SuperSport Schools Plus

Potch Gimmies wil onoorwonne status behou

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-01-31 Tags: , , , ,

Potchefstroom Gimnasium sal sy onoorwonne status in Afdeling-B van die Finsbury-reeks wil behou, wanneer die span van Noordwes Saterdag teen ‘n selversekerde Hans Moore in Potchefstroom te staan kom.

Kaptein, Tommie Botha, is tot dusver Gimmies se sleutel tot sukes, en het reeds agt paaltjies in die eerste paar rondes laat kantel.

Botha is ewe bedrewe met die kolf, na ‘n indrukwekkende begin teen Hoërskool Montana in ronde een.

Gimmies se draaier, Caiden Seleka, het verlede naweek ook ‘n waarskuwing gerig aan die res van die afdeling. Die alsydige speler het die vloer met die Hoërskool Monument se boulers gevee om ‘n pragtige honderdtal te behaal.

Die aanvangskolwer, James Wood, sal ook ‘n gevaar vir Hansies se boulers inhou. Hy het ook reeds ‘n vyftigtal onder die belt en sy lopietal staan reeds op 107 na twee rondes.

Hans Moore beskik self oor ‘n sterk kolflys en dit gaan interessant wees om te sien hoe die twee teen mekaar opweeg. Hansies se aanvangskolwer, Stephan Vermaak, behoort die toon aan te gee na die suksevolle beurt van 97 waarmee hy die Montana-boulers in die tweede ronde geboelie het.

Adrian Watson sal sy bes probeer om die Gimmie-kolwers op hul tone te hou. Sy vier paaltjies vir slegs 11 lopies teen Montana sou vir seker sy selfvetroue goed gedoen het. Watson is egter nie die enigste bouler waarvoor Gimmies op hul hoede moet wees nie. Brenton Francis sal ook weer sy pond vleis wil eis ten einde ‘n oorwinning vir sy span te verseker.

Hoërskool Kemptonpark reis na Krugersdorp waar hulle teen ‘n sukkelende Hoërskool Monument te staan kom. Kempies se Martin Williams en Warren Pretorius behoort uit te sien na nog ‘n geleentheid om die paaltjies te laat spat.

In die toporde, hou Floors Mynhardt groot gevaar in na sy onoorwonne vyftigtal in die Kempies se oorwinning oor Eldoraigne verlede naweek.

Monument, steeds wenloos in vanjaar se reeks, sal na JD Landsberg kyk vir inspirasie. Landsberg is huidiglik Monnas se voorste lopiemaker en ook ‘n gevaarman met die bal in die hand.

André van Niekerk behoort die aanval te lei en sal graag sy goeie spelpeil met die bal wil voortsit. Hy en Landsberg sal hard spook om Monnas terug op die wenpad te plaas.

Hoërskool Eldoraigne sal Saterdag tuisvoordeel wil benut wanneer hulle teen ‘n jong Montana-span te staan kom. Die Eldo’s se nederlaag teen Kemptonpark het egter hul ritme ietwat versteur.

Johan Broekman het puik vertoon met die kolf teen die Kempies en sal daarop wil voortbou om broodnodige ritme vir sy span te herwin.

Die veelsydige Cameron Welsh sal wil opmaak vir sy teleurstellende vertoning verlede naweek. Hy vorm ‘n belangrike skakel op Eldo’s se kolflys en sal ook die Pretorianers se boulaanval lei.

Montana soek steeds na ‘n eerste oorwinning in vanjaar se kompetisie. Rowan Sweetman, die Monties se aanvangskolwer, is tot dusver sy span se uitblinker. Hy sal sy ervaring en kalmte tafel toe wil bring met die hoop dat sy span vir Eldo’s kan pootjie.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.