SuperSport Schools Plus

Rooi Bulle gaffel die Rhinos in Puma-eindstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-27

Die Rooi Bulle van die HTS Middelburg het die Rhinos van die Hoërskool Nelspruit van sy troon as kampioen van die Pumas se grootskole-afdeling gestamp.

Die Rooi Bulle het Saterdag op sy tuisveld die Rhinos in ’n taai eindstryd met 14-12 geklop om dié liga onoorwonne af te sluit. Nelspruit is die verdedigende kampioen van die Beeld Noordvaal Trofee en dié nederlaag beteken dat hy reeds in die kwarteindstryd van die kompetisie met sy teenstander in verlede jaar se eindstryd, Garsfontein van Pretoria, ’n herontmoeting sal hê. Dié twee spanne het mekaar al twee keer vanjaar die stryd aangesê met albei wat een keer aan die wenkant was.

Die Rooi Bulle sal eers moet wag op die uitslag van die uitspeelwedstryd tussen Marais Viljoen van Alberton en Menlopark van Pretoria om te weet wie hy in die kwarteindstryd sal pak.

Die span van Middelburg se Cravenweek-flank, JC Pretorius, was soos altyd ’n doring in die Rhinos se vlees by die afbreekpunte. Hy het verskeie kere daarin geslaag om omgekeerde besit te bewerkstellig.

Nelspruit se twee spelers wat die nasionale verteenwoordigende spanne gehaal het – die stut Dewald Maritz en haker Marnus van der Merwe – het gewys hoekom die nasionale keurders hulle so hoog aanslaan. Van der Merwe het egter langs die kant van die skrum teen die Rooi Bulle gesak.

Die verloorspan se vleuel Eduan Engelbrecht was op die aanval ook weer een van sy span se staatmakers.

■ Marais Viljoen moes op sy tuisveld sweet om Florida met 17-14 uit te oorlê. Marco Saaiman, die span van Alberton se kaptein en flank, was sy span se uitstaande speler op dié dag.

Die wenspan het teen rustyd reeds met 17-8 voorgeloop. In die ander uitspeelwedstryd in die Valke/Leeus en Luiperds se liga het Kempton Park sy spiere behoorlik gebult met ’n sege van 42-8 oor Die Anker.

Kempies se senter Dean Koch en die Cravenweek-haker Tinus Grundelingh het blink vertonings vir die wenspan gelewer.

■ Garsfontein het met ’n reuse-terugvegpoging vorendag gekom in die tweede helfte in sy kragmeting teen Helpmekaar in Johannesburg. Die Garsfontein-manne het uiteindelik met 26-22 as oorwinnaars van die veld

gestap.

Helpies het teen rustyd ’n gerieflike voorsprong van 16-0 opgebou. Chuinier van Rooyen, die span se heelagter, het met sy skopskoen vyf strafdoele en ’n doelskop tussen die pale deur gejaag.

Vir Garsies was Bees Ferreira, haker, en die losvoorspeler Jaco Bezuidenhout op hul stukke. Die slot PJ Steenkamp het ook uitstekend in die lynstane gerank.

■ Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het op sy tuisveld Maritzburg College met 50-19 kafgedraf in ’n Premier Interskool-kragmeting.

Chris­tian Strydom, Affies se linkervleuel, het vier keer ’n draai agter die besoekers se doellyn gaan maak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.