Pieters-pragbeurt handhaaf Kempies se onoorwonne status
 Wian Pieters se uitmuntende beurt van 124 lopies teen Hoërskool Montana, het Hoërskool Kemptonpark se onoorwonne status in Afdeling B van die Finsbury-reeks gewaarborg.
Wian Pieters se uitmuntende beurt van 124 lopies teen Hoërskool Montana, het Hoërskool Kemptonpark se onoorwonne status in Afdeling B van die Finsbury-reeks gewaarborg.
Pieters het slegs 141 aflewerings nodig gehad om sy spogtotaal op te stel. Sheldon Kruger het goeie ondersteuning gebied met 78 lopies van sy eie. Die twee het uitstekend vir ‘n vennootskap van 171 lopies gekombineer om vir Kempies behoorlik op die voorvoet te plaas.
Joshua Shanker het sy goeie spelpeil voortgesit om verdere sout in die Monties se wonde te smeer, met ‘n bruikbare 56 lopies.
Die Monties se jong kolforde het nietemin hul beste vertoning van die reeks gelewer. Luhan Theunissen het met 44 lopies die toon aangegee, terwyl Marco Rudolph (40) en Juan Theunissen (34) ook bedrewe bydraes gelewer het.
Pieters kon egter nie ‘n voet verkeerd sit nie en het ook met die bal ook uitgeblink. Hy het drie paaltjies vir 30 lopies laat spat, terwyl Kempies se voorste bouler, Martin Williams, ook weer sy vaardighede tentoongestel het om syfers van drie paaltjies vir slegs 17 lopies te behaal.
Floors Mynhardt het ‘n verdere twee paaltjies laat kantel om die Monties tot slegs 171 lopies te beperk. Dit het ‘n gemaklike oorwinning van 131 lopies vir die Kempies verseker.
Hoërskool Hans Moore het hulle reeks met ‘n oorwinning van 29 lopies teen Hoërskool Monument afgesluit. Die Hansies het weereens ‘n goed afgeronde kolfvertoning gelewer, met Adrian Watson wat ‘n indrukwekkende 64 lopies gemoker het en die kaptein, Warren Minnaar, wat van voor gelei het nog 40 lopies op sy kerfstok.
Verdere bydraes deur Kenan Shaw (27) en Aiden Shaw (27) het die Hansies tot ‘n goeie telling van 237/9 in hul toegelate 50 beurte gelei.
Monument, die span wat die meeste verbetering deur die reeks getoon het, se Werner Durrheim het met die bal uitgestaan. Hy kon met twee paaltjies vir 28 lopies spog, terwyl Andre van Niekerk sy reeks met 2/34 afgesluit het.
Met die kolf was dit Monnas se Rieghardt Prinsloo wat die voortou geneem het met ‘n indrukwekkende 64 lopies, terwyl Nicholas van der Colff (27) en Caleb dos Santos (24) die nodige ondersteuning gebied het.
Dit was egter nie genoeg om ‘n nederlaag af te weer nie. Adrian Watson se vyftal paaltjies vir 46 lopies en Henre Everleigh se 2/27 het Monnas beperk tot ‘n telling van 208 voordat die laaste paaltjie geval het.
Hoërskool Eldoraigne het hul reeks op ‘n hoogtepunt afgesluit deur vir Potchefstroom Gimnasium gemaklik met nege paaltjies te klop.
Ryno Redelinghuys was die Eldo’s se vernietigendste bouler met drie paaltjies vir 17 lopies, terwyl Daniel Steyn (3/20) en Ruhan Oliphant (2/14) ook hul deel bygedra het.
Wat die Gimmie-kolflys betref was daar weinig om oor huis toe te skryf. James Wood het hard gespook om sy span se hoogste telling van 12 lopies aan te teken, maar uiteindelik kon Gimmies slegs ‘n skamele totaal van 67 lopies bereik.
Eldoraigne se Kyle de Bruin het het geen tyd gemors om 43 lopies van net 19 aflewerings te moker nie, terwyl Ryno Mulder oorkant hom ook die telbord aan die gang gehou het met 21 lopies van 27 balle om die Eldo’s gemaklik oor die wenstreep te help.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Kemptonpark: 302/4 (Wian Pieters 124, Sheldon Kruger 78, Joshua Shanker 56; Hanu van Heerden 1/31). Hoërskool Montana: 171 (Luhan Theunissen 44, Marco Rudolph 40, Juan Theunissen 34, Schalk van Jaarsveld 21; Martin Williams 3/17, Wian Pieters 3/30, Floors Mynhardt 2/29). Kemptonpark wen met 131 lopies.
Hoërskool Hans Moore: 237/9 (Adrian Watson 64, Warren Minnaar 40, Kenan Shaw 27, Aiden Shaw 27, Xavier Coetzee 25; Werner Durrheim 2/28, Andre van Niekerk 2/34, JD Landsberg 2/37, Antonie van Niekerk 2/48). Hoërskool Monument: 208 (Rieghardt Prinsloo 64, Nicholas van der Colff 27, Caleb dos Santos 24; Adrian Watson 5/46, Henre Everleigh 2/27). Hans Moore wen met 29 lopies.
Potchefstroom Gimnasium: 67 (James Wood 12; Ryno Redlinghuys 3/17, Daniel Steyn 3/20, Ruhan Oliphant 2/14). Hoërskool Eldoraigne: 68/1 (Kyle de Bruin 43, Ryno Mulder 21; Thlone Thabata 1/2). Eldoraigne wen met nege paaltjies.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 