SuperSport Schools Plus

Parkies troef Monnas danksy Petersen-vierkuns

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-03 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Menlo Rugby op Facebook.

Die Hoërskool Menlopark moes, nes die Nories in Krugersdorp, ook verbete terugveg om vir Hoërskool Monument in Pretoria met 39-37 te verslaan, en sodoende sy kanse om die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te haal, lewendig te hou.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Die Parkies het met die deur in die huis geval om vroeg-vroeg reeds twee keer agter die besoekers van Krugersdorp se doellyn te gaan kuier en met 12-0 voor te loop.

Jaydon Viljoen se skopskoen en ‘n tweekuns deur die Wit Bul-buks, Evan Berhardi, het die prentjie egter in ‘n oogwink verander.

Viljoen was oudergewoonte ‘n doring met sy korrelwerk pale toe en het nie alleen met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag nie, maar ook ‘n netjiese skepdoel oorgeklits om aan Monnas ‘n voorsprong van 27-12 met die omdraaislag te bied.

Die dag sou egter aan die Parkies se spoedvraat, Bladen Petersen, behoort. Petersen het weereens sy vermoë om af te rond tentoongestel met ‘n kritieke vierkuns aan drieë.

Petersen se kordaatstuk is deur die Parkies-pak moontlik gemaak. Hul dryfmale was weer uit die boonste rakke, wat vir haker, Declan Pelser, in staat gestel het om self twee keer te druk vir ‘n belangrike aandeel in die Parkies se sege, terwyl skrumskakel, Gustav Schäffner, puik diens aan die agterlyn gelewer het.

Die Wit Bulle het skuins voor die eindfluitjie amper weer die voortou geneem, maar Willie Pieterse se vier doelskoppe was oplaas genoeg om die wa deur die drif te trek.

Die kragmeting tussen Hoërskool Transvalia en Hoërskool Nelspruit in Vanderbijlpark het self ‘n naelbytstryd opgelewer. Dit was uiteindelik die ligbloues van Vanderbijl wat net-net met 20-19 die pyp teen die die Rhinos kon rook.

Hoewel aan die verloorkant, het die besoekers steeds drie keer, een keer meer as die tuisspan, agter die doellyn gaan draai. Die uiteindelike verskil was die stewel van Valia-losskakel, Jay-Dee Maree, wat albei sy span se drieë verdoel en ook met twee strafdoele geslaag het vir die helfte van sy span se punte.

Voorlangs het flank en kaptein, Juan Bisschoff, met sy voorbeeld gelei en in die los die lewe uiters ongemaklik gemaak vir die besoekers van Mbombela.

Christiaan Viljoen, die Rhinos se loskopstut, was die enigste voorspeler wat die doellyn kon oorsteek, terwyl binnesenter, Alex Hallet, in sy eerste begin vir die eerste span, ook met ‘n vyfpunter beloon is na ‘n uithalervertoning agterlangs.

Puntemakers: 

Menlopark 39 (12) – Drieë: Bladen Petersen (4), Declan Pelser (2), Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Willie Pieterse (2). Monument 37 (27) – Drieë: Evan Bernhardi (2), Regardt Ernst, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (3). Ehlers. Strafdoele: Viljoen (2). Skepdoel: Viljoen.

Transvalia 20 (10) – Drieë: Declan Hattingh, Bernard van Dyk. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (2). Strafdoele: Maree (2). Hoërskool Nelspruit 19 (7) – Drieë: Liam Pringle, Christiaan Viljoen, Alex Hallet. Doelskoppe: Pringle (2).

Ander spanne: 

o.16: Monument 23, Menlopark 20; Transvalia 43, Nelspruit 19.

o.15: Monument 10, Menlopark 3; Nelspruit 10, Transvalia 7.

o.14: Monument 55, Menlopark 14; Nelspruit 8, Transvalia 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.