SuperSport Schools Plus

Plafon-bedrag nodig vir skolespelers

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-30

Die Suid-Afrikaanse rugbymark gaan eersdaags nog verder onder skoot kom.
 
En ek praat nie van die druk wat oorsese klubs met hul sterker ponde, euros en jens op die mark plaas nie.
 
Dit is die unies wat besig is om hulself in die voet te skiet. Verskeie unies het vanjaar behoorlik hul tjekboeke die praatwerk laat doen in ’n poging om talentvolle skolespelers te lok.
 
Geen skolespeler is al ooit so gejaag en met sulke reuse-bedrae genader soos die losskakel van Grey PE en die Oostelike Provinsie, Curwin Bosch, nie. Hy is deur vier unies kontrakte aangebied wat meer as R300 000 per jaar beloop, met minstens twee daarvan selfs meer as R600 000.
 
Die Sharks, die Blou Bulle, Cheetahs én die Kings wou hom graag hê.
 
Geen woord is nog gerep oor waar hy sy rugby voortaan gaan speel nie.
 
Die ysterflank van Griekwas-platteland en die Hoërskool Upington, Cobus Wiese, gaan ook glo sy rugbyloopbaan vir R300 000 in die Westelike Provinsie voortsit.
 
Dié probleem hiermee is dat senior professionele spelers nou sal voel hulle is ook meer werd as wat hulle op die oomblik verdien.
 
Dit kan die rugbymark in die land ’n reuse-knou gee.
 
Dit kan ook veroorsaak dat nog meer gevestigde senior spelers eerder hul heil in die buiteland sal gaan soek.
 
Dit het dalk tyd geword dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n plafonbedrag bepaal vir die werwing van veral skolespelers.
 
Bosch sal byvoorbeeld in sy eerste maand as beroepspeler meer verdien as waarna die meeste gegradueerde mense in Suid-Afrika kan uitsien.
 
Die huidige stelsel laat ook nie veel ruimte vir spelers wat dalk later ontwikkel nie.
 
Saru se beamptes maak jaarliks by die onthale op nasionale skoletoernooie melding van die belangrike rol wat skolerugby en veral die onderwysers wat dit bestuur in die sukses van die Springbokke speel. Dit is hoogtyd dat hulle dié produk van die begin af beskerm.
 
Nog ’n probleem met die kontraktering van skolespelers, is die feit dat agente eers kommissie verdien as ’n speler R100 000 of meer deur ’n unie aangebied word.
 
Dit gebeur dus dat agente spelers wat dalk R80 000 werd is se markwaarde verhoog om ’n kommissie te verdien.
 
So betaal unies meer vir skolespelers as wat hulle werd is en word geld gemors. Dit veroorsaak dat unies spelers wat dalk minder werd is nie kan kontrakteer nie.
 
Die geld wat op hulle spandeer kon word, beland in die sakke van spelers met agente.
 
Unies sal byvoorbeeld nie ná drie jaar ’n duur speler eenkant toe skuif as hulle só ’n groot hoop geld in hom belê het nie – al is die man wat hom kan vervang beter.
 
Op dié manier gaan heelwat van die land se rugbytalent jaarliks verlore.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.