SuperSport Schools Plus

Paarl Gimnasium kraai koning op die plaas oor Boland Landbou

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-05-16

FOTO: Charmaine Sander Photography

Paarl Gimnasium kon sterk staan teen ‘n gedrewe Boland Landbou om nog ‘n sege te kry in wat alreeds ‘n uiters indrukwekkende seisoen is.

Die wedstryd kan gekyk word op SuperSport SchoolsRegistreer nou

Die Gimmies het die oorhand gehad vir meeste van die wedstryd, maar dit is eers in die laaste 15 minute wat hulle regtig spasie tussen hulself en die tuisspan op die telbord kon sit.

Boland was deurlopend braaf op verdediging en het nooit moed opgegee nie, maar hierdie Paarl Gim span lyk baie goed afgerond.

Louw du Toit (agsteman), wie die enigste verandering is van die span wat verlede naweek met Paul Roos 24-19 afgesien het, kon een van sy span se ses drieë druk.

Tazreeq Moerat (heelagter), Freek de Kock (vleuel), Marco Steyn (slot), Danio Botha (slot) en Jan Koegelenberg wie as ‘n reserwe opgekom het kon ook elkeen een maal agter die Boland doellyn gaan kuier om die sege vir die besoekers te seël.

Vir die Boere was dit weereens hul staatmaker haker, Cilliers Viljoen, wat uitgestaan het, maar dit was ongelukig vir die seuns van die Agter-Paarl nie genoeg om die Bolandse rugby reus te pootjie nie.

Al het die tuisspan baie goed gedoen om die besoekers in toom te hou vir meeste van die wedstryd het Paarl Gim teen die einde die sluise oopgedraai en uiteindelik gemaklik met Boland afgereken.

Gimmies speel volgende teen hul teenstanders uit die suidelike voorstede, eers SACS in die stad volgende naweek, dan Diocesan College in Paarl op die derde Mei.

Hulle het nog slegs die een wedstryd, vroeg in die seisoen, teen Grey Kollege verloor (33-12) en hulle sal wil voortbou op hierdie momentum tot die groot bepaling teen Hoër Jongenskool Paarl in Augustus.

Strand het ‘n enorme terugvegpoging gelewer om van 27-0 agter teen halftyd terug te kom om vir DF Malan 34-27 te wen in die stad.

Twee drieë deur hul onderkaptein en buitesenter, Gino Cupido, het sy span gehelp om die agterstand in te haal.

Grayton von Maroe (vleuel) het ook twee drieë gedruk in Augsburg Gimnasium se 27-0 sege oor Vrendedal Sekondêre Skool in Vredendal.

Robertson het in ‘n riller van ‘n wedstryd bo uitgekom teen Swartland met slegs twee punte. Hul binnesenter, Sean Cedras kon twee strafskoppe verdoel wat op die ou end die verskil gemaak het in sy span se 16-14 sege.

Die puntemakers:

Paarl Gimnasium 36 (17) – Drieë: Tazreeq Moerat, Freek de Kock, Louw du Toit, Marco Steyn, Danio Botha, Jan Koegelenberg. Doelskoppe: De Kock (3). Boland Landbou 18 (3) – Drieë: Cilliers Viljoen, Alru Gous, Dewald de Villiers. Strafdoel: Retagen van Rooi.

Strand 34 (0) – Drieë: Gino Cupido (2), PJ van der Schyff, Juhaim Abels, Wikus Meyer, Leighton Fisher. Doelskoppe: Tyron Nicholas (2). DF Malan 27 (22) – Drieë: Zander Enslin (3), Liam Greeff. Doelskoppe: Enslin (2). Strafdoel: Enslin.

Charlie Hofmeyr 17 – Drieë: Johann Coetzee, Lawrence Jantjies. Doelskoppe: Luan Giliomee (2). Strafdoel: Giliomee. Oakdale Landbou II 18 – Drieë: Michael Fourie, Gustav van der Merwe. Doelskop: Duraan Janse van Rensburg. Strafdoele: Janse van Rensburg (2).

Augsburg Gimansium 27 – Drieë: Grayton van Maroe (2), Moegamed Engelbrecht, Jeruze Ukena, Leon Loots. Doelskop: Danru Christopher. Vredendal Secondary 0.

Porterville 23 – Drieë: Brendon September, RW Duggen. Doelskoppe: Howard Ocks (2). Strafdoele: Ocks, Llewellyn Fransman. Vredendal 7 – Drie: Kyle Cloete. Doelskop: Wian van Zyl.

Robertson 16 (3) – Drieë: Ruwan Stevens, Helgard Bruwer. Strafdoelle: Sean Cedras (2). Swartland 14 (14) – Drieë: Kallie Boutsikaris, Hendré de Kock. Doelskoppe: Jordan Abels (2).

 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.