SuperSport Schools Plus

Rusties, Marais Viljoen slaan terug vir die Noorde

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-29 Tags: , , , , , , ,

Bradley Snyers, regtervleuel van Hoërskool Rustenburg, duik oor vir een van sy twee drieë teen Hoërskool Diamantveld op die tweede dag van die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Marais Viljoen het die algehele telkaart ietwat beter daarna laat uitsien vir die Noorde met ‘n sege elk in hul onderskeie eerste wedstryde van die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Stellenbosch.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Daar is min goed wat deur ‘n diamant kan sny, maar die Rusties se Snyers-broers het dit duidelik reggekry.

Die jongste van die twee, Bradley Snyers (regtervleuel), het sy teenwoordigheid behoorlik laat geld met ‘n tweekuns aan drieë, terwyl ouboet Lorenzo Snyers (heelagter) oudergewoonte ook weer die kollig gesteel. Hoewel hy self net een drie gedruk het, het die oudste Snyers ‘n beduidende aandeel in ‘n paar ander gehad en is hy welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Diamonds was beslis onkant betrap met die Rustenburgers se hoë-tempo spel en moes  skarrel om terug te veg in die tweede helfte. Skrumskakel, JG van Heerden, het dié herstelpoging gelei en was puik agter ‘n pak wat nie soos gewoonlik goeie voorvoetbal kon bewerk nie. Van Heerden se geniepsige breekslae om die afbreekpunte het aan hom twee drieë besorg.

Hoërskool Marais Viljoen se staatmaker-agsteman, Rio Tshimbalanga, het ‘n driekuns behaal om ‘n swaarverdiende sege van 41-31 in ‘n fisieke kragmeting met Worcester Gimnasium te beklink. Tshimbalanga, ‘n groot aanspraakmaker op die Leeus se nr. 8-trui vir die Cravenweek, was haas onkeerbaar met sy kenmerkende barslopies.

Die span van Alberton se dryfmaalbewegings was die hoogtepunt van ‘n kragtige vertoning. Worcester se loskopstut, Amaan Adendorff, het hom egter nie daardeur laat onderkry nie. Adendorff het ‘n puik individuele vertoning gelewer waarvoor hy ook met twee drieë, waarvan hy een keer soos ‘n wafferse senter sierlik tussen die pale oorgeduik het, beloon is.

Hoërskool Framesby se agsteman, Eden Calitz, het, nes Tshimbalanga, drie keer agter Hoërskool Duineveld se doellyn gaan draai in sy span se yslike oorwinning van 60-7 oor die span van Upington.

Calitz is netjies bygestaan deur die vlugvoetige Cole Hilpert, wat die Veldties se verdediging dikwels oorhoeks gehad het in die middeveld. Hilpert en Kie het agterlangs die standaard vir die res van die dag gestel met aanskoulike hardlooprugby wat die skare op die Markotter-stadion gereeld op hul voete gehad het.

Puntemakers: 

Hoërskool Rustenburg 60 (33) – Tries: Xavier Steenkamp (2), Hendré Robinson (2), Bradley Snyers (2), Lorenzo Snyers, Adriano George, Tihan Labuschagne, Johnré Jafthas. Conversions: Riacordo Enos (4). Diamantveld 24 (12) – Tries: JG van Heerden (2), Driaan Jacobs, Bernard Daniëls. Conversions: Van Heerden, Duran Makoni.

Marais Viljoen 41 (26) – Tries: Rio Tshimbalanga (3), Sifiso Shongwe, Munga Mwengehya, Ondisa Njili, Lloyd Shoko-Schenk. Conversions: Raynhardt Kruger (3). Worcester Gimnasium 31 (12) – Tries: Amaan Adendorff (2), Elrenzo Swartz, Luke Cupido. Conversions: Lohenzel Tshabatau, Lhangquin de Bruyn.

Framesby 60 (34) – Tries: Eden Calitz (3), Cole Hilpert (2), Chales Blignaut, Dewaldry Fortuin, Mondré van Heerden, Damien Witbooi. Conversions: Jaiden Brewis (4), Van Heerden. Duineveld 7 (0) – Try: PJ Smit. Conversion: Smit.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.