SuperSport Schools Plus

Randburg, Potch Gimmies ewe goed in naelbytstryd, enkele punt genoeg vir Bergsig

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-19 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Randburg op Facebook.

Die afgelope naweek se Bowl-aksie in die SDC Noordvaal Cup het ondersteuners vasgenael gehou.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

In Randburg was daar ‘n wipplank van emosies betrokke met Hoërskool Randburg en die verdedigende kampioen, Potchefstroom Gimnasium, wat uiteindelik met 33-33 gelykop gespeel het.

Dié uitslag behoort die Randburgers effens meer te pas, aangesien hulle reeds vroeg in die kompetisie onder taamlike druk verkeer.

Die besoekers van Potchefstroom was soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke om binne ‘n oogwink reeds met 19-7 voor te loop, met binnesenter, Elrich Bosch, oudergewoonte aan die voorpunt. Bosch het knaend druk op die voordeellyn toegepas met sy kragtige lopies, wat aan hom ‘n tweekuns aan drieë besorg het.

Old School

Die Randburgers het egter, soos ‘n week vantevore teen Hoërskool Dinamika, gewys dat hulle nooit voor die eindfluitjie afgeskryf moet word nie, met buitesenter, Bradley Butcher, en steelkantflank, Philip Rykaart, wat die terugvegpoging gelei het. Rykaart, vir die soveelste keer vanjaar ‘n uitblinker, het in samewerking met vuurvreter-agsteman, Curwin Hill, die platform daargestel vir Butcher en Kie agterlangs.

In Rustenburg het die vreugdevure Saterdag hoog gebrand nadat Bergsig Akademie se buitesenter, Bradley Stonehouse, met ‘n strafdoel in die doodsnikke, ‘n sege voor Merensky Landbou Akademie se neus weggeraap het. Die eindtelling was 18-17 in die tuisspan se guns.

Dit was een van twee suksesvolle pogings pale toe deur Stonehouse, met die Arende wat verwoed moes terugveg om ‘n eerste sege in vanjaar se Bowl-afdeling te beklink. Die besoekers van Tzaneen se kookwater-slot, Craig Walker, en heelagter, George Steenkamp, het elk voor rustyd agter die Arende se doellyn gaan kuier, wat ‘n rustydvoorsprong van 14 punte aan hulle besorg het.

Die tuisspan se losskakel, Carlo de Jager, en regtervleuel, Diale Keabetswe, het egter elkeen gedruk in die tweede helfte, voordat Stonehouse met sy stewel die Plasies se doppie geklink het.

Puntemakers: 

Hoërskool Randburg 33 (19) – Drieë: Diedloff Fourie, Jayden Brown, Philip Rykaart, Bradley Butcher, Josh Wiggett. Doelskoppe: Jayden Todd (2), Wiggett (2). Potchefstroom Gimnasium 33 (26) – Drieë: Elrich Bosch (2), Zandré Da Silva, Matthew Redelinghuys, Rynel Rautenbach. Doelskoppe: Da Silva (4).

Bergsig Akademie 18 (0) – Drieë: Carlo de Jager, Diale Keabetswe. Doelskop: De Jager. Strafdoele: Bradley Stonehouse (2). Merensky Landbou Akademie 17 (14) – Drieë: Craig Walker, George Steenkamp. Doelskoppe: JD Boshoff (2). Strafdoel: Boshoff.

Ander uitslae: 

Jeugland 34, Dinamika 17.

Ander spanne: 

o.16: Randburg 23, Potchefstroom Gimnasium 19; Merensky 26, Bergsig Akademie 6; Dinamika 45, Jeugland 0.

o.15: Potchefstroom Gimnasium 14, Randburg 12; Bergsig Akademie 28, Merensky 21; Dinamika 25, Jeugland 10.

o.14: Potchefstroom Gimnasium 17, Randburg 13; Bergsig Akademie 5, Merensky 0; Dinamika 12, Jeugland 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.