SuperSport Schools Plus

Pure Adonis

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-04-26

NuusG OakdaleKimberley. – Die rugbyspan van Oakdale-Landbou net buite Riversdal het vanjaar ’n bulspan.

Hy het in die beste wedstryd op die eerste dag van die jaarlikse Wildeklawer-toernooi die gasheer, Diamantveld, met 26-13 getroef.

Hoewel dit nooit gelyk het of die besoekers die wedstryd sou verloor nie, vlei die telling hom tog ietwat.

Twee verdoelde drieë deur onderskeidelik die heelagter Darren Adonis en die vleuel Nicolus van Eeden het die telling aan die einde gerek.

Voor Adonis deur die verdediging geglip het, het Diamonds, danksy ’n doelskop uit die hoekie deur sy losskakel, Gerco Nortjé, die eerste keer die voortou met 13-12 in die wedstryd geneem. Die tuisspan se agtsteman, Johan Joubert, het vanaf ’n lynstaan-rolmaalbeweging vir sy span se enigste drie oorgeval.

Adonis was deurgaans ’n doring in Diamantveld se vlees.

Hy het ’n hele paar keer die tuisspan se verdediging met vinnige voetwerk geklop. Die losskakel, Boeta Hamman, het ook goeie spel agterlangs gelewer.

Voorlangs het die slot Adré Smith en die haker, HP van Schoor, blink vertonings opgedis. Diamonds se kaptein en kantman, Janco Cloete, was oudergewoonte woelig.

■ Grey-kollege van Bloemfontein se heelagter, Dian Gouws, se vaart was sy span se gevaarlikste aanvalswapen teen Waterkloof. Grey-kollege het met 29-3 as oorwinnaars van die veld gestap.

Klofies het in die eerste helfte goeie rekenskap van hulself gegee, maar Grey het amper elke fout wat hulle begaan het uitgebuit deur punte op die telbord te plaas.

Grey se skakelpaar, Rewan Kruger en Mario Vieira, het met goeie aangeewerk toegesien dat hul span die hele tyd ’n hoë tempo handhaaf.

■ Die Hoër Jongenskool Paarl moes bietjie harder werk as wat verwag is vir sy sege van 26-7 oor Louis Botha.

Die span van Bloemfontein het nooit gaan lê nie en deurgaans opwindende rugby gespeel.

■ Afrikaans Hoër van Pretoria kon sy kragmeting met die Wildeklawer XV-tal veel verder as die eindtelling van 50-0 gewen het.

Die span van die Jakarandastad sal egter steeds meer as tevrede met dié oorwinning wees.

Elke speler in die span se agterhoede het ’n draai agter die doellyn gemaak.

Die Wildeklawer-span bestaan uit spelers van Grey-kollege, Jim Fouché en Landboudal van Jacobsdal.

■ Paarl-Gimnasium het gesukkel om deurkomkans te kry teen HTS Middelburg, maar het steeds maklik met 21-3 koning gekraai.

Gimmies het die meeste gebiedsvoordeel geniet, maar kon dit nie altyd in punte omskep nie.

Die span se groot-vleuel Max Thalwitzer gaan vanjaar nog aan heelparty spanne se verdediging probleme besorg.

Benewens die feit dat hy ’n groot seun is, het hy ook hope vaart.

■ ’n Drie deur die versoolde flank, MJ Pelser, kort voor die einde het aan Monument die geleentheid gegun om sy kragmeting met Boland- Landbou met 22-20 te wen.

Monnas se losskakel, Xander Kruger, het dié drie vervyf om die sege te beklink.

’n Meesterskuif deur die span se afrigter, Hans Coetzee – om Pelser van die kant van die skrum na die middelveld te skuif – het ook die span se probleme agterlangs opgelos om oor die voordeellyn te kom.

Monnas se heelagter, Ivan Smit, het met sy dartellopies beïndruk. Boland-Landbou se skrumskakel, Jondré Williams, het vir sy span uitgeblink.

EG Jansen van Boksburg het geen genade aan Glenwood van Durban betoon nie op die eerste dag van die Wildeklawer-toernooi in die Diamantstad.

Die Boksburgers het Glenwood met 33-3 gekarnuffel. Die wenspan se kaptein en slot, Hendré Stassen, was soos gewoonlik aan die voorpunt van sy span se sege. Hy het twee keer die span van Durban se doellyn oorgesteek.

As die span Maandag só omgekrap vir sy wedstryd teen die Hoër Jongenskool Paarl opdaag, beloof dié kragmeting om een van die hoogtepunte van die toernooi te wees.

■ Noord-Kaap se vleuel, Cameron Hufke, het 30 punte in sy span se sege van 40-34 oor Menlopark aangeteken.

Hy het die derde van sy drieë reeds in die eerste helfte – en sy vierde laat in die wedstryd – gedruk. Hy het ook met vyf doelskoppe geslaag.

Menlopark se Suid-Afrikaanse skolespeler, Andell Loubser, was self warm in die skouspelagtigste wedstryd van die dag.

Menlopark se senterpaar, Wayne van der Bank en Stean Pienaar, was ook gevaarlik op die aanval.

Northerns se agtsteman, Gerhard Holtzhausen, het met die bal in die hand heelwat veld vir sy span gewen.

■ Die skopskoen van Manie Libbok het Outeniqua gehelp om Selborne College met 24-22 uit te oorlê.

Die laaste van sy vier strafdoele het die sege vir die Kwaggas van George beklink.

■ Jeppe Boys’ High het op sy rugbyfees ter viering van sy 125ste bestaansjaar Maritzburg College in die doodsnikke, danksy ’n drie deur sy agtsteman, Hacjivah Dayimani, met 21-20 uitgestof.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.