SuperSport Schools Plus

Rolyn Bergsig ‘n fees van aksie op Dag 1

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-29 Tags: , , , , , ,

FOTO: Marius Nortje

Die eerste drie wedstryde van die Rolyn Bergsig-sportfees het vir hope vermaak op die rugbyveld gesorg.

Herleef al die aksie op Supersport Schools. (www.supersportschools.com).

Bergsig Akademie se tweede span, beter bekend as die Hawks, het vanjaar se fees afgeskop met ‘n naelbytsege van 41-37 oor Hoërskool Koster.

Die Hawks se Luan Duvenhage was grotendeels verantwoordelik vir die gashere se sukses, en het uitmuntend vertoon op sowel die aanval as met die stewel. Hy het twee drieë gedruk en met twee doelskoppe geslaag vir ‘n persoonlike bydrae van 14 punte.

Koster se oopkantflank, Luan Coetzee, was sy span se groot uitblinker en het die veld behoorlik aan die brand gespeel. Coetzee en spanmaats, Danie Smit en Stephen Few, het elk ‘n tweekuns behaal.

Hoërskool Overkruin het met ‘n telling van 41-17 geseëvier teen hul eweknieë van Pretoria, Hoërskool Die Wilgers. Regtervleuel, Tao Fabri, en losskakel, Marnus Rademeyer, het albei dubbele driedruk-genot gesmaak.

Rademeyer was ook in die kol met drie doelskoppe en ‘n strafdoel, wat sy persoonlike bydrae op 19 punte te staan gebring het. Hy is ook welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

Afrikaanse Hoër Seunskool se Geelkobras het hul rekening met ‘n wegholsege van 57-21 oor Hoërskool Wonderboom se Wit Tiere oopgemaak. Heelagter, Khumo Manakana, linkervleuel, Wian Grobler, en die plaasvervanger-losvoorspeler, Gareth Geyser, het elk ook ‘n tweekuns behaal.

Wat die Geelkobras se sege des te meer indrukwekkend gemaak het is die feit dat hulle teen rustyd ‘n agterstand van 17-21 in die gesig gestaar het. Hul verstommende vertoning in die tweede skof het 40 punte sonder antwoord teweeggebring.

Puntemakers:

Bergsig Hawks 41 (24) – Drieë: Luan Duvenhage (2), Shane Watt, Carlo de Jager, Martin Horn, Bongi Saki, Gareth Hofstrah. Doelskoppe; Duvenhage (2). Renaldo Prinsloo. Koster 37 (13) – Drieë: Luan Coetzee (2), Danie Smit (2), Stephen Few (2). Doelskoppe: Few (2). Strafdoel: Few.

Overkruin 41 (17) – Drieë: Tao Fabri (2), Marnus Rademeyer (2), Waylon Oncke, Leequin Fredricks. Doelskoppe: Rademeyer (3). Strafdoel: Rademeyer. Die Wilgers 20 (15) – Drieë: Kyle Painter, Adriaan Jacobs, Jason Pienaar. Doelskop: Reinadt Uys. Strafdoel: Uys.

Affies (Geelkobras) 57 (17) – Drieë: Khumo Manakana (2), Wian Grobler (2), Gareth Geyser (2), Len Muller, Rueben Pieters, Tristan Swart. Doelskoppe: Schalk Botha. Wonderboom 21 (21) – Drieë: Ruan van Greunen, Ryan Otto, Kevin Frensham. Doelskoppe: Aidan Swart (3).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.