Rhinos ontwaak na rustyd, Witteberg oorwin Wesvalia en die weer

Hoërskool Nelspruit het, na ‘n effense somerslaap in die eerste helfte, as oorwinnaars uit die Mbombela-stryd getree om hul 2025-seisoen van stapel te stuur.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Rhinos het tuis vir Hoërskool Middelburg, in ‘n kragmeting wat aanvanklik gesukkel het om aan die gang te kom, met 18-13 verslaan.
Die tuisspan het met die omdraaislag ‘n agterstand van sewe punte in die gesig gestaar, met die Middies se haker, Roux Grobler, wat in die eerste skof oorgeduik het vir sy span se eerste en enigste drie, wat deur losskakel, Buhle Mphahlaza, verdoel is. Ná rustyd het dit egter gelyk asof die tuisspan skielik afdraand speel – iets waaraan Nellies se ondersteuners die afgelope paar jaar gewoond geraak het.
Liam Pringle, die tuisspan se Cravenweek-skrumskakel, was oudergewoonte uitstekend met vernaam sy diens agter die Nellies se makropak wat uit die boonste rakke was. Boonop was Pringle sekuur met sy korrelwerk pale toe om met twee doelskoppe en ‘n strafdoel te slaag.
Buitesenter, Ruben Greeff, het dikwels gevaarlik vertoon op die aanval en is met een van die Rhinos se twee drieë beloon.

Hoërskool Rustenburg, wat moes swoeg en sweet om Hoërskool Trio met ‘n telling van 17-14 baas te raak, se drie drieë is aldrie deur sy giftige agterlyn gedruk.
Soos verwag het heelagter, Lorenzo Snyers, deurgaans ‘n gevaar ingehou met die bal in hand. Hy het eenvoudig floreer met loskakel, Wade Daivey, wat agterlangs die toutjies meesterlik getrek het.
Vir die span van Kroonstad het haker, Myburgh Jacobs, en losskakel, Jaydon Windvogel, uitgetroon. Nes Daivey, was Windvogel uitsonderlik met die skep van spel in die agterhoede, en het hy ook ‘n drie en twee doelskoppe bygedra.
Hoërskool Witteberg het, in sopnat toestande in Klerksdorp, met 22-7 oor Hoërskool Wesvalia koning gekraai. Die weersomstandighede het die fokus van die stryd na die grootmanne voor verskuif, waar die besoekers van Bethlehem uiters klinies was. Hulle het balbesit uitstekend behou om die Wessies voorlangs ore aan te sit.
Die senterpaar van Sedwin Gysman en JC van Rhyn het ook nie geskroom om fisies betrokke te raak in die middeveld nie, en het elk welverdiend oorgebars vir ‘n drie.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 18 (3) – Drieë: Ruben Greeff, André Smit. Doelskop: Liam Pringle. Strafdoele: Pringle (2). Hoërskool Middelburg 13 (10) – Drie: Roux Grobler. Doelskop: Buhle Mphahlaza. Strafdoele: Mphahlaza (2).
Hoërskool Rustenburg 17 – Drieë: Wade Daivey, Lorenzo Snyers, Johnré Jefthas. Doelskop: Wade Daivey. Hoërskool Trio 14 – Drieë: Myburgh Jacobs, Jayden Windvogal. Doelskoppe: Windvogel (2).
Witteberg 22 (7) – Drieë: Pieter Nel, Sedwin Gysman, JC van Rhyn. Doelskop: Tshepo Motloung. Strafdoele: Motloung (2). Wesvalia 7 (7) – Drie: Strafdrie.
Ander spanne:
o .16: Hoërskool Middelburg 33, Hoërskool Nelspruit 17; Trio 22, Hoërskool Rustenburg 20; Witteberg 14, Wesvalia 5.
o .15: Hoërskool Nelspruit 31, Hoërskool Middelburg 0; Trio 16, Hoërskool Rustenburg 14; Wesvalia 21, Witteberg 5.
o .14: Hoërskool Middelburg 22, Hoërskool Nelspruit 7; Trio 19, Hoërskool Rustenburg 16; Wesvalia 14, Witterberg 0.
Ander eerstespan-uitslae:
Marais Viljoen 24, Transvalia 15.
Kempton Park 33, Montana 27.