Parkies deur na halfeind, Bastiaanse sluit Klofies-hoofstuk met sege af


Die Hoërskool Menlopark het sy plek in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling Saterdag op sy tuisveld deur en deur verdien.
Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Pretorianers het die nodige verrig deur vir Hoërskool Rustenburg met 30-26 te troef en sodoende ‘n derde agtereenvolgende bonuspuntsege te behaal.
Nie alleen het die eerste span ‘n plek in die halfeindronde bespreek nie, maar die oorwinning het ook die relegasiespook suksesvol afgeweer.
Hoewel Parkies ná die afgelope naweek se aksie steeds 0.5 punte agter Hoërskool Transvalia lê, het hulle twee spanne in die halfeindronde, in vergeleke met die geen van Valia, wat verseker dat hulle volgende naweek die nodige punte kan behaal om verby die manne van Vanderbijlpark te skuif.
Die sege oor die Rusties was egter allermins maklik. Die besoekers het die pap dik aangemaak en, deur middel van uitstekende aanvallende rugby en rotsvaste verdediging, die lewe moeilik gemaak vir die Pretorianers.
Nadat buitesenter, Jon-ré Jefthas, en regtervleuel, Henré Robinson, deurgebreek het vir drieë, was die Parkies op 20-26 in die moeilikheid in die tweede halfte. Die wortel van ‘n halfeindstryd, asook die bedreiging van relegasie, het hulle egter tot hoër hoogtes aangevuur.
Parkies het uiteindelik die wipplankstryd gewen danksy laat drieë deur plaasvervanger-heelagter, Reinhard Herbst, en Andru Keun. Keun, die gereelde kaptein en generaal in die nr. 10-trui, het ook vanaf die bank vir die Parkies oor die doellyn gehelp.
Die streeptruie kom teen Hoërskool Garsfontein in eerskomende Saterdag se halfeindstryd op Berepark in Pretoria te staan.
Elders in die hoofstad het Hoërskool Waterkloof se Ronan Bastiaanse sy Klofie-loopbaan met ‘n strafdoel in die doodsnikke afgesluit om vir die Blou Tornado ‘n naelbytsege van 29-28 oor Hoërskool Monument te beklink. Daarmee het Klofies ‘n derde agtereenvolgende jaar vir die Wit Bulle van Krugersdorp gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.
Bastiaanse, wat die tweede meeste punte aangeteken het by die onlangse Akademieweek, het dié einste week se voorste puntemaker, Jaydon Viljoen, in ‘n kritieke skopstryd uitoorlê. Bastiaanse het, benewens ‘n drie, ook drie doelskoppe en dié allerbelangrike strafdoel deur die mikke gejaag, terwyl Viljoen met ‘n doelskop, strafdoel en skepdoel geslaag het.
Die hoogtepunt van die kragmeting was egter die stoeigeveg tussen die twee agttalle, vernaam wat die dryfmaalbewegings betref. Dit het albei hakers in staat gestel om die kollig te steel, met die Monumentare se Regardt Ernst wat drie keer vanaf dryfmale oorgeduik vir drieë, terwyl die Klofies se Ruan Jacobs op dieselfde wyse ‘n belangrike tweekuns behaal het.
Puntemakers:
Menlopark 30 (15) – Drieë: Nathen du Plessis, Leskin Samuels, Bladen Pietersen, Gustav Schäffner, Reinhardt Herbst, Andru Keun. Hoërskool Rustenburg 26 (12) – Drieë: Waide Davey, MJ Otto, Jon-ré Jefthas, Henré Robinson. Doelskoppe: Ricardo Enos (3).
Waterkloof 29 (7) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Divan Botha, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (3). Strafdoel: Bastiaanse. Monument 28 (13) – Drieë: Regardt Ernst (3), Ruan Genis. Doelskop: Jaydon Viljoen. Strafdoel: Viljoen. Skepdoel: Viljoen.
Ander spanne:
o.16: Menlopark 47, Rustenburg 10; Waterkloof 43, Monument 17.
o.15: Rustenburg 22, Menlopark 17; Monument 17, Waterkloof 5.
o.14: Rustenburg 31, Menlopark 12; Monument 8, Waterkloof 0.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




