OP verbreek droogte van 37 jaar op die Cravenweek
Die Oostelike Provinsie is gister – vir die eerste keer sedert 1977 – as die nie-amptelike kampioen van die Cravenweek vir hoërskole gekroon.
Die span van die Baai het SWD oortuigend met 25-7 afgeransel in die hoofwedstryd van die 51ste jaarlikse toernooi in Middelburg, Mpumalanga.
In die OP-span van 1977 was sterre soos Danie Gerber, Tino Kankowski, Boelie Serfontein en Pote Human.
Hulle het die Westelike Provinsie daardie jaar in die hoofwedstryd in Oudtshoorn met 19-17 geklop.
Serfontein was ook die SA Skole-kaptein toe die Cravenweek laas in 1978 in Middelburg gedraai het.
Gister het die Oos-Kapenaars se pak voorspelers – met kaptein Johann van Niekerk en sy flankmaat SF Nieuwoudt aan die spits – die Volstruisboere by die afbreekpunte hoofbrekens besorg.
Van Niekerk se agttal het deurgaans onder die spreekwoordelike kombers gespeel.
Die skrif was reeds teen rustyd aan die muur, met die telling 20-0 in die wenspan se guns.
Die span van die Baai se verdediging was ook een van sy grootste bondgenote. Hy het slegs drie drieë tydens die hele week afgestaan.
Dié jaargroep het ook in 2009 die o.13-Cravenweek se hoofwedstryd teen WP met 12-0 gewen.
) Vroeër is die Vrystaat met 37-29 ore aangesit deur die WP.
Die jong Blikore se senter en kaptein, Julian Jordaan, is boonop weens swak gedrag van die veld gejaag.
) Die Blou Bulle het hul beste vertoning vir laaste gelos, deur KwaZulu-Natal met 36-15 die loef af te steek.
Die Ligbloues se losskakel, Tinus de Beer, was saam met sy skakelmaat, Embrose Papier, op hul stukke.
De Beer het 21 van sy span se punte aangeteken – wat twee drieë ingesluit het.
Die Piesangboere se agtsteman, Jaco Coetzee, was weer uitmuntend voordat hy die veld met ’n besering moes verlaat.
) Die Leeus se flank Len Massyn het ’n driekuns aan drieë aangeteken in sy span se oorwinning van 39-24 oor die gasheer, die Pumas.
Die Pumas kon nie een van hul drie wedstryde in vanjaar se toernooi wen nie.

 



