SuperSport Schools Plus

Pelser, Parkies wil bordjies in Johannesburg verhang

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-25 Tags: , , , , ,

FOTO: Martin Ashworth.

Die Hoërskool Menlopark het ‘n sakie of wat om reg te stel wanneer hy Saterdag in Johannesburg teen Helpmekaar Kollege in sy eerste SDC Noordvaal Cup-uitstappie te staan kom.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Verlede jaar het die Parkies, op hul tuisveld in Pretoria, met 19-31 die onderspit gedelf teen die Helpies. Die span van Pretoria het ‘n aantal spelers wat dié nederlaag goed sal onthou en oorgehaal behoort te wees om die bordjies hierdie naweek te verhang.

Een só ‘n speler is haker, Declan Pelser, ‘n giftige pyl in die Parkies se aanvalskoker wat tot dusver ‘n uitstaande seisoen beleef. Pelser behoort kragtige ondersteuning te ontvang van oopkantflank, Nathen du Plessis, en die ervare slot, Keagen Pretorius, wat ook deel uitgemaak het van die Parkie-span wat verlede jaar die knie moes buig teen Helpies.

Die algemene gevoel is dat die span van die Jakarandastad vanjaar na ‘n “nuwe” span daar uitsien, met indrukwekkende seges oor Hoërskool Outeniqua (34-24) en HTS Drostdy (43-29). Boonop was sy vertoning teen Hoërskool Waterkloof in die onlangse eindstryd van van NWU Sportreeks ook bemoedigend.

Old School

Die Helpies is egter geensins ‘n maklike perd om te tem nie, vernaam in hul agterplaas in Johannesburg. Die Bruintruie spog self met onlangse seges oor Diocesian College en Wynberg Boys’ High by St Stithians College se Paastoernooi.

Dit was verál die oortuigende sege van 38-12 oor Diocesian wat wenkbroue laat lig het en die Johannesburgers se vaardighede uitgestal het. Wanneer hulle jel, kan Wian Storm (losskakel), Clinton Cloete (buitesenter) en die res van die agterhoede groot gevaar inhou. Cloete, een van die beste verdedigers in die middeveld, se tweestryd met die Parkies se spelskepper, Leskin Samuels, behoort die skare vir die volle 70-minute te vermaak.

Helpies se agsteman, Llewellyn Vermaak, sal leiding neem van die pak en dit is juis in die stryd voorlangs waar die tuisspan straks die uitklophou kan plant, met sy agttal wat week na week met meer ritme en doeltreffendheid speel. Steelkantflank, Eben van Buuren, sit egter hierdie week uit, met die bekwame en belowende Sydney Nicholson wat hom vervang.

Die spanne: 

Helpmekaar Kollege t. Die Hoërskool Menlopark om 12:45 in Johannesburg

Helpmekaar Kollege (moontlik): 15 Ty Ax, 14 Francois Tonkin, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 John-Higgs Venter, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewellyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Eben van Buuren, 5 Zian Smith, 4 Eugene de Lange, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Keenan Combrink, 1 Liam Devinier.

Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Juan Joubert, 10 Andru Keun, 9 Gustav Schäffner, 8 JN van Wyk, 7 Ruan Strydom, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.