SuperSport Schools Plus

Potch is Bowl se halfeind-mekka

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-17 Tags: , , , , , , , , , ,

FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

Alle paaie lei eerskomende naweek na Potchefstroom waar albei die halfeindstryde in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup by die afdeling se voorlopers plaasvind.

Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Potchefstroom Gimnasium het sy plek bo aan die puntelys behou, maar moes klippe kou om naelskraaps vir Bergsig Akademie met 18-17 te troef.

Die Eagles het self vir die halfeindronde gekwalifiseer en moet terugkeer Potch toe om vir Potchefstroom Volkskool aan te durf in die een halfeindstryd. In die ander halfeind, speel die Gimmies gasheer vir ‘n onvoorspelbare Hoërskool Jeugland, wat vir Hoërskool Ermelo met 27-25 verslaan het om sy plek onder die boonste vier te bespreek.

De Wet Grobler was oudergewoonte ‘n uitblinker vir die Gimmies. Grobler, wat op senter uitgedraf het in die plek van die beseerde Elrich Bosch, is vir sy kranige vertoning met een sy span se twee drieë beloon.

Vir die Eagles het regtervleuel, Kiabetswe Daile, die skare by ‘n paar geleenthede laat regop sit. Daile het oorgewals vir ‘n tweekuns aan drieë en dit was dit so hittete of Martin Pelser se span van Rustenburg het vir die Gimmies verras.

In Alberton het die Volkies se voorhoede weer die oorhand geniet. Hulle het voorlangs heelwat spasie geskep vir die gevaarlike agterste driehoek, om uiteindelik vir Hoërskool Dinamika met 32-22 die loef af te steek. Haker, Louis Fourie, het weer gewoel in die vastelos en self twee keer oorgeduik vir drieë danksy die Volkies se dinamiese dryfmale.

Jeugland se voorryman, Phenyo Nkoana, en regtervleuel, Thando Ngome, het elk twee keer gaan druk in hul span se naelbytsege oor Ermelo. Dit was egter heelagter, King Agbanzo, wat uiteindelik met sy stewel die deurslag gegee het. Hoewel dit sy enigste suksesvolle poging pale toe was, het die twee punte danksy Agbanzo se doelskop die verskil tussen wen en verloor beteken, en ‘n plek in die halfeind verseker.

Hoërskool Eldoraigne se afrigters wonder seker steeds waar dié span heel jaar was wat Saterdag vir Merensky Landbou Akademie in Tzaneen met 36-8 oorrompel het.

Die betroubare MC Scheepers en die rooikop vuurvreter, Cameron Killian, het hul laaste uitstappie as Eldos terdeë geniet, vernaam in die vastelos. Scheepers is uiteindelik met twee drieë beloon, terwyl Killian ook agter die doellyn gaan draai het.

Puntemakers: 

Potchefstroom Gimnasium 18 (8) – Drieë: De Wet Grobler, Rea Moalosi. Doelskop: Zandré Da Silva. Strafdoele: Da Silva (2). Bergsig Akademie 17 (5) – Drieë: Keabetswe Daile (2), Martin Pieterse. Doelskop: Carlo de Jager.

Potchefstroom Volkskool 32 (8) – Drieë: Louis Fourie (2), Lethabo Riet, Wian Victor, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (2). Strafdoel: Geldenhuys. Dinamika 22 (10). 

Jeugland 27 – Drieë: Phenyo Nkoana (2), Thando Ngome (2), King Agbanzo. Doelskop: Agbanzo. Hoërskool Ermelo 25.

Eldoraigne 36 (17) – Drieë: MC Scheepers (2), Darren Bruwer, Cameron Kilian, Jean de Villiers, Kevin Earl. Doelskoppe: Damian Elferink (3). Merensky Landbou Akademie 8 (3) – Drie: Marno Nel. Strafdoel: JD Boshoff.

Ander spanne: 

o.16: Bergsig Akademie 38, Potchefstroom Gimnasium 20; Dinamika 18, Potchefstroom Volkskool 5; Merensky 29, Eldoraigne 7; Ermelo 39, Jeugland 12.

o.15: Bergsig Akademie 29 Potchefstroom Gimnasium 19; Dinamika 14, Potchefstroom Volkskool 5; Eldoraigne 31, Merensky 0; Ermelo 52, Jeugland 5.

o.14: Potchefstroom Gimnasium 33, Bergsig Akademie 14; Dinamika 44, Potchefstroom Volkskool 5; Merensky 14, Eldoraigne 0; Jeugland 26, Ermelo 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.