Randburg se Botje en Vermeulen weer kop-aan-kop by Noordheuwel Top 15
Tydens die Noordheuwel Top 15-atletiekbyeenkoms was Hoërskool Randburg se Kaili Botje en Chane Vermeulen kop-aan-kop met die 100 m en 200 m, en albei atlete het ook met nuwe rekords weggestap.
Vermeulen het die 100 m gewen in ‘n rekordtyd van 11.73 sekondes, terwyl Botje kort op haar hakke was met 11.87 sekondes.
Botje het die bordjies verhang in die 200 m, deur ‘n nuwe rekord met 24.05 sekondes op te stel, terwyl haar spanmaat, Vermeulen, tweede geëindig het met ‘n tyd van 24.34 sekondes.
Tebogo Mammathu van Monument het die vorige 200 m-rekord in 2013 opgestel met ‘n tyd van 24.15 sekondes.
Die spanmaats sit hul tweestryd op die baan voort by die Randburg Prestige-byeenkoms, wat Vrydag by die UJ-stadion in Johannesburg aangebied word.
Minke Dekker van Zwartkop het nie net die 3000 m vir dogters o. 15 gewen nie, maar ook ‘n nuwe rekord met ‘n tyd van 09:54.68 opgestel.
Menlopark se Janelle Kirkpatrick spog ook met ‘n nuwe rekord langs haar naam, nadat sy die 90 m-hekkies vir meisies o. 14 met 13.21 sekondes gewen het.
Noordheuwel se Chane Fourie het twee keer die wenstreep oorgesteek en ook ‘n nuwe rekord in die o. 14-meisies se 400 m met ‘n tyd van 0:57.58 behaal, wat ook in 2013 deur Mammathu opgestel is.
Fourie het ook die 200 m met ‘n tyd van 25.55 sekondes gewen.
Tumi Ramokgopa van Prestige College, wat reeds op internasionale vlak deelgeneem het, het weer gewys waarom sy as een van die topatlete beskou word, en het die 100 m vir dogters o. 17 met 13.60 sekondes gewen.
Izandri Jacobs van Montana het haar slag in die 1500 m en 800 m gewys, deur die wedlope met tye van onderskeidelik 04:52.84 en 2:09.27 te wen.
Menlopark se Line de Villiers het die 400 m (0:57.51) en die 800m (2:15.49) gewen in haar o. 15-kategorie.
Hannah Hope Vermaak van Hoërskool Noordheuwel het die 100 m in die o. 17-dogterskategorie met ‘n tyd van 12.09 sekondes gewen. In 2023 het sy die 100 m in ‘n rekordtyd van 11.69 sekondes gehardloop.
Vermaak het ook die 200 m gewen met ‘n tyd van 24.60 sekondes.
Colene Scheepers van Menlopark, rekordhouer van die 400 m wat sy skaars ‘n week gelede by die Interhuis-atletiekbyeenkoms opgestel het, het die 400 m met ‘n tyd van 0:56.23 gewen.