Paarl Gim reg vir nog ‘n riller teen Stellenberg

Hoërskool Stellenberg skop Saterdag af met die eerste van ‘n strawwe lys bepalings, wanneer Paarl Gimnasium in die Moederstad kom besoek aflê.
Die Jade Brigade is egter oorgehaal om nuwe hoogtes vanjaar te bereik en sien derhalwe uit na die groot uitdaging wat die Paarl-reuse bied.
Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Verlede jaar het die Gimmies weer onder die topspanne in die land geëindig, danksy staatmakers soos Freek de Kock, Kobus Blanckenberg, Chandler Green, Ely Williams en Liam Burger, wat die eerstespan tot groot hoogtes gelei het.
Die Gimmies het in hul jaarlikse interskole teen Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) koning gekraai met 20-17 om ‘n uitstekende seisoen af te sluit.
Stellenberg bou egter nou al ‘n geruime tyd aan hul rugbyprogram en wys jaar na jaar dat hulle saam met die groot honde kan blaf.
In 2022 het Paarl Gim met 12-6 gewen, maar verlede jaar was daar slegs ‘n enkele punt verskil tussen die twee toe die Gimmies vir ‘n naelskraapse sege van 24-23 op hul tuisveld kon vasbyt.
Stellenberg se blitsige vleuel, Luc Cilliers, het in die doodsnikke van daardie wedstryd gedruk om sy span binne trefafstand van ‘n geskiedkundige oorwinning te bring.
Die tafel is dus gedek vir ‘n riller waneer die twee mekaar Saterdag weer aanvat.
Die span van Paarl se groot loskopstut, JJ du Preez, het uitgestaan in hul voorseisoense chukkas teen HTS Drostdy. Du Preez was verlede jaar in Helpmekaar-kollege, so dit sal interesant wees om te sien hoe hy by die Gimmie-patroon inpas.
Met vyf van Stellenberg se pak voorspelers wat verlede seisoen reeds hul staal getoets het as deel van die eerstespan, behoort die Jade Brigade nie ‘n enkele tree terug te staan nie.
Die kragmeting belowe om een van die hoogepunte van die naweek te wees, met albei spanne wat ‘n uiters hoë standaard aan hulself stel, met die oog op groot seisoene.
Die spanne is:
Stellenberg t. Paarl Gim om 13:00:
Hoërskool Stellenberg: 15 Dehan Neethling, 14 Marco Staples, 13 Estian Steyn, 12 Ruben Pretorius, 11 Luc Cilliers, 10 Stefan Roux, 9 Christiaan van der Bijl, 8 Dale du Toit, 7 Stefan Visser, 6 Alex Schoeman, 5 Zian Erasmus, 4 Sebastian Johnson, 3 Ryk Groenewald, 2 Almero Keizer, 1 Dean Janse van Rensburg.
Paarl Gimnasium: 15 Josh O’Neill, 14 Freek de Kock, 13 Markus Muller, 12 Kobus Blanckenberg, 11 Markus Moolman, 10 Chandler Green, 9 Melt Viljoen, 8 Nicolas Nel, 7 Wihan Kotze, 6 Jan Koegelenberg, 5 Stiaan de Goede, 4 Liam van Rooyen, 3 Ely Williams, 2 Liam Burger, 1 JJ du Preez.