SuperSport Schools Plus

Perses kies voorlopig vir Cravenweek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-06-06 Tags:

GriffonsDie Griffons het vyf spelers in sy voorlopige span vir die 53ste Cravenweek vir hoërskole in Durban ingesluit wat verlede jaar ook die unie op die toernooi verteenwoordig het.

Hulle is die twee hakers, Reinard van der Vyver en Duke Jantjies, die skrumskakel, Richman Gora, die heelagter Marco Labuschagné, en die agtsteman, Gift Dlamini.

Die Perses het verlede jaar ’n geskiedkundige sege van 41-27 oor die Vrystaat op die eerste dag van die toernooi in Stellenbosch behaal. Dit was sy eerste sege op die toernooi sedert 1979 se hoofwedstryd teen sy bure.

Die voorloper in die Griffon-liga, Welkom Gimnasium, het met elf spelers die grootste verteenwoordiging in die span. Gimmies en Voortrekker van Bethlehem is die enigste twee onoorwonne spanne in die Griffon-liga. Die Trekkers het drie spelers wat die span gehaal het.

Die Griffons kom op die eerste dag van die Cravenweek op Kearsney College se hoofveld teen die Pumas te staan. Die Cravenweek word vanjaar vir die eerste keer sedert 1990 in Durban aangebied.

Die Griffons se onderskeie spanne speel more (Dinsdag) teen die Valke in Kroonstad op die velde van die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in hulle eerste oefenwedstryde. Die wedstryde dien ook nog as proewe vir die onderskeie nasionale weke. Die Cravenweek-spanne pak mekaar om 16:50.

Die Griffons se twee breiers, Kassie Kasselman en Roean Bezuidenhout, behoort na more se wedstryd ’n goeie idee te hê waaraan hulle moet skaaf voor die nasionale toernooi. Die Valke se span bestaan grootliks uit spelers van EG Jansen wat vanjaar onder die voorste tien spanne in Suid-Afrika tel.

Die Perses sal ook teen Griekwas en die Vrystaat in oefenwedstryde speel asook die jaarlikse Noordvaal Bondedag op Loftus Versfeld in Pretoria bywoon.

As daar een skool se spelers is wat so ietwat verontreg kan voel is dit die Hoërskool Wilgerivier van Frankfort. Wilgies beklee met nog net twee rondes oor in die Griffon-liga die vierde posisie op die puntelys, maar nie een van die spelers is deur die keurders as goed genoeg vir een van die Griffons se spanne na die onderskeie weke geag nie.

Drie spelers die flanke, Corjan Muller en Juan Jordaan, en die slot Kobus Erasmus is wel in die voorlopige Griffons XV-tal ingesluit. Die span woon egter nie enige toernooi by nie. Die spelers van Wilgerivier is ook nie vanjaar soos in die verlede vir die plattelandse Akademie-span of die Oos-Vrystaatse span vir die jaarlikse VKB-week weens hul deelname aan die Griffon-liga verkiesbaar nie.

Die spanne is:

Cravenweek: Marco Labuschagné (Voortrekker), Andrew Kota, Lubabalo Mtyeshi, Jason Wagman, Wian van Staden (almal Welkom Gim), Tristan September (Goudveld), Richman Gora, Gift Dlamini, JJ Scheepers, Kyle Els, Pieter van der Westhuizen (almal Welkom Gim), DJ Hattingh (AHS Kroonstad), Francois Klopper (Voortrekker), Reinard van der Vyver (Wessel Maree), Winrich Kennedy (Hentie Cilliers). Plaasvervangers: Duke Jantjies (Welkom Gim), Ruben Breedt (Goudveld), JW Meades (Witteberg), Dian de Beer (AHS Kroonstad), Michael Janse van Rensburg (Voortrekker), Jason Roux (Witteberg), Triumph Baloyi (Goudveld), David Eyssen (Welkom Gim).

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.