Paarl Gim sluk eerste keer in ses jaar ‘n galpil
Paarl Gimnasium moes gister – die eerste keer in ses jaar – ’n galpil sluk in die grootste interskole-kragmeting ter wêreld . . .
Gimmies is in die Faurestraat-stadion met 16-10 deur die Hoër Jongenskool Paarl kafgedraf. Die wenspan staan onder aanhangers ook as Boishaai of die Galpille bekend.
Gimmies het – met speeltyd reeds vertreke – verbete aangeval, maar kon net nie deur Boishaai se verdediging bars nie. “Ons is teleurgesteld. Dit is ’n moeilike een om te sluk, maar dit is deel van die spel. Alle krediet aan Boishaai,” het Paarl Gimnasium se kaptein en Suid-Afrikaanse skoleslot, Ernst van Rhyn, ná die wedstryd gesê.
Toe Boishaai die laaste keer in 2009 met 24-12 koning gekraai het, was die Springbok-stut Frans Malherbe sy kaptein. Die span van 2015 is nog nie vanjaar op die rugbyveld ore aangesit nie en daar word reeds in die Paarl gefluister dat dié vyftiental een van die beste in die geskiedenis van die skool kan word. Daar is egter nog ’n steil pad om te stap voordat hy die seisoen onoorwonne sal afsluit.
Gister was die skopskoen van die heelagter Jean-Luc Cilliers deurslaggewend in Boishaai se oorwinning. Die eerste helfte het aan Cilliers-hulle behoort, terwyl Gimmies ná die omdraaislag grootliks die oorhand gehad het. Die wenspan se agtsteman, Khanya Ncusane, was ook uitmuntend – soos sy afstormdrie vroeg in die wedstryd getuig het.
Elders het Paul Roos Gimnasium se pronkvleuel Nico Leonard sy 18de verjaarsdag met ’n spesiale mylpaal gevier in sy skool se sege van 39-29 oor Bishops. Leonard het twee keer agter die doellyn gaan kuier en sy eerste drie was boonop sy 50ste in die maroentrui.
Net buite Cradock het Oakdale Landbou se Wit Bulle die sesde jaar in ’n ry Marlow Landbou in ’n Classic Clash verslaan. Die Wit Bulle het met 51-15 gewen, nadat hulle teen die rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 25-3 opgebou het.
Nog ’n span uit die Suidwestelike Distrikte, die Hoërskool Outeniqua van George, was in Port Elizabeth met 50-29 te sterk vir Framesby. Dié span se Suid-Afrikaanse skolesenter, Manie Libbok, was die groot uitblinker.
Terselfdertyd het Worcester Gimnasium sy tweede wegholsege van die week behaal, deur Vredenburg met 110-0 te slag. Heelagter Pieter Swart het vyf keer afgerond. Sy losskakel, Adriaan van der Bank, het niks minder nie as 35 punte in dié wedstryd aangeteken. Hy het ’n drie gaan druk en 15 van sy span se 16 drieë gedoel.
Worcester het Woensdag ook die Engelse toerspan van Hutchesons Grammar met 62-5 afgestof.
Rondebosch Boys’ High se skitterende flank Zain Davids het ’n driekuns aan drieë in sy span se oortuigende oorwinning van 69-7 oor die Hoërskool Bellville behaal.




