Rooikatte grom die hardste op VKB-week in Reitz
Die Rooikatte is die nuwe VKB Platteland Rugbyweek kampioene nadat hulle die Luiperds kon mak maak in Reitz.
Die span van Pretoria het met sy oortuigende sege van 44-10 oor die Luiperds ook dan die bordjies teen die Luiperds verhang wat verlede jaar in die eindstryd tussen die twee spanne met die louere weggestap het.
Kyk al die wedstryde op SuperSport Schools – Registreer nou
Na die Luiperds aanvanklik druk op die seuns van die Pretoria privaatskole gesit het van die afskop af het die Rooikat-senter van St Alban’s College, Luke Sass, se drie die momentum geswaai en die Rooikatte kon die res van die wedstryd oorheers.
‘n Driekuns aan drieë deur hul losskakel, JJ Steenkamp, twee drieë deur hul haker, Luke Webber en ‘n laaste drie om hul skitterende vertoning af te rond deur Zander Wessels van Heronbridge College wat as ‘n reserwe in die agterlyn opgekom het, was genoeg om vir die Rooikatte ‘n gemaklike 44-10 sege te gee in die twee spanne se herontmoeting.
Met nog ‘n driekuns op die eerste dag, en ‘n drie op die tweede dag, is Steenkamp se sewe drieë die meeste deur ‘n enkele speler by die toernooi.
Anru Cronje, die Rooikatte se flank van Midstream College het ‘n briljante wedstryd geniet en is as speler van die wedstryd uitgewys.
Hul heelagter, Jaedon de Leeuw, was ook deurlopend betrokke met die aanval en kon ‘n verdere nege punte met sy stelskoppe bydra.
Verlede jaar het die Luiperds 24-17 in die eindstryd teen die Rooikatte gewen, maar hulle kon nie vandag die verdediging oopmaak nie.
Nadat hulle vir 46 minute als wat hul het teen die Rooikatte se verdegingslyn gegooi het was dit hul groot slot van Koster, PW Smit, wie uiteindelik hul enigste drie kon druk.
Een van die Luiperds se sterkste baldraers die week, die agsteman van Lichtenburg, Dries Scheepers, was afwesig vir die wedstryd weens ‘n besering wat hy opgedoen het. Hy het definitief ‘n leemte in die span van Noord-Wes gelaat.
Met vyf drieë in die eerste twee wedstryde het Scheepers ‘n groot rol gespeel in sy span se veldtog vir ‘n plek in die eindstryd.
Die Rooikatte maak dan skoonskip by hierdie jaar se Platteland-week met hierdie wen, nadat hulle Dinsdag ook die Spar-sewestoernooi gewen het. Daardie wedstryd was ‘n goeie voorsmaak vir vandag se eindstryd en die Rooikatte het met 35-17 die Luiperds oorwin. Die Luiperds was ook verlede jaar se sewes-kampioene, so die Rooikatte neem albei die titels hierdie jaar af.
Die enigste ander span wat die week onoorwonne is, die Barbarians, het ook hul spiere gebult en hul week in styl afgerond deur om vir die Griekwas met 67-0 pakslae te gee.
Die Barbarians se flank van Witteberg, Sakkie Brits, kon ‘n driekuns in daardie wedstryd en Lodie van Dyk (slot) van Goudveld en Daniel Meintjies (agsteman) wat ook van Witteberg af kom kon twee drieë elk druk.
Meintjies en sy vleuel van Goudveld af, Urban Pienaar, is die twee spelers wat in elke wedstryd die week minstens een drie vir die Barbarians kon druk.
Puntemakers:
Rooikatte 44 (24) – Drieë: JJ Steenkamp (3), Luke Webber (2), Luke Sass, Zander Wessels. Doelskoppe: Jaedon de Leeuw (3). Strafdoel: De Leeuw. Luiperds 10 (3) – Drie: PW Smit. Doelskop: Albert Joubert. Strafdoel: Joubert.
Pumas 14 (14) – Drieë: Walt Stander, Henco Morgenson. Doelskoppe: Minehle Mtsweni (2). NKZN 3 (3) – Strafdoel: Kyle Barsdorf.
Barbarians 67 (38) – Drieë: Sakkie Britz (3), Lodie van Dyk (2), Daniel Meintjies (2), Johan Whitehead, Tyrece Britz, Marco Grobler, Urban Pienaar. Doelskoppe: Dries Stemmet (4), Tertius Loubscher, Jason Rolfe. Griekwas 0.
Sandveld 12 (7) – Drieë: Aboubacar Gaye, Marnus Swart. Doelskop: Alex du Pisani. Zululand 10 (10) – Drieë: Josias van Schalkwyk, Meilin Viljoen.
Vrystaat Kiewiete 45 (28) – Drieë: Wehan Strydom (3), Tumi Pholoane (2), Frans Botha, Reinieco Nel. Doelskoppe: Henré Smith (4), Nel. SKZN 31 (14) – Drieë: Tiaan le Roux, Jordan Lubbe, Bongokuhle Nyenyana, Banele Nombika. Doelskoppe: Jayden Matthews (4). Strafdoel: Matthews.
Kiewiete Platteland 25 (22) – Drieë: Denver Jacobs, Bin Laden Macholo, Reghardt Fourie. Doelskoppe: Licha Leballo (2). Strafdoelle: Leballo (2). Oos-Vrystaat 19 (7) – Drieë: Fanie Malakoane, Letlotlo Mohale, Phatela Sehlotho. Doelskoppe: Tebello Kabi (2).