SuperSport Schools Plus

Parkies looi die Blues, Monnas baas in Rustenburg

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-10 Tags: , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé.

Die Hoërskool Menlopark is in ‘n omgekrapte bui en sterk besig om in te haal vir ‘n plek in die uitspeelronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Met hul oorwinning oor Hoërskool Noordheuwel was dit was die tweede agtereenvolgende week dat Parkies vir ‘n span van Krugersdorp met ‘n bonuspunt kon omdop. Hulle het relatief maklik met 34-20 koning gekraai op die “Heuwel”, ‘n week nadat hulle vir Hoërskool Monument in Pretoria met 39-37 getroef het.

Met dié twee seges is die Parkies stewig op koers om aan die einde van die rondomtalie-wedstryde vierde te eindig, indien hulle ook vir Hoërskool Rustenburg volgende kan klop.

Die besoekers was van meet af aan in beheer, nadat heelagter, Dylan Stumke, ‘n uitstekende agterlynbeweging binne die eerste paar minute afgerond het vir die eerste van sy twee drieë. Stumke, wat van senter moes oorskuif om vir Reinhardt Herbst in die laaste vesting te vervang, en skrumskakel, Gustav Scäffner, straks die Parkies se uitstaande speler op die dag, het die Blues talle hoofbrekens besorg.

Voorlangs het slot, Keagen Pretorius, ‘n goeie dag op kantoor beleef. Hoewel hy 10 minute in die stoutstoel moes deurbring, was sy hoë werkverrigting ‘n belangrike bestandeel in die Parkies se wenresep.

Die Nories sou eerste wees om te erken dat dit nie hul beste vertoning van die jaar was nie.

Tidi Moeketsane het nietemin steeds ‘n moedige vertoning op losskakel gelewer, terwyl slot, Kean Lourens, na ‘n lang afwesigheid sy terugkeer vanaf die bank met ‘n fisieke vertoning gevier het.

In Rustenburg het Hoërskool Monument geswoeg en gesweet om vir Hoërskool Rustenburg met 24-14 die loef af te steek. Dit was slegs die Wit Bulle se derde sege in vanjaar se reeks. Met die skote wat voorlangs geklap het, het die Monnas-agttal uiteindelik die botoon kon voer om die grondslag vir dié sege te lê.

Twee van hul vier drieë is deur voorrymanne gedruk, met haker, Reghardt Ernst, en vaskopstut, Juandré Marais, ‘n produk van Phalaborwa in Limpopo, wat elk beloon is vir hul harde arbeid. Dit het ook vir die Monumentare se agterlyn in staat gestel om die bal lug te gee en hul bekende hardlooprugby op te dis, teen die goed georganiseerde verdediging van die Rusties.

Puntemakers: 

Menlopark 34 (15) – Drieë: Dylan Stumke (2), Gustav Scäffner, Ruan Strydom, Keagen Pretorius. Doelskoppe: Willie Pieterse (3). Strafdoel: Pieterse. Noordheuwel 20 (3) – Drieë: Skuttie Bezuidenhout, Tidi Moeketsane, Kean Lourens. Doelskop: Moeketsane. Strafdoel: Moektsane.

Monument 24 (19) – Drieë: Reghardt Ernst, Jason Joubert, Juandré Marais, Loghan Langeveld. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (2). Hoërskool Rustenburg 14 (7) – Drieë: Zack Engelbrecht, Xavier Steenkamp. Doelskoppe: Ayden Willemse, Ricardo Enos.

Ander spanne: 

o.16: Noordheuwel 27, Menlopark 25; Monument 28, Rustenburg 22.

o.15: Noordheuwel 17, Menlopark 17; Rustenburg 21, Monument 0.

o.14: Noordheuwel 33, Menlopark 3; Monument 7, Rustenburg 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.