SuperSport Schools Plus

Oosthuizen-driekuns, Boshoff se stewel sorg vir gelykopuitslag in Randburg

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-07-28 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Jaydon Oosthuizen se driekuns aan drieë het vir hope drama en ‘n naelbyteinde aan die stryd tussen Hoërskool Randburg en Merensky Landbou Akademie gesorg.

Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.superportschools.com)

In ‘n aksiebelaaide stryd van twee helftes het die besoekers van Tzaneen weggestap met gedeelde louere, nadat die tuisspan verbete teruggeveg het vir ‘n gelykopuitslag van 29-29.

Dit was terloops albei spanne se tweede gelykopuitslag, nadat die Plasies voor die skoolvakansie teen Potchefstroom Gimnasium  met 41-41 gelykop gespeel het en die Randburgers vroeër in die kompetisie, teen die einste Gimmies, ook met 33-33 ewe goed was.

Dit het soos verwag ‘n uiters fisieke stryd onder die twee agttalle afgegee. Die tuisspan se Curwin Hill het, soos gebruiklik, vurig vertoon voorlangs, terwyl die Plasies se Carel Volschenk en Phuki Mpiti ook die pap dik aangemaak het.

Dit sou egter Oosthuizen en die Plasies se JD Boshoff wees wat die uitslag van die kragmeting bepaal.

Boshoff was uitmuntend vanaf die skopgekel en het met nie minder nie as vyf strafdoele en altwee doelskoppe geslaag, wat grootliks verantwoordelik was vir die Plasies se voorsprong van 23-5 met die omdraaislag.

Daarna het Oosthuizen vir die tuisspan opgedaag. Sy driekuns het die momentum in ‘n oogwink geswaai en die Randburgers terug in die wedstryd gebring.

Shane Serfontein het Hoërskool Eldoraigne se verdediging twee keer onverhoeds betrap in Hoërskool Dinamika se belangrike sege van 29-17 in Centurion. Dié tweekuns was welverdiend ná ‘n indrukwekkende vertoning op die aanval.

Voorlangs her Hendrik Alberts ‘n barshou gespeel in die los. Die kantman van Alberton was regoor die veld te sien en is ook met een van Dinamika se vier drieë beloon.

Bergsig Akademie se Bradley Stonehouse het die Eagles reeds vroeg in hul kragmeting met Hoërskool Ermelo laat voorloop, en voor gehou om uiteindelik met 38-25 koning te kraai. Stonehouse het aan die einde van 70 minute met vier strafdoele en twee doelskoppe gespog.

Vir die besoekers van Mpumalanga het agtsteman, Francois Homan, uitgeblink met ‘n tweekuns aan drieë.

Potchefstroom Volkskool het ietwat verroes voorgekom na die blaaskans, maar het steeds oor genoeg skietgoed beskik om vir Hoërskool Jeugland met 32-18 in Potchefstroom te verslaan. Slot Joshua van der Westhuizen het die pas voorlangs aangegee, wat uiteindelik vir binnesenter, terwyl River Samuel vir die tuisspan in die middeveld op die voorvoet gehou het.

Puntemakers: 

Hoërskool Randburg 29 (5) – Drieë: Jayden Oosthuizen (3), Curwin Hill, Victor van Blerk. Doelskoppe: Josh Wiggett (2). Merensky Landbou Akademie 29 (23) – Drieë: Carel Volschenk, Phuki Mpiti. Doelskoppe: JD Boshoff (2). Strafdoele: Boshoff (5).

Dinamika 29 (7) – Drieë: Shane Serfontein (2), Hendrik Alberts, Zavian Mathys. Doelskoppe: Caiden van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe. Eldoraigne 17 (5) – Drieë: Kevin Earle, Darren Bruwer, MC Scheepers. Doelskop: Manie Buitendag.

Bergsig Akademie 38 (19) – Drieë: Dylan Smith, Thabang Machubene, Paulo Dos Santos, Ryan Nagel. Doelskoppe: Bradley Stonehouse (2). Strafdoele: Stonehouse (4). Hoërskool Ermelo 25 (6) – Drieë: Francois Homan (2), Ruan Grobler, Hennie Geel. Doelskop: WJ Pretorius. Strafdoel: Pretorius.

Potchefstroom Volkskool 32 (11) – Drieë: Joshua van der Westhuizen, De Waal Coetser, Louis Fourie, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (3). Strafdoele: Geldenhuys (2). Jeugland 18 (5). 

Ander spanne: 

o.16: Ermelo 24, Bergsig 22; Merensky 40, Randburg 8; Eldoraigne 17, Dinamika 0; Potchefstroom Volkskool 67, Jeugland 5.

o.15: Bergsig 20, Ermelo 12; Randburg 40, Merensky 22; Dinamika 17, Eldoraigne 12; Potchefstroom Volkskool 26, Jeugland 0.

o.14: Ermelo 21, Bergsig 7; Merensky 13, Randburg 6; Dinamika 33, Eldoraigne 7; Jeugland 12, Potchefstroom Volkskool 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.