SuperSport Schools Plus

Rooi, Geel, Groen Golf oorgehaal om 2025 met mening te tref

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-02-26 Tags: ,

FOTO: Frans Lombard

Die bekende krete van “Die Rooi, Die Geel, Die Groen”, sal eersdaags weer deur 1 Lynwoodweg en regoor die land weergalm wanneer een van Suid Afrika se gesogste rugbyskole, Afrikaanse Hoër Seunskool, op die veld draf.

Volg al die Affies-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Affies het in 2024 ‘n vrugtevolle seisoen beleef met die eerste span wat onder die top-vyf skolerugbyspanne in Suid-Afrika geëindig het.

Vanjaar beloof om meer van dieselfde resultate op te lewer. Die span van Pretoria het egter, volgens die rugbyhoof en eerstespan-afrigter, Ruan Jacobs, een van sy taaiste bepalingslyste in ‘n lang ruk.

Dit is duidelik, met Affies wat op gebruiklike wyse hul seisoen afskop met die vriendskaplike bepaling teen Hoërskool Diamantveld op 8 Maart in Kimberley.

Daarna wag ‘n klipharde stryd met Helpmekaar Kollege in Pretoria en twee fisieke kragmetings met HTS Drostdy en Hoër Jongenskool Paarl by die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi, wat vanjaar by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied word.

Die einste Paul Roos wag ook op die span van Pretoria wanneer hulle by die jaarlikse Wildeklawer-toernooi swaarde kruis.

Verder staan Paarl Gimnasium en Hoërskool Garsfontein ook in Affies se pad. Dié twee wedstryde vind onderskeidelik op 12 en 26 April plaas, met die Pretorianers wat weg speel by altwee geleenthede.

Die grootste opgewondenheid heers egter vir 17 Mei, wanneer Affies se jaarlikse derby met die Springbokfabriek, Grey-kollege, geskied. Dié kragmeting vind vanjaar in Bloemfontein plaas, wat beteken dat die Pretorianers ál vier Suid-Afrika se skole-reuse weg moet aandurf.

Dit is nietemin ‘n uitdaging waarna Jacobs en die res van sy afrigtingspan, wat Jaco Koch (voorspeler- en kondisioneringsafrigter), Heinrich van Jaarsveldt (spanbestuurder) en die gesoute Pine Pienaar (tegniese adviseur) insluit, uitsien.

Vernaam Pienaar se rugbybrein bring hope ervaring. Hy spog met 17 jaar se ondervinding op professionele vlak en het onderskeidelik by die Cheethas en Blou Bulle as die Curriebeker-afrigter diens verrig, terwyl hy ook vir bykans ‘n dekade die Bulle se verdedigingsafrigter was in Superrugby.

Affies beskik boonop oor hope talent. Die senior groep behou nie minder nie as nege lede van verlede jaar se eerste span.

Dit is verál die terugkeer van  Zirk Meyer (skrumskakel) en Ruben Groenewald, wat verlede jaar op heelagter diens gedoen het, wat die Affie-ondersteuners se opgewondenheid prikkel as skakelpaar hierdie seisoen. Groenewald is die seun van voormalige Blou Bul-skrumskakel, Coenraad Groenewald, wat ondermeer ook vir die Junior Bokke uitgedraf het.

Die o. 17-groep wat verlede jaar die veld as o. 16’s aan die brand gespeel het, bring voorts agt Grant Khomo-spelers na vanjaar se senior groep.

Die vooruitsig van ervaring en jong talent laat ‘n mens onwillekeurig wonder of “Die Rooi, Die Geel, Die Groen” moontlik vanjaar weer die voorste skolerugbyspan in die land kan wees.

Bepalings vir 2025:

#nt_header_1nt_header_2nt_header_3nt_header_4nt_header_5nt_header_6
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.