Pretoria Boys’ High sluit seisoen met sege oor Affies af
Welkom terug Paul Anthony!
Pretoria Boys’ High het Saterdag vir die eerste keer in 11 jaar daarin geslaag om die Afrikaanse Hoër Seunskool om ted op. Dit was boonop ‘n klinkende sege van 38-21 by die huis op Brooks-veld.
Die sege sal ‘n soete terugkeer vir Anthony wees na hy laas in 2007 aan stuur van die eerstespan was. Pretoria Boys’ High het die jaar daarna die laaste keer voor Saterdag vir Affies met 34-30 geklop.
Pretoria Boys’ High se rugbyprogram het daarna gesukkel en het in 2015 (3-56) en 2016 (6-67) in opeenvolgende jare sy grootste drag slae nog teen Affies op die lyf geloop. Die Wit Bulle het verlede jaar die septer met 62-20 geswaai.
Daar kan geen twyfel bestaan dat die afsterwe van Ian Visser vroeër in die week ‘n groot impak op die seuns van Affies gehad het nie. Visser, ‘n graad 12-leerling, het Dinsdag sy eie lewe geneem.
Die Wit Bulle se twee afrigters, Jaco Koch en Jan-Hendrik Hattingh, sal bly wees dat die 2019-seisoen nou agter die rug is. Dit was ‘n annus horribilis vir Affies se trots met veral die nederlae teen die Engelse skole soos Westville Boys’ High (31-35) en King Edward VII (29-33) wat uitstaan.
Albei dié nederlae was die eerste keer ooit wat Affies teen die spanne in sy geskiedenis die knie gebuig het.
Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg het self vir ‘n opskudding gesorg en Menlopark van Pretoria met 29-17 verras.
Menlopark wat nie ‘n enkele bonuspunt in die kragmeting bymekaar kon maak nie, sal of vir Monument tydens die laaste ronde die Virsekerbeker se rondomtalie-wedstryde moet verslaan of ‘n gunsie of twee van HTS Middelburg en Noordheuwel kry indien hy tot die uitspeelrondes wil deurdring.
Menlopark beklee tans die vierde posisie op die puntelys met 20 ligapunte. Die Parkies kom volgende week teen Monument te staan wat reeds van sy plek in die uitspeelwedstryd na sy sege van 52-22 oor HTS Middelburg bespreek.
Garsfontein en Helpmekaar is met albei op 31 ligapunte ook reeds seker van hulle plek in die halfeindronde van die reeks. Waterkloof en die Jansies met onderskeidelik 19 en 17 ligapunte kan gedurende die laaste ronde wedstryde vir Menlopark uitskakel.
Klofies moet volgende week na Middelburg reis om teen die Rooi Bulle van HTS Middelburg te staan te kom. EG Jansen is gasheer vir Noordheuwel volgende week. Die Nories kon vanjaar nog slegs een sege in die kompetisie behaal
Garsfontein is op die oomblik die span om te klop in die reeks. Die Turkoois Bere het vir Noordheuwel in Krugersdorp met 68-24 kaf gedraf. Die span van Pretoria het die vorige week ook vir Helpmekaar-kollege die eerste keer sedert 2015 geklop.
Garsies se losskakel, Wikus Basson, het sekerlik sy beste vertoning van die seisoen teen Nories opgedis. Basson het twee van sy span se tien drieë gedruk asook nege daarvan verdoel vir ‘n persoonlike bydra van 28 punte.
Helpmekaar het vir Waterkloof met 36-24 geklop na hy teen die omdraaislag met 12-14 agtergeloop het. Dit was veral Klofies se losskakel, Ian Trollip, wat met uitstaande spel vir Helpies probleme besorg het.
Trollip het twee keer die span van die Goudstad se doellyn oorgesteek. Vir Helpies was Niemand beter as sy slot Keith Whitehead wat die veld vol gespeel het nie.
Grey-kollege het met rukke en stote gevuur in sy oorwinning van 50-27 oor Glenwood in Bloemfontein. Die span van die Rosestad se afrigter, Wessel du Plessis, is duidelik besig om ‘n paar proefnemings te doen voor die span vir Paul Roos Gimnasium sonder sy vyf nasionale skolespelers George Cronjé, André-Hugo Venter, Jan-Hendrik Wessels, Sonwabo Sokoyi en Sisonke Vumazonke moet pak.
Wessels was soos verlede week teen Grey PE uitstaande. Hy het saam met Venter (haker) en Danwich Beukes (slot) voorlangs vir Glenwood fisiek afgetakel.
Agterlangs het Franco Knoetze vanuit die laaste vesting saam met Sokoyi op vleuel baljaar. Dit was egter die flinke hanteerwerk van die binnesenter, Ian Small-Smith, wat agterlangs die meeste beĪndruk het.
Die trofee vir die Griffon-liga sal vanjaar weer staanplek in Welkom kry. Welkom Gimnasium sal teen Goudveld-Hoërskool in die eindstryd van die liga te staan kom.
Gimmies was vernietigend teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in hul halfeindstryd op HT Pelatona-stadion in Welkom. Die span van Welkom het oortuigend met 71-0 as oorwinnaars van die veld gestap.
Rooiskool moes instaan na Witteberg weens ‘n lang beseringslys sy plek in die halfeindronde noodgedwonge moes opgee.
Goudveld het verras deur Voortrekker van Bethlehem met 38-17 die loef afgesteek. Gouties en Welkom Gimnasium het met die seges ook reeds hul plekke in die halfeindronde van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) bespreek.
In die Vrystaat A-liga eindstryd sal die Hoërskool Sentraal en Jim Fouché teen mekaar te staan kom. Tralies het oor te veel skietgoed vir Landboudal van Jacobsdal in die halfeindstryd beskik en met 34-11 as oorwinnaars van die veld gestap.
Jim Fouché is ‘n omgekrapte span die afgelope twee weke. Hy het sy plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege van 56-19 oor Louis Botha bespreek. Die twee spanne het in hul ligawedstryd vroeër vanjaar met 29-elk gelykop gespeel.
Duineveld het in Kimberley vir Diamantveld met 27-23 uitoorlê om vir die tweede agtereenvolgende jaar die Griekwa-kroon te dra. Die Velties sal dan ook Griekwas in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga verteenwoordig.
Soos verwag was daar hope drama tydens die uitspeelwedstryde van Afdeling 2 van die Virsekerbeker. Secunda het in die doodsnikke van sy wedstryd teen die Hoërskool Alberton gaan druk om die eindtelling op 24-elk te staan te bring.
Secunda dring weens die feit dat hulle vier drieë teenoor drie in die kragmeting gedruk het tot die kwarteindronde van die reeks deur.
Ligbron Akademie van Ermelo het ook in die doodsnikke gaan druk om een van die vroeë gunstelinge om die titel Frikkie Meyer op sy tuisveld in Thabazimbi met 38-34 te verslaan.
Die Hoërskool Ermelo asook Wesvalia van Klerksdorp het met naelskraapse seges oor onderskeidelik Randburg (32-32) en Die Anker van Brakpan (31-30) tot die kwarteindronde deurgedring.
Vir die volledige uitslae van Saterdag se skolerugby van regoor Suid-Afrika volg asb die volgende skakels:
School Rugby Results – 27 July 2019
Al die uitslae van die Virsekerbeker – 27 Julie 2019




