Parel Vallei jag Tiere in Somerset-Wes

Die Hoërskool Parel Vallei van Somerset-Wes kom Saterdag tuis te staan teen die besoekende Tiere van Hoërskool Tygerberg.
Na ‘n belowende begin aan die seisoen, toe hulle vir Hoërskool Oudtshoorn (25-7) en Hoërskool Hermanus (13-5) kon troef, het Parel Vallei ‘n paar waardevolle lesse geleer by die Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek in Riversdal.
Hulle het die knie gebuig teen Oosterlig (21-23) en Die Anker (8-29), maar goed teruggekom om vir Zwartkop op die laaste dag met 14-6 te verslaan.
Verlede naweek het Parel Vallei ‘n blaaskans geniet, nadat hulle vroeg in April vir DF Malan met 28-18 geklop het in hul eerste tuiswedstryd van die seisoen.
Losskakel, Shudley Rhoda, en skrumskakel, Michael Kent, is deurgaans aan die spits van hul aanvalle, en met die tuisskare wat bankvas agter hulle staan sal Parel Vallei oorgehaal wees om vir Tygerberg te pak.
Verlede naweek het Hoërskool Bellville die Tiere se tande getrek met ‘n oorwinning van 29-10, maar die trotse skool uit die noordelike voorstede, wat onder andere die Springbok slot-duo van Marvin Orie en Eben Etzebeth opgelewer het, het ook gewys dat hulle oor die nodige skietgoed beskik met ‘n sege van 17-15 oor Hermanus.
Thurlow Goodheart, wat verlede jaar reeds die strepiestrui gedra het, is ‘n speler om fyn dop te hou op heelagter.
Parel Vallei t. Hoërskool Tygerberg om 11:30:
Parel Vallei: 15 Luchen Meyer, 14 Junior Ruzvidzo, 13 Christiaan Louw, 12 Caleb Maasdorp, 11 Iviwe Majingo, 10 Shudley Rhoda, 9 Michael Kent, 8 Renato Tosi, 7 Sebastiaan van Niekerk, 6 Dylan Cockroft, 5 Marko Karsten, 4 Thomas Hoffmeyer, 3 Ian Kleynhans, 2 Diaan du Toit, 1 Ayandisa Mpumlwana.
Hoërskool Tygerberg: 15 Thurlow Goodheart, 14 Frank Atembe, 13 Kean Gousards, 12 Marius Griebenow, 11 Jodrey Yemba, 10 Venito Geduld, 9 Aidon Solomons, 8 Micheal Saal, 7 Prince Misengue, 6 Ray Reynalds, 5 Daniel Banza, 4 Divin Mbomba, 3 Jamie Coetzee, 2 Duhlin Kruger, 1 Tristan Macpearson.
Ander bepalings by Parel Vallei:
o. 19: 08:00 – Parel Vallei III t. Hoërskool Tygerberg III; 09:10 – Parel Vallei II t. Hoërskool Tygerberg II.
o. 16: 10:20 – Parel Vallei o. 16 A t. Hoërskool Tygerberg o. 16 A.
o. 15: 08:00 – Parel Vallei o. 15 B t. Hoërskool Tygerberg o. 15 B; 09:10 – Parel Vallei o. 15 A t. Hoërskool Tygerberg o. 15 A.
0. 14: 08:00 – Parel Vallei 0. 14 B t. Hoërskool Tygerberg o. 14 B; 09:10 – Parel Vallei o. 14 A t. Hoërskool Tygerberg o. 14 A.
Ander bepalings
o. 19: 10:00 – Plumstead t. Somerset College; 11:30 – Fish Hoek vs Camps Bay; 12:00 – Hoërskool Hopefield t. Hoërskool Bellville; 12:05 – Hoërskool Vredenburg t. Hoërskool Piketberg; 12:30 – Bellville THS t. Melkbosstrand.