Robbies tem Riversdal-boere

Hoërskool Robertson het op die laaste dag van die Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek die tuisspan uitoorlê met 19-17, en so vir die Oakdale-vyftiental hul eerste nederlaag van die byeenkoms toegedien.
Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Teen halftyd was daar nog niks wat die twee spanne kon skei nie, met die telling op 14-14. Oakdale kon na die breuk slegs met ‘n enkele strafdoel, deur losskakel, Tyrese Plaatjies, verdere punte aanteken, terwyl Robertson se Haygen Persent met sy span se derde drie die oorwinning beklink het.
Die Oakdale-span het hul skool heel naweek met trots verteenwoordig, en ook in hierdie wedstryd puik vertoon. Dit was slegs twee skitterende drieë deur Robertson se opwindende SA o .17-Sewesster, Bernardo Diedericks, wat die besoekers binne trefafstand gehou het.
Die Robbies het verbete verdediging aan die dag gelê om Oakdale te verhoed om in die tweede helfte te druk, en, met slegs vyf minute oor, het daar uiteindelik ‘n gaping in die tuisspan se verdediging oopgegaan wat Haygen Persent deurgelaat het vir die wendrie.
Hoërskool Strand het ook hul veldtog op ‘n hoë noot afgesluit in ‘n riller teen Hoërskool Kempton Park. Teen halftyd het die Strandhonde aan ‘n skrale voorsprong van 19-17 geklou en, na nog ‘n aksiebelaaide halfuur, was dit steeds twee punte wat die verskil gemaak het op 34-32.
Hoërskool Oosterlig het indrukwekkend vertoon deur vir Hoërskool Bredasdorp met 36-19 af te ransel.

Die Boksburgers spog met driekwarte wat mekaar beter verstaan as meeste, met die tweeling, Dean en Dylan Jordaan, wat die nr. 13- en 14-truie dra, terwyl hul neefs, Joël Jordaan en Joshua Booyens, op binnesenter en linkervleuel speel.
Al vier neefs het gedurende die byeenkoms agter die doellyn gaan kuier. Jordaan en Booyens het in die eerste twee wedstryde drieë aangeteken, terwyl die boeties altwee teen Bredasdorp gedruk het.
Merensky Landbou Akademie het ‘n uitstekende tweede helfte teen Hoërskool Lichtenburg beleef om van 0-24 terug te veg en uiteindelik met slegs vyf punte te verloor.
Hul groot agsteman, Hardus Terblanche, het ‘n tweekuns behaal en die span, wat in die liga bokant hulle speel, deurentyd kopsere besorg.
Twee drieë deur sy direkte opponent, Abrie Coetzee, in die eerste helfte, en ‘n derde deur buitesenter, Dundré Dempers, was egter genoeg om die knoop vir die Liggies deur te hak.
Puntemakers:
Hoërskool Robertson 19 (14) – Drieë: Bernardo Diedericks (2), Haygen Persent. Doelskoppe: Jaydan van Niekerk. Oakdale XV 17 (14) – Drieë: Daniel Joubert, Jurgen Isaacs. Doelskoppe: Tyrese Plaatjies (2). Strafdoel: Plaatjies.
Hoërskool Lichtenburg 24 (24) – Drieë: Abrie Coetzee (2), Dundré Dempers. Doelskoppe: Albert Joubert (3). Strafdoel: Joubert. Merensky Landbou Akademie 19 (0) – Drieë: Hardus Terblanche (2), Byron Hendricks. Doelskoppe: JD boshoff (2).
Hoër Volkskool Graaff-Reinet 24 (10) – Drieë: Ethan Davids, Casper Becker, Joshua du Toit. Strafdoele: Elrico Prins (3). Hoërskool Die Anker 22 (12) – Drieë: Duvan Booyens (2), Damian Boshoff. Doelskoppe: Ruan Smith (2). Strafdoel: Smith.
Hoërskool Strand 34 (19) – Drieë: Roeben Robinson, Lyle Julies, Na-Eem Adams, Cayden Theunisen, Strafdrie. Doelskoppe: Darren Dramat, Tyron Nicholas. Strafdoel: Jayden Steenkamp. Hoërskool Kempton Park 32 (17) – Drieë: Tiaan Delport, Tian Aucamo, Deon Mulligan, Vaughn Fouche. Doelskoppe: Delport (2). Strafdoele: Delport (2).
Hoërskool Middelburg 19 (14) – Drieë: CW Hanekom (2), Matthew Abbey. Doelskoppe: Abbey (2). Hoërskool Upington 14 (0) – Drieë: Roelof Slabbert, LJ Isaks. Doelskoppe: Hercules Hudson, Caden Daniels.
Hoërskool Pietersburg 24 (10) – Drieë: Pieter Oosthuizen, Hanno van Zyl, Divan Brown. Doelskoppe: Brown (3). Strafdoel: Brown. Hugenote Hoërskool (Wellington) 19 (12) – Drieë: Basson Truter, Heinrich Landsberg, Ethan-John Isaacs. Doelskoppe: Lian Wiid (2).
Hoërskool Oosterlig 36 (26) – Drieë: Jeandré Bekker (2), Tristan Else, Dylan Jordaan, Dean Jordaan. Doelskoppe: Jaydon Bouwer (4). Strafdoel: Bouwer. Hoërskool Bredasdorp 19 (7) – Drieë: Naide April (2), Liam Engel. Doelskoppe: Kyle Willeman (2).