SuperSport Schools Plus

Outeniqua sluit 100ste jaar af met klinkende sege oor HTS Drostdy

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-08-14 Tags: ,

FOTO: Frans Lombard

Hoërskool Outeniqua kon Saterdag hul 100ste bestaansjaar in George afsluit met ‘n omvattende 38-19 sege teen hul ou vyande, HTS Drostdy.

Kyk die wedstryd op weer op SuperSport SchoolsRegistreer nou

Die Kwaggas het hierdie seisoen ‘n trotse 100 jaar geskiedenis gevier waarin hulle al vele wêreldklas rugbyspelers opgelewer het.

Die Springbokke, Johan Heunis, Marco Wentzel, Warrick Gelant en Manie Libbok noem almal vir Outeniqua hul Alma Mater, asook spelers soos Duan van der Merwe wat vir Skotland speel en sy broer, Akker, en ook Faan Conradie wat ook in 1965 saam met die Bokke getoer het.

In ‘n merkwaardige seisoen het die Kwaggas vanjaar byna al hul wedstryde gewen. Slegs die twee spanne bo aan die skoleranglys vir die jaar kon teen die Kwaggas wen.

Grey-kollege het gesweet vir hul 19-17 oorwinning in George vroeër in die jaar, en Garsfontein was ook ‘n stap te vêr vir die Kwaggas by die Absa Wildeklawer toernooi in Kimberley. Hulle moes in daardie wedstryd met 19-8 die knie buig.

Onlangs kon hulle ook ‘n in-form Paarl Gimnasium inperk om 10-elk gelykop te speel in George, en hierdie naweek kon hulle wraak kry vir hul 13-9 nederlaag teen die Donkies verlede jaar.

Die Kwaggas kan ook spog met 15 spelers wat vir vanjaar se SWD span by die Cravenweek gekies is, en ‘n SA Skole A span heelagter in JT Strydom, asook ‘n SA o.18 Sewes speler, hul flank, Jeffwin Wesso.

Nie net was die seisoen en hul laaste wedstryd ‘n viering van hul ryk geskiedenis nie, maar dit het ook gewys dat die toekoms vir die Kwaggas blink met jong spelers soos Andrew Stopforth (losskakel) en Ellie Meyer (skrumskakel) wat uitgestaan het hierdie jaar, en volgende jaar die senior-rolle in die span sal vervul.

Die eerste helfte teen HTS Drostdy het stadig begin.

Al was dit dalk die eerste keer hierdie jaar dat die velde in George lekker droog was vir hardlooprugby het albei spanne gesukkel om af te rond, en die tuisspan kon met ‘n 8-0 voorsprong in halftyd ingaan te danke aan ‘n drie deur hul ster-vleuel, JJ Daters.

Hul kaptein, die binnesenter, Estiaan Cronje, het sake in sy eie hande geneem in die tweede helfte en kon twee drieë  bydra om sy span se voordeel te rek na 23-0, na sy ander senter, Luca Potgieter, ook agter die doellyn gaan kuier het.

HTS Drostdy sal egter ook positief voel oor die toekoms, met hul o.16 en o.15 spanne wat twee goeie oorwinnings teen die Kwaggas kon behaal.

Die eerstespan het ook laat in die tweede helfte gewys waartoe hulle in staat is, nadat hulle ‘n strafdrie kon afdwing, en toe sommer vinnig die gaping van 23-0 na 23-19 kon verminder, maar Meyer se koel en kalm kop het die tuisspan toegelaat om beheer weer terug te neem en op die ou end redelik gemaklik ye wen.

Vir die Donkies het hul groot vleuel, Bernedict George, en hul losskakel, Josh Fourie, uitgestaan.

Puntemakers:

Outeniqua 38 (8) – Drieë: Estiaan Cronje (2), JJ Daters, Luca Potgieter, JT Strydom, Elgeron Meyer. Doelskop: Meyer. Strafdoele: Strydom, Meyer. HTS Drostdy 19 (0) – Drieë: Adrian Vergotine, Wilbré Klaase, Strafdrie. Doelskop: Josh Fourie.

Ander tellings;

o.16 – HTS Drostdy 18, Outeniqua 17.
o.15 – HTS Drostdy 31, Outeniqua 3.
o.14 – Outeniqua 19, HTS Drostdy 5.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.