Plaat op die spel in tweede Middelburg-derby van die jaar


Die tweede Middelburg-derby van 2025 het aansienlik meer op die spel as die vorige keer, sowat drie maande gelede, toe dié twee plaaslike skole mekaar gepak het.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die gesogte titel van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling is Saterdagmiddag op die spel wanneer HTS Middelburg sy titel verdedig teen die naburige Hoërskool Middelburg.
Indien die Rooi Bulle hul kroon suksesvol kan verdedig, sal dit breier, Jano Venter, se tweede titel wees sedert hy by die Rooies begin afrig het. Wat die moontlike prestasie meer spesiaal sal maak, is die feit dat Venter eers aan die einde van 2023 by die span van Middelburg aangesluit het, wat beteken dat hy in sy eerste twee jaar moontlik reeds met twee titels kan spog.
Die Rooi Bulle is die verdedigende kampioen aangesien hulle verlede jaar die louere met Hoërskool Transvalia gedeel het (24-24). Vir die Middies is dit die eerste keer sedert 2022 dat hulle in ‘n eindstryd van dié afdeling betrokke is, nadat hulle drie jaar gelede met 17-23 teen Hoërskool Nelspruit vasgeval het.
Die Middies het die daaropvolgende paar seisoene elke slag die halfeindstryd gehaal, maar kon net nie deurdring eindstryd toe nie. Dit was juis die Rooi Bulle wat hulle verlede jaar tuis met 22-17 uitgeskakel het, nadat hulle vroeër die jaar ook met 31-24 in die jaarlikse derby koning gekraai het.
Vanjaar was Middelburg egter al reeds ‘n slag groen geverf. Die Middies het die bordjies verhang deur in die rondomtalie-wedstryd met 16-11 op HTS se tuisveld die pyp te rook. Dit neem ‘n mate van die giftigheid weg wat tuisveldvoordeel bied.
Sedert sy terugkeer na ‘n gebreekte been, het die Rooi Bulle se kaptein, Johnny Dos Santos, binnesenter vir losskakel verruil vir die laaste drie wedstryde, en sy tweestryd met die Middies se generaal, Matthew Abbey, kan straks deurslaggewend wees. Abbey was die argitek van die Middies se skoksege oor Hoërskool Zwartkop in Centurion, met skrumskakel, Keabetswe Nkgadima, wat ook uitstekende diens gelewer het.
Abbey moet Saterdag egter sonder kaptein, Lungelo Maseko, op binnesenter klaarkom. Maseko loop die eindstryd mis weens ‘n rooi kaart in die halfeindstryd teen die Zwarries. Buitesenter, Jaco Truter, skuif oor binnesenter toe, met Lesego Rakale, normaalweg vleuel, wat in die nr 13-trui opdraf.
Vir die tuisspan maak die gevaarlike Jacques Greyling sy terugkeer, maar op regtervleuel in plaas van buitesenter, terwyl Nathan Jansen van Vuuren en Reynhardt Snyeders die middeveld beman.
Voorlangs het die Middies drie staatmakers terug in die vorm van slot, Wian Olwagen, nóg ‘n uitblinker in die sege oor die Zwarries, en CW Hanekom en Hencoe Janse van Rensburg wat weer gaan jag maak op die losbal.
Die spanne:
HTS Middelburg t. Hoërskool Middelburg om 13:30 in Middelburg
HTS Middelburg: 15 Wynand Cronje, 14 Jacques Greyling, 13 Reynhardt Sneyders, 12 Nathan Janse van Vuuren, 11 CJ Muller, 10 Johnny Dos Santos, 9 Danté Lubbe, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan Kock, 6 Argu Kruger, 5 Andrea De Wet, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terblanche, 1 Janco Botha.
Hoërskool Middelburg: 15 Buhle Mphahlaza, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Lesego Rakale, 12 Jaco Truter, 11 Bulelani Mcira, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Hencoe Janse van Rensburg, 7 Jabu Mathebula, 6 CW Hanekom, 5 Jeandré Potgieter, 4 André Robberts, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.
Skeidsregters: Shemea Ndlovu (Pumas)
Ander spanne:
o.16 – 11:20 – Hoërskool Middelburg t. Oos-Moot.
o.15 – 10:10 – Oos-Moot t. Hoërskool Zwartkop.
o.14 – 09:00 – Wesvalia t. Hoërskool Kempton Park.