SuperSport Schools Plus

Rusties hardloop sirkels om Marais Viljoen

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-05-04 Tags: ,

FOTO: Anton de Villiers

Hoërskool Rustenburg het presies 51 redes gehad om Saterdag breed te glimlag.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschool.com).

Die span van Rustenburg het hul eerste uitstappie in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling terdeë geniet om die besoekende Hoërskool Marais Viljoen ‘n loesing van 51-29 toe te dien. Hulle het in die proses agt drieë teen vyf gedruk.

Dit was vanuit die staanspoor duidelik dat die Rusties daarop uit was om vroeg in die reeks reeds hul stem dik te maak. Die aanslag is deur die tuisspan se linkervleuel, Christiaan van der Bergh, geloods, toe die sneller binne die eerste paar minute oorgewals het om die tuisspan se rekening te open.

Daarna het die span van Rustenburg in die gebroke spel baljaar en agterlangs die bal behoorlik lug gegee. Heelagter, Lorenzo Snyers, was oudergewoonte op sy gevaarlikste met ál die spasie tot sy beskikking.

Snyers het ‘n aandeel gehad in ál agt sy span se drieë en het self die doellyn twee keer oorgesteek, terwyl hy ook suksesvol was met ‘n strafdoel en ‘n doelskop om sy persoonlike bydrae op 25 punte te staan te bring. Die staatmakersenter, Hendre Robinson, was self ‘n gevaar met die bal in die hand en het, nes Snyers, ‘n tweekuns behaal.

Die besoekers het met rukke en stote ook aanskoulike hardlooprugby opgedis, wanneer hulle spasie gegun was in gebroke spel. Linkervleuel, Devin Raubenheimer, het hul eerste drie gedruk, en het op die aanval goed saamgewerk met heelagter, Tyron Bouw.

Die onderkaptein en steelkantflank, Dian Scheepers, het moedig probeer sy pak op die voorvoet te plaas, en is met een van sy span se vyf drieë beloon.

Die Rusties het egter reeds genoeg gedoen teen die tyd dat die besoekers ritme begin vind het, en dus was die agterstand net té groot vir Marais Viljoen om in te haal.

Puntemakers: 

Rustenburg 51 (36) – Drieë: Lorenzo Snyers (2), Hendre Robinson (2), Christiaan van der Bergh, Zulu Khumalo, Jayden Meyer, Pedrie Human. Doelskoppe: Meyer (3), Snyers. Strafdoel: Snyers. Marais Viljoen 29 (12) – Drieë: Devin Raubeheimer, Tyron Bouw, Loyd Shoko-Senck, Diaan Scheepers, JD Labuschagne. Doelskoppe: Rekkie Gerber (2).

Ander spanne:

o. 16: Rustenburg 43, Marais Viljoen 7.

o. 15: Rustenburg 24, Marais Viljoen 10.

o. 14: Rustenburg 76, Marais Viljoen 14.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.