Paas-modderfees: al die uitslae van die skolerugby oor die Paasnaweek
Die skolerugbywedstryde tydens die tweede dag van die onderskeie Paastoernooie kan liewer as moddergevegte as feesrugby beskryf word.
Dit het egter nie ‘n hele paar spanne gekeer om oortuigende oorwinnings te behaal nie.
Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch het vir die Hoërskool Nelspruit se Rhinos tot oorgawe met ‘n telling van 40-3 tydens St. John’s College se Paastoernooi gedwing.
Die span van Stellenbosch se loskopstut, Wilbur Loubser, het twee keer oor die doellyn gebeur. Hy het deurgans behoorlik voorlangs ingedons om Nelspruit se agttal tot oorgawe te help dwing.
Paul Roos het in sy eerste wedstryd vir Welkom Gimnasium met 50-6 gekarnuffel. Sy vleuel Luke Graham het hier sy tweede agtereenvolgende driekuns behaal na hy ook in sy span se vorige wedstryd teen Grey High drie keer ‘n draai agter die doellyn gemaak het.
Die Hoër Jongenskool Paarl het in die tweede helfte daarin geslaag om uiteindelik die oorhand teen Helpmekaar-kollege te bewerkstelling. Die Helpies het teen rustyd ‘n voorsprong van 16-8 geniet.
Die span van die Paarl kon eers in die 47ste minuut vir die eerste keer die voorsprong met 18-16 te neem. Boishaai se haker, Johan Smal, en flank Divan Fuller was ysters voorlangs.
Helpies se heelagter, Trityne Parsons, het met sy skopskoen sy span in die wedstryd gehou.
Noordheuwel sit na Saterdag met ‘n lekker probleem. Sy losskakel vir die dag, Divan Spangenberg, het duidelik ‘n punt gehad om te bewys in die kragmeting teen St. David’s Marist (60-5).
Spangenberg het binne die eerste drie minute van die kragmeting al twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak. Hy het sy driekuns in die tweede helfte voltooi.
Die span se gereelde losskakel, JT Kapank, het op binnesenter diens gedoen. Kapank het self ‘n bydra van 15 punte tot die sege gelewer.
Hilton College het ook ‘n bulspan vanjaar. Hy het vir Welkom Gimnasium (48-3) en St. Benedict’s College (60-3) kaf gedraf. Die span se losskakel, Chris Horak, en flank, Jonathan Horak, is die seuns van voormalige Engelse heelagter Michael Horak.
Die Hoërskool Durbanville se vleuel James Nero het ‘n driekuns aan drieë in sy span se weghol-oorwinning oor Centurion van 66-7 op King Edward VII se Paastoernooi in Johannesburg behaal.
Die span se skrumskakel, Monray Daars, het ook ‘n bydrae van 21 punte gelewer. Daars het self ‘n draai agter die doellyn gaan maak en agt van sy span se drieë verdoel.
Queen’s College het goeie rugby opgedis om Northwood met 36-25 te klop. Dit nadat hy op die eerste dag naelskraaps met 36-37 teen die gasheer, KES, die knie gebuig het.
KES het Saterdag oor te veel skietgoed vir Dale College beskik deur met 32-3 as oorwinnaars van die veld te stap. Dale het ‘n moeilike tyd agter die rug na twee van sy eerstespanspelers, Liyabona Teyise en Lisakhanya Lwana verlede week in onverwante gevalle oorlede is.
Die Hoërskool Waterkloof se SA Skole-afrigter, Cobus van Dyk, sal nie tevrede met sy span se twee vertonings op die eerste twee dae van die Paastoernooi by Kearsney College in Durban wees nie.
Die Klofies het Saterdag met 10-12 teen die gasheer in ‘n modderbad vasgeval, maar dis die nederlaag van 5-23 teen Durban High School wat die seerste was.
Durban High School kan egter nie gering geskat word nie. Hy het Saterdag vir EG Jansen van Boksburg met 20-15 verslaan. Die span van Durban was teen rustyd reeds met 17-0 voor.
Dit was veral die feit dat die wenspan voorlangs die oorhand teen die Boksburgers gehad het, wat verras het. Sy haker, Christian Everitt, en agtsteman, Siseko Mani, was hier aan die voorpunt. Everitt is die seun van die Sharks se breier, Sean Everitt.
Monument van Krugersdorp se velle sit nog aan die draad na hy in die doodsnikke danksy ‘n drie deur die vleuel Christi Botes daarin geslaag het om vir Marlow Landbou van Cradock met 12-7 te klop.
Voor Botes se drie het die Wolramme met 7-5 voorgeloop danksy ‘n pragtige drie deur sy agtsteman, Burrie van Heerden. Hy het ‘n lopie van amper 50 meter afgerond.
