SuperSport Schools Plus

Rugby dié Wenner, maar die telbord lees: Monument 3, Hans Coetzee 1

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-06-02 Tags:

NewsGHeikoPohlmanRugby was Saterdag in Krugersdorp die wenner. 

Ná 15 jaar wat Monument en Noordheuwel mekaar nie in ‘n amptelike wedstryd die stryd aangesê het nie, kan daar na gister geen twyfel bestaan dat rugbyondersteuners van die Wes-Rand uitgehonger vir só kragmeting was. 

Meer as 5500 mense het opgeruk vir die kragmeting en selfs twee ekstra pawiljoene wat deur Noordheuwel gedurende die week aangeskaf is, was naastenby genoeg om aan almal ‘n sitplek te gee nie. 

Monnas se Wit Bulle moes veel harder werk vir sy sege van 43-27 as wat die telbord aandui. Die verskil op die dag was sonder twyfel nader as die 16-punt sege aandui. 

Monument se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, sal egter meer as tevrede met sy span se vertoning asook die vyf ligapunte in die sakkie wees. 

Monnas het teen rustyd ‘n voorsprong van 19-10 opgebou, maar het meeste van die balbesit in die eerste helfte geniet. Niemand was beter in die eerste helfte as die Wit Bulle se vaskopstut, Heiko Pohlmann, nie. 

Hy is in die tweede helfte ook met ‘n tweede drie in die wedstryd beloon na hy die veld vol gespeel het. Buiten Pohlmann het Monnas se binnesenter, Richard Collins, ook blink vertoon en amper na willekeur bresse in Nories se verdediging geslaan. 

Nories se buitesenter, Maurice Marks, het binne die eerste minuut na rustyd vir sy tweede drie van die kragmeting oorduik om Monnas se voorsprong na slegs 19-17 te laat krimp. Monnas het egter dadelik terug geslaan met Collins wat vir sy tweede drie oorgegaan het. 

Buiten Marks het Nories se Juan Nieuwenhuizen (losskakel), Mpho Makata (heelagter) en Salmon Vermaak (vaskopstut) ook blink vertonings gelewer. Makata het met sy vinnige voetwerk beïndruk en was ook elke keer gevaarlik wanneer hy aansluiting by sy agterhoede gevind het. Nieuwenhuizen beskik oor ‘n geleerde skopskoen en het was met sy taktiese asook stelskopwerk meer as goud werd.

Monnas het in sy oopkantflank, Rynard Mouton, ‘n baljagter van hoogstaande gehalte. Hy het Nories by die afbreekpunte hoofbrekens besorg en ook heelwat omgekeerde besit hier vir sy span beklink. 

Hans Coetzee se brannewyn sou gistermiddag ietwat soeter as die afgelope drie jaar gesmaak het. Coetzee, wat ‘n legende van Monnas Rugby is, is die afgelope drie jaar by Noordheuwel betrokke. Coetzee se o.16A-span was die enigste A-span wat daarin kon slaag om sukses gister teen sy eweknie van Monnas (36-21) te behaal. 

Monnas het sewe spelers in die Goue Leeus se o.16-rugbyspan wat later vanjaar aan die Grant Khomo-week gaan deelneem, terwyl slegs drie spelers van Noordheuwel goed genoeg vir die span geag is. Daar was waarskynlik ‘n tikkie hartseer ook in Coetzee se skalkse glimlag versteek, want dit was sy eerste sege ooit oor sy geliefde Monnas. 

Dit was nie altyd mooi nie, maar na vier wedstryde beklee Helpmekaar-kollege nou die boonste posisie op die Virsekerbeker se Beker-kompetisie se puntelys. Helpies het vir die vierde agtereenvolgende wedstryd daarin geslaag om volpunte te verdien na hy Menlopark met 29-21 die loef afgesteek het.  

Die klipharde haker, Tyler Skudder, het voorlangs die Parkies fisiek aangevat en hy het goeie ondersteuning van die kantman Michael Jonker ontvang. Skudder asook die buitesenter, Melbirt van der Spuy, het twee keer daarin geslaag om die doellyn oor te steek.  Dit was ‘n klipharde stryd waarin die Menlopark se Ruan Oosthuizen (binnesenter) en Jurgen van Zyl (agtsteman) ook goeie spel opgedis het. 

Hoewel Dr. EG Jansen uiteindelik gemaklik met 50-22 oor Transvalia in Vanderbijlpark geseëvier het, was dit nie so maklik in die Vaaldriehoek nie. Transvalia het teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 15-5 geniet en Jansies se afrigters moes eers rustyd hard praat om seker te maak hul span kry die oorhand in die tweede helfte. 

Die Jansies het agt drieë in die sege ingeryg met Juandré Odendaal (flank) en Duane Bloem (buitesenter) wat elk dubbelle driedruk-plesier ervaar het. 

Puntemakers:

Monument 43 (19) – Drieë: Richard Collins (2), Heiko Pohlmann (2), Herschelle Goodman, Franco Prinsloo, Corné Pennels. Doelskoppe: Franco Hallett (4). Noordheuwel 27 (10) – Drieë: Maurice Marks (2), Salmon Vermaak. Doelskoppe: Juan Nieuwenhuizen (3). Strafdoele: Nieuwenhuizen (2). 

Helpmekaar 29 (21) – Drieë: Tyler Skudder (2), Melbirt van der Spuy (2). Doelskoppe: Tiaan Botes (3). Strafdoel: Botes. Menlopark 21 (14) – Drieë: Ulrich Wiese, Lohan Potgieter, Ruan Oosthuizen. Doelskoppe: Niel Beukes (3).

EG Jansen 50 (5) – Drieë: Juandré Odendaal (2), Duane Bloem (2), Kyle Potgieter, Xander Schwarzer, Jason Edwards, Giovanni van Eeden. Doelskoppe: Potgieter (5). Transvalia 22 (15) – Drieë: Colby Lundie (2), Anrich Botes. Doelskoppe: MC Dippenaar (2). Strafdoel: Dippenaar. 

Ander spanne:

o.16: EG Jansen 46, Transvalia 18; Menlopark 52, Helpmekaar 22; Noordheuwel 36, Monument 21.

o.15: Transvalia 29, EG Jansen 21; Menlopark 19, Helpmekaar 17; Monument 14, Noordheuwel 9.

o.14: Transvalia 12, EG Jansen 8; Menlopark 20, Helpmekaar 19; Monument 31, Noordheuwel 12.   

[powr-comments id=”227c969f_1559467142910″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.