SuperSport Schools Plus

Paarl Boishaai die konings van Interskole 2022

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-07-31 Tags: , , , , ,

Welkom terug, Sean Erasmus!

Die Paarl is vir die volgende jaar blou, Boishaai blou – en die sleutel tot ten minste die helfte van dié Bolandse dorp behoort nou aan Erasmus.

Die Hoër Jongenskool Paarl het met 26-24 in die grootste skolewedstryd op die aardbol teen Paarl Gimnasium in die Faurestraat-stadion koning gekraai.

Dit was ‘n wedstryd vir die boeke – dit was kliphard, aanskoulik, senutergend en met so tikkie kontroversie. Alles bestandele vir ‘n skolewedstryd wat voorwaar ‘n vertoonventer vir die spel op skoolvlak in Suid-Afrika is.

Dit was Boishaai se afrigter, Erasmus, se eerste interskole sedert hy in 2018 besluit het om hom by die Goue Leeus aan te sluit. Gim was in 2019 met 18-17 baas, terwyl Boishaai onder Erasmus van 2015 tot 2018 met die louere weggestap het.

Die wenspan was met ongeveer 50 minute se spel in die wedstryd met 16-3 aan stuur van sake. Dit was veral sy SA Skole-buitesenter, Shah-Jehaan de Jongh, wat agterlangs uitstekend was.

Voorlangs het die agtsteman, Hugo-Ben Horn, slot Van Heerden Pretorius, en die flank Divan Fuller die fisieke aanslag gelei. Gimmies se SA Skole-haker, Luca Bakkes, asook die flank Willie de Waal blink vertonings gelewer.

Gim se beste speler was egter sy skrumskakel, Emrique Liedeman, wat die terugvegpoging gelei het. Sy drie in die 60ste minuut het Boishaai se voorsprong tot 17-19 gekrimp.

Horn het kort daarna ‘n drie gedruk wat dalk nie toegeken sou word indien daar ‘n televisie-skeidsregter ingeroep kon word nie. Hoewel dit die wind ietwat uit Gimmies se seile geneem het, het die span goed teruggeveg om amper daarin te slaag om die uitslag in hul guns te swaai.

Stellenberg se Jade Brigade het geskiedenis in die Agter-Paarl gemaak deur vir die eerste keer ooit daarin te slaag om Boland Landbou op dié plaas te troef.

Die Jade Brigade was met 27-23 baas na hy reeds teen lemoentyd ‘n voorsprong van 24-6 opgebou het.

Paul Roos Gimnasium het ook op die plaas net buite Riversdal daarin geslaag om ‘n sege van 13-3 teen Oakdale Landbou deur te trek.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria was vuurwarm in sy kragmeting teen Waterkloof. Affies se Wit Bulle het die kragmeting gemaklik met 60-15 gewen.

Marais Viljoen van Alberton het sy eerste sege van die seisoen danksy ‘n skitterende verdedigende vertoning van 20-13 oor Menlopark behaal. Dit was veral die span se flank Cephas van Biljon wat uitstaande vir die wenspan was.

Dit was boonop Marais Viljoen se laaste tuiswedstryd met sy hoof, Martie Heystek, aanstuur voordat sy later vanjaar die tuig neerle. Heystek is al sedert 1980 betrokke by Marais Viljoen.

Garsfontein het sy plek in die uitkloprondes van die Noordvaal-trofee met ‘n sege van 42-32 oor Noordheuwel bespreek. Die Garsies se buitesenter, Demitri Erasmus, en agtsteman, Maynard Kleynhans, was uitstaande. Laasgenoemde het waarskynlik sy beste wedstryd nog vir die Bere gespeel.

Die gesegde lui om gelykop te speel is soos om jou suster te soen, maar as jy in ‘n eindstryd gelykop teen jou aartsvyand speel is dit slegter as om jou suster te soen.

Boonop moes die twee spanne van Bethlehem, Witteberg en Voortrekker, na Bloemfontein reis om mekaar in die eindstryd van vanjaar se Wesgrow-liga te pak.

Die twee spanne moes toe die louere met 17-elk deel en weer die lang tog terug Riemland toe aanpak.

In die Sandveld-liga se eindstryd het Bothaville met 10-7 in ‘n strawwe eindstryd oor Wilgerivier van Frankfort koning gekraai.

Grey-kollege het sy naamgenoot van die Baai met 52-34 kaf gedraf.

Al die uitslae: 

NOORDVAAL-TROFEE

Afdeling 1

Beker: Marais Viljoen 20, Menlopark 13; Garsfontein 42, Noordheuwel 32; Monument 34, Helpmekaar 12; EG Jansen 39, HTS Middelburg 10.

Plaat: Hoërskool Nelspruit 42, Ben Vorster 21; Hoërskool Rustenburg 40, Transvalia 24; Kempton Park 29, Zwartkop 21; Montana 23, Hoërskool Middelburg 15.

Skild: Oos-Moot 24, Eldoraigne 17.

Bowl: Wesvalia 20, Hoërskool Pietersburg 9; Dr. Malan 31, Centurion 16; Secunda 28, Die Anker 24.

Afdeling 2 – Uitspele

Midstream College 24, Hans Strijdom 15; Merensky 50, Leeuwenhof 12; Brandwag (Benoni) 41, Wonderboom 26; Ermelo 30, Potchefstroom Gimnasium 17; Piet Retief 18, Wagpos 14; Oosterlig 38, Pretoria-Noord 26; Frikkie Meyer 66, Randburg 12.

Afdeling 3 – Uitspele

Frans du Toit 26, Hoogenhout 15; Vryburg 31, Curro Nelspruit 18; Overvaal 37, Lydenburg 34; Wolmaransstad 27, Standerton 21; Fochville 31, Delmas 22; Curro Hazeldean 40, Stoffberg 14; CR Swart 34, HTS Sasolburg 33; Die Wilgers 41, Kanonkop 12.

Afdeling 4 – Uitspele

Eric Louw 15, Zeerust 14; Bekker 26, Parys 12; Patriot 24, HTS Potchefstroom 11; Koster 53, Glenbrack 0; Hendrina 48, Kwazaduza 7.

NOORDVAAL

Affies 60, Waterkloof 15; King Edward VII 19, Jeppe 16; Maritzburg College 50, Pretoria Boys’ High 26.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Grey-kollege 52, Grey High School 34; Witteberg 17, Voortrekker 17; Hoërskool Upington 71, Kalahari (Kuruman) 14; Hoërskool Kathu 35, Curro Kathu 35; St. Andrews 28, Sand du Plessis 27; Bothaville 10, Wilgerivier 7; Hoopstad 45, Hennenman 8.

WES-KAAP/OOS-KAAP

Hoër Jongenskool Paarl 26, Paarl Gimnasium 24; Stellenberg 27, Boland Landbou 23; Bishops 29, Durbanville 28; Paul Roos 13, Oakdale Landbou 3; Framesby 27, HTS Drostdy 24; Rondebosch Boys’ High 57, Parel Vallei 20; Die Brandwag (Uitenhage) 38, Hoërskool Punt 5; Robertson 34, Caledon 29; Marlow Landbou 24, Pearson 10; Excelsior 33, Grootte Schuur 5; Hoërskool Strand 46, Hoërskool Bellville 0; Edgemead 29, Parklands College 12; Montagu 37, Langenhoven Gimnasium 31; SACS 43, Milnerton 7.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.