Plasies, Volkies steeds op koers in Bowl-wedloop


Merensky Landbou Akademie het die eerste hekkie, in sy strewe om ‘n plek in die halfeindronde van SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling los te slaan, gemaklik oorkom.
Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Plasies het tuis in Tzaneen ‘n allemintige nege keer agter die besoekende Hoërskool Ermelo se doellyn gaan kuier vir ‘n wegholsege van 57-8, en volpunte op die puntelys.
Hulle het reeds in die eerste helfte die grootste skade aangerig, met die blitsige buitesenter, Jens Bezuidenhout, wat twee keer gedruk het vir die tuisspan om ‘n stewige voorsprong van 47-0 met die omdraaislag te geniet. Die grondslag vir Plasies se drieëfees is deur die agttal gelê, met vernaam die twee voorrymanne, Marno Nel (haker) en Otto Muller, wat die besoekers laat kreun het onder hul fisieke aanslag.
Agterlangs het binnesenter, Henru Venter, sy geleentheid in die beginspan aangegryp en vir Bezuidenhout goed bygestaan met slim aanvalslyne. Venter het in die plek gespeel van die Plasies se beseerde kaptein, Maritz Meintjies, wat moontlik aanstaande week gereed sal wees om sy plek weer in te neem.
Potchefstroom Gimnasium het ‘n noue ontkoming in Alberton oorleef danksy losskakel, Zandré Da Silva, se akkurate korrelwerk. Da Silva het, met sowat 30 sekondes oor, koelkop gebly om ‘n naelskraapse sege van 27-24 oor ‘n begeesterde Hoërskool Dinamika te beklink.
Vir die tuisspan was heelagter, Zavian Mathys, deurentyd gevaarlik. Mathys se dodelike aanvalle van agter het aan hom twee drieë besorg, wat Dinamika tot op die laaste nippertjie in die wedloop teen die verdedigende kampioen en vanjaar se Bowl-voorloper gehou het.
Die driepunt-sege beteken dat die Gimmies die pylvak van die 2025-reeks steeds onoorwonne binnegaan.
Die Gimmies se bure, Potchefstroom Volkskool, het ook sy kanse om die halfeindronde te haal lewendig gehou. Die Volkies het uiteindelik met 36-26 teen Hoërskool Randburg koning gekraai, met die slotpaar, Joshua van der Westhuizen en Caden Keuger, wat voorlangs uitgetroon het.
In Kempton Park het Hoërskool Jeugland se haker, Lesego Moitse, drie keer oorgebars om vir Bergsig Akademie met 39-32 kous oor die kop terug Rustenburg toe te stuur.
Dit was van meet af aan duidelik dat dié kragmeting uiters gelykop sou verloop met die spanne wat uitstekend teen mekaar opgeweeg het. Met die rustydtelling 15-15 was daar inderdaad niks te kies tussen die spanne nie, en was dit uiteindelik Moitse se driekuns wat die dooiepunt sou breek.
Puntemakers:
Merensky Landbou Akademie 57 (47) – Drieë: Jens Bezuidenhout (2), Marno Nel, Otto Muller, Craig Walker, Jan Pretorius, Henru Venter, Christo Venter, George Steenkamp. Doelskoppe: JD Boshoff (6). Hoërskool Ermelo 8 (0) – Drie: Dick Rouillard. Strafdoel: WJ Pretorius.
Potchefstroom Gimnasium 27 – Drieë: De Wet Grobler, Kobus Grobelaar, Dirk Stear, Strafdrie. Doelskoppe: Zandré Da Silva (2). Strafdoel: Da Silva. Dinamika 24 – Drieë: Zavian Mathys (2), Shane Serfontein. Doelskoppe: Caiden van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe.
Potchefstroom Volkskool 36 (15) – Drieë: Louis Fourie (2), Juan Fourie, AB Brink, Hennie Pretorius, Lourenzo Louw. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (3). Hoërskool Randburg 26 (0).
Jeugland 39 (15) – Drieë: Lesego Moitse (3), Zaydene Adams, Thando Ngomane, Beya Nyathi. Doelskoppe: Nyathi (2), Kokets Maphopha. Strafdoel: Maphopa. Bergsig Akademie 32 (15) – Drieë: Carlo de Jager (2), Keabetswe Daile (2), Marnus Dercksen. Doelskoppe: Alzandro Dos Santos. Strafdoel: Dos Santos.
Ander spanne:
o.16: Merensky 66, Ermelo 5; Dinamika 37, Potchefstroom Gimnasium 26; Potchefstroom Volkskool 22, Randburg 9; Bergsig 16, Jeugland 7.
o.15: Merensky 24, Ermelo 12; Dinamika 24, Potchefstroom Gimnasium 7; Potchefstroom Volkskool 13, Randburg 7; Bergsig 17, Jeugland 5.
o.14: Ermelo 8, Merensky 7; Potchefstroom Gimnasium 10, Dinamika 5; Randburg 22, Potchefstroom Volkskool 19; Jeugland 31, Bergsig 7.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




