Parkies, Durbies sluit Noord/Suid onoorwonne af

Dit is die eerste keer sedert 2018 dat Die Hoërskool Menlopark daarin kon slaag om die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi suksesvol met twee seges af te sluit.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Parkies het in hul tweede wedstryd, op die oggend van die derde dag, vir Hoër Tegniese Skool Drostdy met 43-29 verslaan.
‘n Dominante vertoning deur die voorspelers het die grondslag vir die agterlyn gelê om die die Donkies te laat les opsê. Buitesenter, Leskin Samuels, was weereens ‘n uitblinker in die middeveld en het die span van Worcester deurgaans aan die raai gehou met sy venynige voetwerk.
Dit was egter heelagter, Reinhardt Herbst, wat die kollig gesteel het. Alhoewel Herbst self nie op die telkaart kon kom nie, was hy die argitek van die Parkies se aanvalstruktuur agterlangs. Hy het gereeld aansluiting gevind by die agterlyn en met sy flink verspreiding die span van Pretoria deurentyd op die voorvoet geplaas.
Die Donkies se heelagter, Pirlo Baron, het self by ‘n paar geleenthede die Parkies se verdediging laat bontstaan met skerp aanvalshoeke wanneer hy by sy agterlyn aangesluit het, terwyl binnesenter, Jacques de Klerk, ook uitgeblink het met sy kragspel in die middeveld wat aan hom ‘n tweekuns aan drieë besorg het.
Hoërskool Durbanville het ook die toernooi onoorwonne afgesluit deur ‘n sukkelende Hoërskool Dr EG Jansen met 34-16 af te stof vir sy tweede sege, vir die eerste keer sedert 2021. Die Durbies het Vrydag reeds beïndruk met ‘n puik sege oor Hoërskool Monument.
Die stryd was ongetwyfeld voorlangs gewen, met ál ses die Durbies se drieë wat deur lede van hul imponerende agttal gedruk is.
Die Jansies se haker en kaptein, Marco Ventura, en oopkantflank, Craig Lightfoot, het moedig probeer om die lewe vir Durbanville moeilik te maak by die afbreekpunte, en dit ook soms reggekry. Dit Durbie-oormag was egter uiteindelik net té groot.
Puntemakers:
Menlopark 43 (19) – Drieë: Leskin Samuels (2), Juan Joubert (2), Declan Pelser, Ruan Strydom, Bladen Petersen. Doelskoppe: Andru Keun (4). HTS Drostdy 29 (19) – Drieë: Jacques de Klerk (2), Adrian Vergotine, Anwill Prins, Eugene Walker. Doelskoppe: Jano van Deventer (2).
Hoërskool Durbanville 34 (24) – Drieë: Tiaan Kearns (2), Adriaan Freemantle, Ruan Vosloo, Liam Lambert, Ruan van Wyk. Doelskoppe: Kyle Albertus (2). EG Jansen 16 (5) – Drieë: Marco Ventura, Craig Lightfoot. Strafdoele: Zain Ueckermann (2).