SuperSport Schools Plus

Pietersen piets Parkies, Helpies karnuffel Klofies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-15 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Tap Light Edits.

“Die Dokter van Boksburg” het duidelik vir heelagter, Deshean Pietersen, ‘n stewige dosis driedruk-stroop voorgskryf.

Herleef al die Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die heelagter van Hoërskool Dr EG Jansen was in een van sy vernietigende buie en het drie keer deurgewals vir drieë in die Jansies se sege van 34-22 oor Die Hoërskool Menlopark in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup.

Pietersen het na ‘n strawwe eerste 18 minute van die wedstryd vir die eerste keer sy venynige voetwerk tentoongestel, waarna, hy nie té lank gewag het om die Parkies weer met ‘n stukkie puik individuele spel te looi vir sy tweede drie nie.

Die Pretorianers het egter geweier om bes te gee  en kort voor die rustydfluitjie teruggekap. Die dryfmaalbeweging was vir die soveelste keer vanjaar hul grootste wapen en het vir agsteman, Ruan Strydom, in staat gestel om die Jansies met twee drieë van sy eie te kasty.

Agterlangs het die stryd behoorlik vlamgevat. Benewens Pietersen se uitstaande vertoning op die aanval, het die Jansies se binnesenter, Nathan Delport en regtervleuel, Otlatleng Zulu, ook telkens die Parkies na lug laat gryp. Zulu het, vanaf die afskop ná Delport se kuier agter die doellyn, gaan afrond vir die drie van die dag.

Die Parkies se binnesenter, Dylan Stumke, was self ‘n uitblinker in die middeveld en het onder druk dikwels die besoekers op die voorvoet probeer plaas met sy kranige lopies. Oopkantflank, Nathen du Plessis, verdien ook ‘n klop op die skouer en was oudergewoonte ‘n doring in die los.

Pietersen se derde drie, kort voor die eindfluitjie, het egter die uitklophou toegedien en ‘n derde sege vir die Jansies in vanjaar se reeks verseker.

In Johannesburg het Helpmekaar Kollege se onbesonge held, steelkantflank, Zaiden Krige, die span in bruin se aanslag gelei. Krige het twee keer agter die doellyn van Hoërskool Waterkloof gaan draai in sy span se sege van 52-43.

Albei spanne het die skare wat na die Helpies se tuisveld opgeruk het, met aanskoulike hardlooprugby beloon.

Die tweede helfte het ‘n gesamentlike totaal van 59 punte opgelewer, nadat die Helpies met slegs ‘n twee-punt buffer (19-17) rustyd binnegegaan het. Francois Tonkin, terug op linkervleuel, het die spasie aan die buitekant terdeë geniet en, nes Krige, ook twee keer gedruk, terwyl binnesenter, Ethan Lourens, weer gewys het hoekom hy een van die Helpies is wat die Johannesburgers se fakkel by die Cravenweek in Middelburg gaan dra.

Vir die Klofies het vuurvreter-agsteman, Marko Kok, weer uitgetroon. Kok, ‘n bekende baldraer in die Noordvaal-kompetisie, het telkens die eerste verdediger met brute krag geklop. Oopkanflank, Divan Botha, het ook moedig probeer om die Klofies in die wedloop te hou, terwyl losskakel en kaptein, Ronan Bastiaanse, persoonlik 18 punte bygedra het.

Dit was egter nie genoeg om die Helpies se kliniese afronding en vermoë om die Klofies se foute in punte te omskep, af te weer nie.

Puntemakers: 

EG Jansen 34 (12) – Drieë: Deshean Pietersen (3), Nathan Delport, Zulu Otlatleng. Doelskoppe: Dian Botha (3). Strafdoel: Botha. Menlopark 22 (17) – Drieë: Ruan Strydom (2), Tiaan Boshoff, Ruvan van Aardt. Doelskop: Dylan Stumke.

Helpmekaar Kollege 52 (19) – Drieë: Zaiden Krige (2), Francois Tonkin (2), Xander van Niekerk, Liam Devenier, Ethan Lourens, Kean Butler. Doelskoppe: Wian Storm (6). Waterkloof 43 (17) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Ross Adams, Divan Botha, Marko Kok, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (5). Strafdoel: Bastiaanse.

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 50, EG Jansen 19; Helpmekaar 40, Waterkloof 27.

o.15: EG Jansen 27, Menlopark 22; Helpmekaar 28, Waterkloof 11.

o.14: EG Jansen 34, Menlopark 7; Helpmekaar 40, Waterkloof 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.