SuperSport Schools Plus

Randburg se Le Grange skop seisoen af met stewige vertonings tydens Egoli-byeenkoms

By Hannes Nienaber , in Athletics | News , at 2023-09-21 Tags: , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Die Hoërskool Randburg se Mignon la Grange het haar atletiekseisoen met twee stewige vertonings tydens die eerste Egoli-byeenkoms in die UJ-stadion in Johannesburg afgeskop.

La Grange het met haar vertonings in die gewigstoot en diskus vir meisies o.17 die twee beste vertonings deur ‘n meisie op die byeenkoms gelewer.

Sy het in die gewigstoot losgetrek en die ysterbal op 15.85m laat grondvat. Dit het aan haar ‘n totaal van 961 punte besorg. Renscha van Wyk (Hoërskool Klerksdorp) en Nicole Alberts (Helpmekaar-kollege) het onderskeidelik tweede en derde albei met beste pogings van 13.25m.

La Grange was in die diskus met ‘n poging van 41.97m baas. Dit is nog nie naby haar beste afstand van verlede seisoen van 50.10m tydens die Tuks Top 10 nie, maar nogstans ‘n goeie afstand om die seisoen mee te begin.

Helpmekaar se Keira Pienaar het in die o.16-afdeling vir meisies in die gewigstoot en diskus onderskeidelik met afstande van 13.16m en 38.56m goue medaljes verower.

Randburg se naelloper Chane Vermeulen het ook ‘n uitmuntende byeenkoms beleef deur in die 100m en 200m vir meisies o.17 koning te kraai. Vermeulen het die 100m in 12.16 sekondes afgeblits, terwyl sy in 24.27 sekondes eerste oor die eindstreep in die 200m was.

Haar spanmaat Kaili Botje was in albei nommers kort op haar hakke in onderskeidelik 12.19 sekondes en 24.68 sekondes oor die eindstreep.

Caylen Jenkins van die Hoërskool Noordheuwel, het haar seisoen ook met twee stewige vertonings in die kort- sowel as die lang-hekkies vir meisies o.15 begin.

Sy het goud in die 90m-hekkies in ‘n tyd van 13.63 sekondes verower. In die 300m-hekkies het sy ook geen gelyke in ‘n tyd van 46.11 sekondes gehad nie.

In die 90m-hekkies vir meisies o.14 het Klerksdorp se Kate-Lynn Fourie ook ‘n stewige vertoning gelewer. Sy het dié nommer in 13.75 sekondes gewen om 922 punte op die table te verdien.

Julindi Wilkins ook van Klerksdorp sal ook meer as tevrede met haar vertoning in die spiesgooi vir meisies o.16 voel. Sy het die spies 43.27 meter vêr geslinger.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.