Pure Montana!


Hoërskool Montana het Saterdag sy eerste Noordvaal-titel ooit, sedert die skool se stigting op 7 Januarie 1981, ingepalm, deur die SDC Noordvaal Cup se Skild-titel tuis in Pretoria te verower.
Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Monties het vir Hoërskool Pietersburg met 32-28 in hul laaste wedstryd van die seisoen verslaan. Die tuisspan het die grootsheid van die oomblik, sowel as die luidkeelse ondersteuning van die skare, ten volle benut om binne die eerste 10 minute toe te slaan.
Heelagter, Marq de Villiers, die Monties se vernaamste wapen op die dag, en oopkantflank, Ashton Vorster, het elk gedruk om aan die tuisspan ‘n vroeë en gesonde voorsprong te bied. De Villiers was egter nog nie klaar nie, en het kort voor die rustydfluitjie weer agter die Pieties se doellyn gaan draai. Die agterstand van 7-26 het aan die besoekers ‘n reusetaak in die tweede helfte gelaat.
Die Pieties het nietemin daarop geantwoord deur staatmaker-agtsteman, FC Smith, en woelwater-flank, Andru de Beer, wat elkeen gedruk het. Dit was verál De Beer se drie wat die kat in die duiwehok gegooi het, want nóg ‘n drie deur losskakel, Juan Randall, het die tuisskare op hete kole gehad.
Die man van die oomblik was oplaas plaasvervanger, Jandré Stoltz, wat sy skopskoen aangehad en uiteindelik met twee strafdoele, die wenskoppe, geslaag het om Monties se rekordboeke te herskryf.
In die o.16-eindstryd het die besoekers van Polokwane die knoop deurgehaak en gesorg vir een van die skokseges van die jaar, deur vir ‘n onoorwonne Hoërskool Piet Retief met 35-32 die loef af te steek. Juan Dreyer se tweekuns aan drieë, asook drie strafdoele en drie doelskoppe deur Hanno Kotze, het die grootste aandeel gehad in die Pietersburgers se titelsege.
Piet Retief het nietemin steeds met ‘n titel huiswaarts gekeer. Die afdeling se ander Pieties het ‘n verbroude kans deur Hoërskool Ben Vorster op die einde oorleef om gelykop te speel met 20-20. Volgens die Noordvaal-bepalings het die gelykopuitslag beteken dat die twee spanne die o.15-titel deel.
Monties se jongelinge het die kersie op hul promosie-koek geplaas deur die o.14-titel in Pretoria staanplek te gee. Dié span was met 21-12 baas oor Hoërskool Secunda. Die feit dat hulle die Monties se tweede ligawenners was, het beteken dat die Pretorianers volgende jaar weer in die Plaat-afdeling sal uitdraf.
Puntemakers:
Montana 32 (26) -Drieë: Marq de Villiers (2), Ashton Vorster, Luhan Barnard. Doelskoppe: Rubel Bester (3). Strafdoele: Jandre Stoltz (2). Hoërskool Pieterburg 28 (7) – Drieë: Ludke Pienaar, FC Smith, Andru de Beer, Juan Randall. Doelskoppe: Ryno Mienie (4).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Pietersburg 35, Hoërskool Piet Retief 32.
o.15: Hoërskool Piet Retief 20, Ben Vorster 20.
o.14: Montana 21, Hoërskool Secunda 12.