Glenwood van Durban sal na sy twee seges oor Pretoria Boys’ High (29-12) en Selborne College (15-14) tevrede met sy vertonings tot dusver op die toernooi wees.
Op die oudste Paastoernooi, dié een van St. Stithians College in Johannesburg, is daar nie ‘n beter span in aksie as die een van Bishops nie. Die span van Kaapstad het vir Maritzburg College (31-10) en Grey High van Gqeberha (31-20) in sy twee wedstryde tot dusver in die Goudstad verslaan.
Die Hoërskool Rustenburg het in die hoofwedstryd van sy Bosveld-toernooi ter viering van sy eeufees vir die Hoërskool Trio van Kroonstad met 22-10 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Garsfontein het sy spel goed in die nat weerstoestande aangepas om Voortrekker van Bethlehem met 38-0 goed af te stof. Die Bere se haker, De Wet Lottering, was weer aan die voorpunt van sy span se vertoning.
Frikkie Meyer van Thabazimbi het sy spiere ook behoorlik tydens dié fees gebult. Hy het vir Lichtenburg met 29-0 kaf gedraf en vir Trio met 14-3 uitoorlê.
AL DIE UITSLAE:
ST. JOHN’S COLLEGE PAASTOERNOOI
Dag 2: Hoër Jongenskool Paarl 32, Helpmekaar 16; Paul Roos 40, Hoërskool Nelspruit 3; Hilton College 48, Welkom Gimnasium 3; Graeme College 28, St. John’s College 7; Boland Landbou 38, St. Charles College 0; Noordheuwel 60, St. David’s Marist 5; St. Benedict’s College 33, Goue Leeus XV-tal 21.
Dag 1: Hoërskool Nelspruit 26, St. John’s College 5; Paul Roos Gimnasium 50, Welkom Gimnasium 6; St. David’s Marist 19, St. Charles College 12; Boland Landbou 25, Noordheuwel 25; Hilton College 60, St. Benedict’s College 3; Hoër Jongenskool Paarl 83, Goue Leeus XV-tal 0; Helpmekaar 10, Graeme College 7.
KEARSNEY COLLEGE PAASTOERNOOI
Dag 2: Glenwood 15, Selborne College 14; Pretoria Boys’ High 14, Framesby 14; Durban High School 20, EG Jansen 15; Kearsney College 12, Waterkloof 10; Monument 12, Marlow Landbou 7; Westville Boys’ High 24, Noord-Kaap 0.
Dag 1: Framesby 22, EG Jansen 19; Glenwood 29, Pretoria Boys’ High 12; Selborne College 43, Noord-Kaap 17; Monument 33, Westville Boys’ High 20; Durban High School 23, Waterkloof 5; Marlow Landbou 14, Kearsney College 10.
KING EDWARD VII PAASTOERNOOI
Dag 2: King Edward VII 32, Dale College 3; Jeppe High School 16, Hudson Park 10; Queen’s College 26, Northwood 3; Eldoraigne 33, Ben Vorster 3; Durbanville 66, Centurion 6; Nico Malan 24, Trinityhouse 5.
Dag 1: King Edward VII 36, Queen’s College 36; Northwood 25, Hudson Park 19; Durbanville 52, Nico Malan 21; Ben Vorster 22, Centurion 12; Northcliff 40, Trinityhouse 12; Eldoraigne 20 Jeppe XV-tal 12.
ST. STITHIANS COLLEGE PAASTOERNOOI
Dag 2: Michaelhouse 34, St. Stithians College 3; St. Andrew’s College 13, Wynberg Boys’ High 12; Bishops 31, Maritzburg College 10; Grey High School 30, St. Alban’s College 19; Clifton 20, Parktown Boys’ High 14.
Dag 1: Bishops 31, Grey High School 20; St. Stithians College 15, Clifton 10; St. Andrew’s College 29, St. Alban’s College 15; Michaelhouse 33, Maritzburg College 32; Wynberg Boys’ High 49, Parktown Boys’ High 7.
HOËRSKOOL RUSTENBURG EEUFEES
Dag 2: Hoërskool Rustenburg 22, Hoërskool Trio 10; Garsfontein 38, Voortrekker (Bethlehem) 0; Frikkie Meyer 29, Lichtenburg 0; HTS John Vorster 15, Wesvalia 13; Hoërskool Alberton 18, Hans Strijdom 10.
Dag 1: Voortrekker (Bethlehem) 19, Lichtenburg 17; Frikkie Meyer 14, Hoërskool Trio 3; Wesvalia 43, Hans Strijdom 24.
BERGSIG RUGBYFEES
Potchefstroom Gimnasium 14, Hugenote (Springs) 10; Dinamika 8, Bergsig Akademie 5; Randburg 19, Rob Ferreira 5; Carletonville 19, Riebeeckrand 14.
[powr-comments id=”78a94759_1650178824428″]




