Preview – Griffons vs. Griekwa-platteland
Die Griffons en Griekwa-platteland se o.18-rugbyspanne pak mekaar in die vernaamste voorwedstryd van die hoofwedstryd van vanjaar se Vrystaatse Bondedag. Die Bondedag word op Grey-kollege se veld in Bloemfontein aangebied.
Die vlieënde vleuels van die Perses
Die Griffons se twee vleuels, Nazo Nkala en Jonathan April, is nie ouens wat jy ’n halwe geleentheid kan gun nie, anders gaan kuier hulle agter jou pale.
Albei het al verlede jaar ook die Perses op die Cravenweek verteenwoordig. Nkala het vanjaar reeds sewe keer in sy skoolspan, Welkom-Gimnasium, se vyf ligawedstryde gaan druk. April is ietwat stiller vanjaar as verlede jaar, maar het self vanjaar vyf keer in vyf ligawedstryde die doellyn oorgesteek.
Daar kan dus verwag word dat die Griffons vanjaar die bal hope lug sal gee.
Die Plattelanders is ’n jongspan
Meer as ’n helfte van Griekwa-platteland se span is volgende jaar steeds verkiesbaar om vir die unie op die Cravenweek te verteenwoordig.
Selgs twee spelers die slot Ryno Karstens en stut Sergio Boer was verlede jaar ook vir die span op die Cravenweek in aksie.
Slotte dalk sleutel vir Griekwa-platteland
Die span van die voormalige Noordoos-Kaap (NOK) se twee slotte, Karstens en Cobus Wiese, sal waarskynlik sleutelrolle vir die span vertolk.
Karstens het met sy ondervinding ’n belangrike rol om voorlangs te vertolk. Wiese is vroeër vanjaar in die span van die week tydens die jaarlikse Oakdale Landbou rugbyweek ingesluit. Wiese staan 1.97 m in sy sokkies en weeg 94 kg.
Standvastige Juries
Die Griffons se skrumskakel, Jaywinn Juries, is die speler met die suiwerste aangeë vanuit die oond in die sentrale streek. Op skolevlak in Suid-Afrika is dit slegs Ralton October (Leeus) wat by hom kan kers vashou. Juries, October en die Blou Bulle se Embrose Papier is die vernaamste aanspraakmakers om vanjaar die SA Skole-span se oond skoon te maak.
Die aanvallende Alexander
Met die Perses wat van oor die gevaarlikste vleuels in die land beskik, moet die skeppende vaardighede van die heelagter, Ezrick Alexander, nie weggegooi word nie. Hy het die vermoë om spanne se verdedigings aan flarde te hardloop as hy besluit om ’n teenaanval te loots.
Die spanne is:
Griffons: Ezrick Alexander, Nazo Nkala, Siyamamkela Ngxesha, Boeta Vermaak, Jonathan April, Luan James, Jaywinn Juries, Francois Stemmet, Henry Searle, JP Kalp, Erik Knoetze, Wesley McMaster, Armand van Wyk, Toffie van Zyl, Fanie Vermaak. Plaasvervangers: Nick Fortuin, Neo Mohapi, Niel Janse van Rensburg, Nathan Kemp, Jason Olivier, Kobus Kleyn, Tokkie van Zyl.
Griekwa-platteland: Renaldo Theron, Joe-Lyhten Willemse, Ettiene Kruger, Dillon Magerman, Marcel van der Westhuizen, Coenie Lamprecht, André Share, Rynard Hayes, Erik Jordaan, Dian Dry, Ryno Karstens, Cobus Wiese, Stefan Hanekom, Erlu Jonck, David du Toit. Plaasvervangers: Gert Nel, Sergio Boer, Wynand Terblanche, Garth-Lee Young, Denvil Joseph, Naziem van Wyk, Franco Snyders.
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16