Player Profile – Divan Fuller (Paarl Boys’ High)

KLIPHARD en onbuigbaar op die rugbyveld.
Dit is hoe teenstanders vir Divan Fuller, breker-flank van die Hoër Jongenskool Paarl, leer ken het.
Fuller het onlangs besluit om sy loopbaan na skool ook in ‘n Streeptui van Westelike Provinsie voort te sit.
Fuller is vroeër vanjaar na afloop van die Cravenweek in George in die Suid-Afrikaanse Skole-span ingesluit. Hy het reeds verlede jaar die SA Skole A-span verteenwoordig, na hy weens ‘n besering opgetrek is.
Fuller was verlede jaar al as deel van die WP Cravenweek-span gekies, maar kon weens ‘n besering nie aan die toernooi in Kaapstad deelneem nie. Hy het egter soveel potensiaal deur die seisoen gewys dat hy steeds later na die SA A-span opgetrek is.
Die kantman het die Streeptruie vanjaar tot ‘n sege van 29-5 oor die Blou Bulle in die hoofwedstryd in George gehelp.
“Om te teken by die WP is een van daardie dinge waarvan mens nie net kan droom nie, maar letterlik ‘n lewe vir jouself moet insien. Volgende jaar het ek die geleentheid om rugby te speel en op dieselfde tyd te kan studeer,” het Fuller gesê.
Fuller gaan ‘n aanlynkursus in B.Com Besigheidsbestuur studeer.
Boishaai se groot bekragtiger het al in 2019 skolerugby-liefhebbers se aandag gevang toe ‘n video begin sirkuleer van ‘n enorme duikslag teen Monument op o.14-vlak tydens die Kwagga-week in George. Dié video het sover as Australië, Kanada en in Amerika opslae gemaak en is al meer as 2 miljoen keer gekyk.
Skielik was almal se oë op die 14-jarige Divan Fuller.
“2019 se video het ‘n definitiewe impak op my lewe gehad. Veral as mens nog so jonk is, jou voete probeer vind en vir jouself nog ‘n naam moet maak, dan is iets soos dit natuurlik nie alledaags nie; jy word gekenmerk deur sulke oomblikke in die lewe.”
Ons het vir hom ook gevra of hy die gebruik van tegnologie en die media se dekking van skolerugby as ‘n positiewe aspek sien.
“Die “exposure” wat vandag op skoolvlak beskikbaar is dink ek is positief. Tegnologie van SuperSport Schools is na aan profesionele rugby en dit skep ‘n hele nuwe vlak waar jy leer hoe om druk te hanteer en dit berei jou voor en maak jou bewus van wat om te verwag in ‘n senior rugby-omgewing. Al hierdie dinge leer jou hoe om druk te hanteer in alledaagse lewe. Dit is ‘n persoonlike besluit, wat jy daarmee maak en hoe jy kies om dit te hanteer.”
Fuller vertel dat vir so lank as wat hy kan onthou het sy gesin Saterdae saam spandeer deur om rugby te kyk met ‘n lekker braai aan die gang en familie raakrugby of grasperk-krieket en mens kan hoor hoeveel sy naaste-familie bygedra het tot sy ontwikkeling.
“As ek moet dink aan ‘n oomblik waar rugby vir my betekenis gekry het onthou ek my boetie op die veld, en klein Divan wat hom probeer na-aap. Ons het altyd kragte gemeet in die agterplaas, my boetie (Anton) en sussie (Carli) was ook kapteine van hul skool se eerstespanne en is, soos ek, lief vir atletiek. My pa, Johan, het ook Cravenweek gespeel en was SA kampioen in hekkies en my ma is ons almal se grootste “cheerleader”. Ek is ‘n groot familie man en ek is baie gelukig om ‘n familie soos myne te hê. Ek sou sê sport is definitief in ons bloed.”
Fuller het op ‘n jong ouderdom, by Laerskool Saamtrek in Klerksdorp, saam met die ouer kinders rugby gespeel. Hy het toe die skuif gemaak na Boishaai, waar hy die geleentheid gegun is om sy drome in ‘n realiteit te omskep.
“Om deel te wees van ‘n skool soos Boishaai maak dit moontlik om te glo in ‘n suksesvolle rugbyloopbaan, met soveel groot name om na op te kyk. Booshaaiers se nederigheid en gewilligheid om ander te help is van die eerste dinge wat ek by die skool ervaar het.”
Gevra oor van die spelers na wie hy opkyk is die eerste name wat opkom die van die oud-Boishaaier Evan Roos vir sy aanvallende spel en Pieter-Steph du Toit vir sy werksetiek. Hy noem ook die Stormers se Salmaan Moerat se toewyding, die Nieu-Seelanders, Dalton Papalii vir sy verdedigende spel asook Ardie Savea vir sy agressie, en Duane Vermeulen vir sy leierskapvaardighede.
Verlede jaar was Fuller deel van die Boishaai span wat die groot jaarlikse wedstryd teen hul aardsvyande, Paarl Gim, met 26-24 kon wen. Hy is vol selfvertroue dat hulle hierdie jaar weer daardie sukses kan herhaal.
“Interskole kan mens nie vergelyk met enige ander wedstryd nie want dit is iets heeltemal anders, daar is nie woorde om dit te beskryf nie. Ek sou sê dit berei mens goed voor vir die druk wat mens op SA skole vlak beleef. Mens hanteer hierdie bepaling elke jaar anders, ek het volle vertroue in my span en weet dat ons aan die wenkant sal staan.”
Fuller het duidelik ‘n uiters volwasse, positiewe uitkyk op die lewe, selfs na sy eie terugslae, wat hom in staat stel om die verwagtings te hanteer.
“Enige druk wat mens ervaar is positiewe druk, want mens is in die bevoorregte posisie om dit te kan ervaar in die eerste plek. Ek is baie dankbaar om te kan sê dat ek die beste “support-system” het en besef dat dit nie vir almal die geval is nie. Enige besering is baie sleg en sal nooit op ‘n gepaste tyd gebeur nie. Dit help jou wel om harder te werk en te groei.”
“Dit hou mens ook gegrond in die feit dat mens die geleentheid om te kan speel moet waardeer want dit kan enige tyd weggevat word. Al is dit partykeer moeilik om te kop dat ‘n besering (soos verlede jaar) gebeur probeer ek myself net herhinder dat die Here ‘n plan met my lewe het en lankal reeds my pad vorentoe ken,” het Fuller gesê.
This video was first published by School of Rugby, who are now part of SuperSport Schools on their Facebook Page which made it go viral. Back in 2019 School of Rugby was part of DigiTV – who streamed the Kwagga Week in 2019.