FOTO: Pietie Paparazzi/Hoërskool Pietersburg op Facebook.
Die rugbydors in die Noordvaal sal eerskomende naweek met ‘n vroeë aanslag van groot ontmoetings, beklemtoon deur die stryd tussen ‘n ervare Hoërskool Pietersburg en Potchefstroom Volkskool, geles word.
Die twee sal in hul onderskeie eerste uitstappies van die jaar in die hoofstad van Limpopo, Polokwane, slaags wees.
Dit is die perfekte vertoonvenster vir wat verder in vanjaar se NWU Prestige Sport-reeks op die spyskaart sal wees. Die Prestige-reeks, wat verlede jaar uiteindelik deur eendewéér beslis is, skop Saterdag, 7 Maart, op verskeie plekke noord van die Vaalrivier af.
Die onderskeie 16 spanne in vanjaar se reeks sal weer in vier poele van vier spanne elk meeding. Die Pieties en Volkies is die eerstes wat in Poel 3 uitdraf, ‘n stryd tussen die 2025 Noordvaal Cup se Skild-naaswenners en Bowl-kampioen vanuit Potchefstroom.
In Poel 4 sal die gevaarlike Hoërskool Lichtenburg, steeds onder leiding van oud-Leeu-skrumskakel Michael Bondesio, met Corneel van Dyk en sy span van Marais Viljoen swaarde kruis. Van Dyk neem vanjaar die leisels as hoofafrigter van die Albertonse span oor.
Die skietgoed tot die Pieties se beskikking maak hom vanjaar weer ‘n gevaar, nie net in die provinsie nie, maar ook in die toekomstige reekse in die Noordvaal. Die span van Polokwane sal deur vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, aangevoer word.
Jansen van Rensburg het reeds in 2025 die Limpopo Blou Bulle by die Cravenweek in Middelburg verteenwoordig, waarna hy ook die enigste speler uit die provinsie geword het om die unie by SA Rugby se o.17 hoëprestasie-kamp te verteenwoordig. Haker, Zhian Lombaard, en loskopstut, Krissie Swanepoel, sal albei saam met Jansen van Rensburg in die voorry terugkeer.
Staatmaker-slot Ludke Pienaar sak agter die trio vir ‘n tweede jaar. Dit is juis om dié rede dat die span se hoofafrigter, Corstiaan Vermaak, meen dat sy span se krag heel moontlik voorlangs sal lê vanjaar. Hoewel daar oor ‘n sterk pak beskik word, is die agterhoede ook besaai met ondervinding.
Skerpskut-heelagter Ryno Mienie is ook weer op sy pos, terwyl losskakel, Juan Randall, weer die toutjies sal trek. Randall sal ook as Jansen van Rensburg se regterhand, as onderkaptein, dien.
Die tuisspan se verdediging sal op sy beurt, behoorlik getoets word. Die gevaarlike duo, River Samuel en Lethabo Riet, twee uitblinkers in 2025 maak albei weer hul verskeining vanjaar. Riet sal op buitesenter uitdraf, terwyl Samuel vir hom spasie op binnesenter sal skep.
Marais Viljoen sal met ‘n jong span na Lichtenburg reis. Slegs ses van die 23 wat Saterdag in aksie sal wees, het in 2025 vir die span van Alberton uitgedraf. Nietemin is die skietgoed van heelagter, Kabelo Thloaele, en buitesenter, Devin Raubenheimer, steeds in die agterhoede se arsenaal.
Thloaele se tweestryd met die Liggies se speler van die wedstryd in hul opwarmingswedstryd teen Hoërskool Sentraal verlede week, linkervleuel Karabelo Kgamanyane, sal vir aanskoulike hardlooprugby agterlangs sorg.
Voorlangs sal dit slot Dean Scheepers wees wat die pap dik sal moet aanmaak vir die besoekers. George Bingudzu, wat vir ‘n wyle in 2025 op slot uitgedraf het, sal die tuisspan se staatmaker onder die pak wees. Bingudzu draf vanjaar op steelkantflank uit.
Die spanne is:
Hoërskool Pietersburg t. Potchefstroom Volkskool om 12:30 in Polokwane:
Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Juan Dreyer, 12 Hanru Marais, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Curtis Cloete, 8 Henco Venter, 7 Ignus Ferreira, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Zhian Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.
Potchefstroom Volkskool: 15 Carlo van der Merwe, 14 Christiaan Gouws, 13 Lethabo Riet, 12 River Samuel, 11 JC Menezies, 10 Kyle Hattingh, 9 Jaco Steenkamp, 8 Johannes Lombard, 7 Jannie de Wet, 6 Wian Victor, 5 Nolan Roets, 4 Albert Odendaal, 3 Michael Rochat, 2 Peet Fourie, 1 AB Brink.
Hoërskool Lichtenburg t. Marais Viljoen om op Lichtenburg:
Lichtenburg: 15 Ruben Lee Swartz, 14 Thato Seabo, 13 WJ Liebenberg, 12 Hanjo Nieuwoudt, 11 Karabelo Kgamanyane, 10 Waylon Savage, 9 Rea Motshusi, 8 Tydian Williams, 7 George Bingudzu, 6 Michuel Goncalves, 5 Jaco Wessels, 4 Nicolas Janse van Rensburg, 3 David Passetti, 2 Johan Deyzel, 1 Ruben Pretorius.
Marais Viljoen: 15 Kabelo Thloaele, 14 Zanru Olivier, 13 Devin Raubenheimer, 12 Danté Crous, 11 Nqoba Mathe, 10 Ovayo Jonas, 9 Ghian van der Vyver, 8 Joshua O’Brien, 7 George Mazhindu, 6 Thato Mapuru, 5 UK Mahlehlo, 4 Dean Scheepers, 3 Ondi Njili, 2 Frikkie Horn, 1 Caden Sheasby.
Franco is a sports fanatic from Tzaneen, a small town in Limpopo. Obsessed with both cricket and rugby, he still does the sport at club level when given the chance. Combining the rush of sports with his other passion, writing, gives him the fix any sport-crazy fan needs. In his spare time, he spends quality time with family and friends, preferably around a braaivleis fire.