SuperSport Schools Plus

Rhinos word terug in die SDC Noordvaal Cup deur verdedigende kampioen verwelkom

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-05-05 Tags: , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Die Hoërskool Garsfontein se Bere verdedig Saterdag ‘n trotse rekord wanneer hy sy aanslag op vanjaar se SDC Noordvaal Cup in die Beker-kompetisie teen die Hoërskool Waterkloof afskop.

Die Bere het laas in 2013 (34-36) teen die Klofies die knie gebuig. Die span van 2023 beklee tans die tweede posisie op die nasionale ranglys en sal sonder twyfel vandag op Berepark die veld as die gunstelinge betree.

Klofies sal egter nie die sowat 6.5 kilometer oos op Solomon Mahlangu aanpak sonder hul eie planne en doelwitte nie. Die span word afgerig deur die SA Skole A-afrigter, Cobus van Dyk, met Renier de Villiers wat hom bystaan.

Garsies het vanjaar nog net een keer die knie gebuig. Dit was verlede Saterdag teen Grey-kollege (9-29) tydens die Absa Wildeklawer-toernooi in Kimberley.

Die Bere sal wel sonder twee van sy staatmakers, Divan Brits en Zander Lourens (albei flanke) moet klaarkom. Lourens het sy skouer tydens die nederlaag teen Grey beseer, terwyl Brits sy knie in die oorwinning van 19-8 oor Outeniqua beseer het.

Die twee het saam met hul kaptein en agtsteman, Abri van der Westhuizen, ‘n gedugte lostrio gevorm. Lourens se plek is reeds deur Luan Olivier gevul wat verlede jaar die SA Rugby Skole-sewestoernooi se Speler van die Toernooi was, terwyl die slot Thinus Oosthuizen na die kant van die skrum sal skuif om Brits se stewels te vul.

Klofies het ook hul kaptein en agtsteman, Dale Arlow, van slot na die agterkant van die skrum geskuif.

Die nuweling in vanjaar se Beker-kompetisie, die Hoërskool Nelspruit se Rhinos, kon nie vir ‘n moeiliker eerste uitstappie tussen die groot honde van die reeks gevra het nie.

Die Rhinos moet die verdedigende kampioen, Monument van Krugersdorp, op laasgenoemde se tuisveld, die Ras van Rooyen-veld, die stryd aansê. Monnas se Wit Bulle was in die twee spanne se laaste kragmeting in 2019 met 71-7 baas.

Dit was egter on Mbombela, terwyl die laaste kragmeting in Krugersdorp in 2018 in ‘n sege van 24-20 vir Monnas geëindig het.

Die Wit Bulle het verlede jaar nie een keer in die Noordvaaltrofee, soos die kompetisie verlede jaar geheet het, die knie gebuig nie.

Die Wit Bulle se losskakel, Daylon Myners, is ook weer terug in die saal en behoort ‘n doring in die Rhinos se vlees te wees.

‘n Uitgedunde Hoërskool Menlopark sal geen illusie hê oor die opdraende stryd wat more teen Helpmekaar-kollege in Johannesburg op hul wag nie.

Die Parkies se span het heelwat staatmakers op die krukkelys, terwyl Helpies weer tydens Wildeklawer gewys het dat hulle nie ‘n span is wat onderskat kan word nie.

Helpmekaar het sonder twyfel die taaiste twee kragmetings van enige span ooit sedert die ontstaan van Wildeklawer in 2009 gehad. Helpies moes oor drie dae teen Paarl Gimnasium (14-25) en die Hoër Jongenskool Paarl (10-15) te staan kom.

Ondanks twee nederlae het die span van die Goudstad met eer uit die stryd getree.

Die Parkies sal veral die dienste van sy losskakel, Marco Strydom (knie), agtsteman, Hanru Potgieter (skouer), buitesenter, Alro le Roux (skouer) mis. Strydom en Potgieter is onderskeidelik die kaptein en onderkaptein van die span.

Die spanne is: 

Garsfontein vs Waterkloof om 13:20 op Berepark in Pretoria: 

Hoërskool Garsfontein: 15 Jason Hugo, 14 Ruan Enslin, 13 Dimitre Erasmus, 12 Heinrich Cloete, 11 Cassie Prinsloo, 10 Nicallen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Abri van der Westhuizen (kaptein), 7 Thinus Oosthuizen, 6 Luan Olivier, 5 James Schnetler, 4 Jacques Swarts, 3 Leighton-Jon Cloete, 2 De Wet Lottering, 1 DA Swart.

Hoërskool Waterkloof: 15 Hernus Marais, 14 Waldimar Griesel, 13 Happy Makate, 12 Reuven Ferreira, 11 Sjaan Steyn, 10 Franco Cronje, 9 Francois Viljoen, 8 Dale Arlow (kaptein), 7 Jean Jooste, 6 Kevin van Staden, 5 Stephan de Beer, 4 Anrich Uys, 3 Luan Brown, 2 Stephan Jacobsz, 1 Marnus Maritz.

Monument vs Hoërskool Nelspruit om 13:30 op die Ras van Rooyen in Krugersdorp: 

Monument: 15 Jody Schambreel, 14 Nathan Venter, 13 Kelvin van Wyk, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Daylon Myners, 9 Ceano Everson, 8 Jamaal Feldman, 7 Nathan Erasmus, 6 Dylan Viljoen, 5 Uli van der Westhuizen, 4 Jacques Botha, 3 Ricardo du Plessis, 2 Stephan Uys, 1 Muller van Reenen.

Hoërskool Nelspruit: 15 Kian van Tonder, 14 Owen Steyn, 13 Ian Wood, 12 Heino Meiring, 11 Karl Erichson, 10 Theuns Meyer, 9 Andeon Pringle, 8 Braam Basson, 7 Bradley Claassen, 6 Banele Ngwenya, 5 Juan Bezant, 4 Luke Poison, 3 Ryan Venter, 2 Regard Vermaak, 1 Hugwin Heyman.

Helpmekaar-kollege vs Menlopark om 12:30 in Johannesburg:  

Helpmekaar: 15 Junayden Seffier, 14 Tiaan le Roux, 13 Reynard van der Linden, 12 Michael Benzien, 11 Pieter Moller, 10 Juan Storm, 9 Tristan van Niekerk, 8 Christian Steyn (kaptein), 7 Vaughn le Grange, 6 Darius Haasbroek, 5 Ulrich Swart, 4 Francois Tonkin, 3 Boela de Wet, 2 Ruan Welman, 1 JJ du Preez.

Menlopark: 15 Jaden Fortuin, 14 Xander Haasbroek, 13 Xander Loubser, 12 Ruhan van Rensburg, 11 Kagiso Kubheka, 10 Logan Botha, 9 Christian Herbst, 8 Steyn Landman, 7 Xander Roets, 6 Rocco Myburgh, 5 Owen Basson, 4 Stefan van der Bijl, 3 Owen Herbst, 2 Mocke Balt, 1 Ruan Wolmarans.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.