Paul Roos bult spiere teen Drostdy

Die “Maroon Machine” het die nuwe seisoen op volspoed die naweek afgeskop, deur vir HTS Drostdy met 73-10 kaf te draf op die Markötter.
‘n Driekuns deur Paul Roos Gimnasium se bul van ‘n haker, Altus Rabe, en 19 punte vanaf Joshua Dampies se geoefende skopskoen het die grootste skade aangerig.
Hierdie uitmuntende uitslag bied ‘n fantastiese hupstoot vir die span van Stellenbosch alvorens hulle die eerskomende naweek vir die Afrikaanse Hoër Seunskool en Hoërskool Waterkloof in Pretoria aandurf by Affies se jaarlikse Noord/Suid-toernooi.
Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die tuisspan se haastige heelagter, Keenan Stoffels, het die eerste spyker in Drostdy se kis geslaan na 10 minute, en daarna het kaptein Riley Norton en sy span die tempo dramaties opgetel om nóg ses keer voor die breuk die besoekers se verdediging oop te sluit.
Drostdy se twee losvoorspelers, MJ van der Westhuizen en Darius Venter, kon na halftyd uiteindelik ook vir die Donkies op die bord kry, en die vloei van punte was nie naastenby so eensydig soos in die eerste helfte nie.
Die manne in maroen het nietemin hul spiere behoorlik gebult, en lyk oorgehaal vir die seisoen wat voorlê.
Dampies se nege suskesvolle pogings pale toe is ook ‘n belowende teken vir die Wynlanders voordat hulle ‘n strawwe reeks bepalings betree, terwyl Matthew Seymore ook sy kans netjies benut het toe hy die stelskop-verantwoordelikhede moes oorneem.
Die tellings deur die laer en jonger spanne bevestig weereens dat Paul Roos besig is om ‘n uiters effektiewe rugbyprogram te ontwikkel, en hul eerstespan sal beslis weer vanjaar saam met die voorste spanne in die land kan saamgesels as hulle so voortbou.
Die puntemakers:
Paul Roos Gimnasium 73 (52) – Drieë: Altus Rabe (3), Gert Kemp (2) Keenan Stoffels, Samuel Badenhorst, Malan Erasmus, Riley Norton, Adeeb Boraine. Doelskoppe: Joshua Dampies (8), Matthew Seymore. Strafdoel: Dampies. HTS Drostdy 10 (0) – Drieë: MJ van der Westhuizen, Darius Venter.
Ander tellings
o. 19 – Paul Roos II 59, HTS Drostdy II 12; Paul Roos III 15, HTS Drostdy III 14; Paul Roos IV 17, HTS Drostdy IV 0; Paul Roos V 35, Hoërskool Stellenbosch 14; Paul Roos VI 22, HTS Drostdy V 7; Paul Roos VII 41, HTS Drostdy VI 0; Paul Roos VIII 17, Hoërskool Stellenbosch II 3; Paul Roos IX 27, HTS Drostdy VIII 0.
o. 16 – Paul Roos A 30, HTS Drostdy A 20; Paul Roos B 41, HTS Drostdy B 3; Paul Roos C 64, HTS Drostdy C 6; Paul Roos D 33, HTS Drostdy D 10; Paul Roos E 17, Hoërskool Stellenbosch A 15.
o. 15 – Paul Roos A 24, HTS Drostdy A 19; Paul Roos B 26, HTS Drostdy B 0; Paul Roos C 5, HTS Drostdy C 5; Paul Roos D 29, HTS Drostdy D 0; Hoërskool Stellenbosch A 15; Paul Roos E 0.
o. 14 – Paul Roos A 39, HTS Drostdy A 0; Paul Roos B 31, HTS Drostdy B 0; Paul Roos C 72, HTS Drostdy C 0; Paul Roos D 44, HTS Drostdy D 0; Paul Roos E 15, Hoërskool Stellenbosch A 12.