SuperSport Schools Plus

Rooiskool behou vlekkelose rekord teen Louis Botha

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-03-22

Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se eerste rugbyspan het ‘n haas uit die hoed gepluk deur Louis Botha naelskraaps met 13-12 in die hoofwedstryd van sy jaarlikse sportdag in Kroonstad te klop.

Rooiskool het nog nooit in sy geskiedenis teen Louis Botha verloor nie. ‘n Eerste nederlaag was wel op die kaarte met die span van Bloemfontein wat nog onoorwonne vanjaar is en die afgelope paar jaar hom as een van die voorste skolespanne in die sentrale streek gevestig het.

Rooiskool was in 2000 met 32-3 oortuigend in hulle vorige kragmeting baas. In die vorige twee wedstryde tussen die twee spanne in 1993 en 1994 was Rooiskool onderskeidelik met 9-0 en 18-12 die wenners.

Die grondslag vir die sege is deur Rooies se agttal gelê wat elk ‘n klop op die skouer verdien. Die skrumskakel, Duncan Horak, het met die goeie gehalte balbesit baljaar en ook aan die agterlyn suiwer diens verskaf. Die heelagter, Marinus Aucamp, verdien ook vermelding vir ‘n stewige vertoning.

Louis Botha se losskakel, Jeandré Christian, het al sy span se punte via vier strafdoele aangeteken.
Welkom Gimnasium het vir Hoërskool Sasolburg met 55-3 in slegs 40 minute verniel. Albei helftes van die kragmeting was slegs 20 minute lank. Gimmies se Cravenweek-heelagter, Ezrick Alexander, het twee keer die doellyn oorgeteek.

Harrismith het vanjaar al ‘n paar goeie seges behaal, maar die oorwinning van 31-7 oor Hoërskool Kroonstad is die soetste nog.

Vir Blouskool het sy agtsteman Jan-Louis du Plessis en sy twee slotte, Johan le Grange en Jaco van Oudtshoorn, moedig probeer. HTS Welkom het Vryheid met 42-17 op dié sportdag die loef afgesteek, terwyl Hoërskool Kalahari van Kuruman ondanks die nederlaag van 18-12 teen Louis Botha se naasbestes tevrede met sy vertoning sal voel.

Na Wilgerivier van Frankfort en Hoërskool Reitz se sportdae Saterdag kan daar afgelei word dat die Oos-Vrystaatse liga vanjaar interresant behoort te wees. Reitz het vroeër in die week tydens ‘n kragmeting in die Aandreeks met 14-12 met HTS Sasolburg afgereken. Wilgerivier het op sy sportdag met dieselfde telling vir HTS Sasolburg verslaan. Reitz het op sy sportdag hard gewerk om Belvedere met 19-5 te troef.

Riebeeckstad het het op Frankfort vir Balfour met 22-3 verslaan. Vir Riebies het sy agtsteman Morné Botha, slot Justin Buys, heelagter Wanga Shumi en losskakel Collin Cromhoudt die vernaamste rolle in die sege vertolk.

Bothaville het vir Parys met 17- 5 op laasgenoemde se tuisveld verslaan. Die span se agtsteman, Drikus Klopper, was uitmuntend. Na ‘n goeie eerste helfte deur die besoekers het ‘n wolkbreek tydens die tweede helfte die wedstryd in ‘n slordige affere laat ontaard. Die wenspan se slot Wian Nell het heelwat losballe opgeraap, die flank Norman Payn het voor in die lynstane baie van Parys se besit afgeneem. Agterlangs verdien die verdediging van die senter, Duncan Halliday, vermelding.

Hoërskool Upington het op Porterville se jaarlikse sportdag vir Hoërskool Punt met 12-3 die loef afgesteek.

Puntemakers: 

AHS Kroonstad 13 (10) – Drie: Harold Hills. Doelskop: Corné Cooper. Strafdoele: Cooper. Louis Botha 12 (9) – Strafdoele: Jeandré Christian (4). 

Welkom-Gimnasium 55 – Drieë: Ezrick Alexander (2), Jason Olivier, Zander Wasserman, Duke Jantjies, Byron Ferreira, Danie Hendricks, Jerome Lottering, Tristan Rothman. Doelskoppe: Luan James (5). Hoërskool Sasolburg 3

Hoërskool Kroonstad 7 (0) – Drie: Jan-Louis du Plessis. Doelskop: Henro de Vos. Harrismith 31 (17)

Hennenman 35 – Drieë: Angelo Pienaar (3), Albie Venter (2), Richard Badenhorst, Xolani Gongo. Marquard 0

Wilgerivier 14 (6) – Drie: JJ Dekker. Strafdoele: Cobus Erasmus. HTS Sasolburg 12 (5)

Bothaville 17 (10) – Drieë: Thato Mojaki, Drikus Klopper. Doelskoppe: Carlo Kleynhans (2). Strafdoel: Kleynhans. Parys 5 (5)

Riebeeckstad 22 – Drieë: Wanga Shumi (2), Temba Malindi. Doelskoppe: Collin Cromhoudt (2). Strafdoel: Cromhoudt. Balfour 3

Reitz 19 – Drieë: Gideon van Zyl, Jannes van Coller, Driaan Scheepers. Doelskoppe: Neil van der Merwe (2). Belvedere 5

Reitz 14 – Drieë: Neil van der Merwe, JD Muller. Doelskoppe: Van der Merwe (2). HTS Sasolburg 12

Hoërskool Upington 12 (7) – Drieë: Benna Nieuwoudt, Willrich Delie. Doelskop: Nieuwoudt. Hoërskool Punt 3 – Strafdoel: Walter Baartman.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.