sege oor Hoërskool Waterkloof op sy tuisveld, die André van der Walt-ovaal in Pretoria, vir jare onthou sal word.

Die besoekers het in ‘n verkorte wedstryd, waar die seile ‘n hele paar keer moes op en af, met die laaste bal van die wedstryd, met vyf paaltjies koning gekraai. Die oorwinning verseker voorts dat die Rusties in die A-afdeling van die Finsbury-reeks bly.

“Die aanvallende spel van ons aanvangskolwers het ons ‘n kans gegee om te wen, nadat die hersiende teiken, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode, 201 in slegs 30 beurte was,” meen die Rusties-afrigter, Jan van Staden.

“Die feit dat die aanvangsvennootskap van 54 in net 6.5 beurte gekom het was ‘n hoogtepunt in ons kolfbeurt.”

In dié vennootskap het Henré Robinson die leiding geneem, met vyf grenshoue vir ‘n totaal van 42, terwyl Thian Labuschagne teen ‘n treftempo van 129 gekolf het vir sy 31, van slegs 24 aflewerings. Tristan van der Linde (21) het Robinson netjies bygestaan na Labuschagne terug pawiljoen toe is, en die twee het vasgebyt vir nóg ‘n vennootskap van meer as 50 lopies.

Die Klofies se kaptein, Jaydon Blom, het sy kapteinsbeurt van 55 nie uit nie goed opgevolg deur uiteindelik altwee dié venootskappe te verbreek en het sy dag met syfers van 2/16 afgesluit.

In die Rusties se boulbeurt, het Callie Fryer die aanslag gelei. Fryer se ses beurte het slegs 21 lopies gekos, terwyl hy drie Klofie-kolwers uitgehaal het om die grondslag vir ‘n geskiedkundige sege te lê.

Daar moet wel genoem word dat groot name soos kaptein, Riley Miller, wat vroeër die dag ‘n reuse 123 van slegs 40 balle gemoker het, en paaltjiewagter en voorslagkolwer, Rico van der Walt, afwesig was, aangesien hulle met die Klofies se ander senior span aan die Clifton T20-toernooi in KwaZulu-Natal deelgeneem het.

Dit neem egter niks weg van die Rusties se prestasie nie, aangesien hulle welverdiend met die verdedigende kampioen op sy tuisveld afgereken het.

Hoërskool Eldoraigne se wedstryd teen Hoërskool Nelspruit in Centurion is afgelas weens gure weer en volgens die Finsbury-reëls deel die spanne ligapunte in die geval van ‘n wedstryd wat nie voltooi word voor die minimum toegelate 10 beurte nie.

Dié uitslag, tesame met die Klofies se nederlaag, beteken dus dat die Eldos na nommer een op die puntelys skuif en op hul tuisveld vir die titel van die A-afdeling teen die Klofies sal meeding.

Die Hoërskool Menlopark het sy suksesvolle veldtog in vanjaar se reeks met ‘n oortuigende sege oor Potchefstroom Volkskool afgesluit. Die Parkies was tot laat in die groepwedstryde steeds ‘n sterk aanspraakmaker om in die eindstryd te speel, verál na hul uitstaande vertoning om die Klofies te troef.

Die talentvolle Jan-Willem Pienaar se wilgerlat was weer aan die brand en hy het uitstekend gekolf vir sy onoorwonne 52 lopies. Matt van der Westhuizen (30) en Monré Koekemoer (26) het hom, onder moeilike omstandighede, goed bygestaan om ‘n totaal van 175 te verseker.

Van der Westhuizen (2/17) en Koekemoer (2/20) het daarna ook gewoeker met die bal, terwyl Heinrich Claassen (2/14) die Volkies help knak en tot net 123 lopies, almal uit, beperk het.

Beknopte telkaarte:

Waterkloof 200/5 (Ekstras 60, Jaydon Blom 55*, Vorster de Villiers 31; Wynand Gouws 22*; Callie Fryer 3/21); Hoërskool Rustenburg 138/5 (Hendré Robinson 42, Thian Labuschagne 31, Ekstras 30, Tristan van der Linde 21; Jaydon Blom 2/16). Hoërskool Rustenburg wen met vyf paaltjies, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.

Menlopark 175/8 (Jan-Willem Pienaar 52*, Matt van der Westhuizen 30, Monré Koekemoer 26; Handré de Beer 3/18); Potchefstroom Volkskool 123 (Ekstras 20, Schalk Pienaar 16; Heinrich Claassen 2/14, Matt van der Westhuizen 2/17, Monre Koekemoer 2/20). Menlopark wen met 52 lopies.

Eldoraigne 84/5 (Ryno Mulder 23; Juan Maritz 2/11); Hoërskool Nelspruit (Het nie gekolf nie). Wedstryd afgelas weens gure weer.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.