SuperSport Schools Plus

Rusties en Volkies mik om Finsbury-reeks op hoë noot af te sluit

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-15 Tags: , , ,

Hoërskool Rustenburg is daarop uit om sy Finsbury-reeks op ‘n wennoot af te sluit wanneer hulle met Hoër Volkskool Potchefstroom in Rustenburg kragte meet.

Die Rusties het tot dusver ‘n bevredigende reeks geniet, en slegs teen die twee skole van Pretoria, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark, vasgeval.

Logan Rossouw, die span van Noordwes se voorste kolwer, sal sy belowende spelpeil wil voortsit teen ‘n sterk Volkie-boulaanval. Rossouw se pragbeurt van 59 in die vorige ronde, teen Hoërskool Centurion, het ‘n beduidende aandeel in sy span se oorwinning van vyf lopies gehad.

Sy ekonomiese boulwerk, soos regdeur die reeks bewys, behoort ook krities te wees indien die Rusties hoop om met ‘n oorwinning af te sluit.

Benewens Rossouw, sal Volkies ook vir Callie Fryer moet ligloop. Die alsydige speler is lekker op dreef en die laaste wedstryd van die reeks behoort reuse motivering, om ‘n betekenisvolle bydrae te lewer, te bied. In die bouldepartement, sal Zandre Diedericks die Volkies se toporde met mening toets.

Potch Volkies, ook goed op dreef, se momentum is ietwat gebreek deur ‘n nederlaag teen Waterkloof in die vorige ronde. Devan Obelholzer is die gevaarman met die bal in die hand en spog met ‘n halfdosyn paaltjies oor die laaste twee rondes.

Berno de Klerk, die Potchefstromers se beste kolwer in die vorige ronde, sal  Diedericks en kie onder kwaai druk wil plaas, en ook hoop dat Diaan van der Merwe sy teleurstelling van verlede naweek agter hom kan sit.

Van der Merwe moet mik om weer sy vertoning van 112 teen Hoërskool Centurion te herhaal. Die kaptein, Louis van Wyk, kan ook nie misgekyk word nie en sal van voor, met die kolf en bal, wil lei.

Hoërskool Centurion het ‘n taamlike taak op hande wanneer hulle vir Hoërskool Menlopark tuis verwelkom. Die Woeries sal Menlopark se keurkolwer, Dian van Zyl, vroeg wil terugstuur pawiljoen toe, maar Van Zyl spog met 164 lopies in sy laaste twee beurte en dit blyk of daar geen keer aan sy indrukwekkende spelpeil is nie.

Ewald Meyer sal ook weer onder die lopies wil maai nadat hy hope selfvertroue in sy beurt teen Hoërskool Nelspruit in die vorige ronde gebou het. Die Pretorianers se bybreekbouler, Gerhard van Zyl, behoort ook deurgaans ‘n bedreiging vir die Woeries in te hou.

Charl Prinsloo, die Woeries se kaptein, het regdeur die reeks van voor gelei, met sowel bal as kolf, en sal die reeks op ‘n hoë noot wil afsluit, terwyl Judah Phillips sy bestendige vorm met die kolf sal wil voortsit.

Wat boulwerk betref, sal Morné Prinsloo die Menlo-kolwers op hulle tone hou en ook hoop dat Rehan Lues weer sy ritme vind. Lues het tot dusver ‘n ietwat stil reeks beleef en sal oorgehaal wees om met ‘n laaste goeie vertoning vorendag te kom.

Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Waterkloof het verlede naweek reeds hulle reeks afgesluit. Die Klofies sal egter steeds in aksie wees wanneer hulle met St Alban’s College swaarde kruis.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.