Onoorwonne Zwarries, Monnas kan vonke laat spat in Centurion

Die stryd tussen die enigste twee onoorwonne spanne in die Finsbury-reeks se C-afdeling, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Monument, beloof om kookwater-krieket op te lewer.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Daar blyk geen keer aan die twee spanne te wees in dié afdeling vanjaar nie, maar Saterdag sal die einde van een van hulle se segetog beteken met die Monumentare wat die 50 km noord op die N14 aandurf om die Zwarries in hul agterplaas die stryd aan te sê.
Monnas se Ibrahim Haffejee, ‘n staatmaker met die bal sedert die begin van 2025, sal ‘n sleutelrol hê om te vervul indien die besoekers hoop om die Zwarries se appelkar om te gooi. Die ervare voorslagkolwer, Logan Weetman, hou ook groot gevaar in vir die tuisspan, met die vinnige tempo waarteen hy kolf en daar word moeilik van hom onstlae geraak as hy eers aan die gang kom.
Die Zwarries se toporde kan egter hoofbrekens vir die besoekers besorg, soos onder andere kaptein, Zandre van Staden, en voorslagkolwer, WJ Esterhuizen. Van Staden het reeds vanjaar, met ‘n reuse honderdtal van 148 nie uit nie, teen Lichtenburg, gewys wat in hom steek.
Hoërskool Lichtenburg verwelkom Midstream College in Lichtenburg. Midstream lek nog wonde na sy nederlaag teen die Zwarries verlede naweek en die ineenstorting wat die span van Centurion met die kolf beleef het sou in diepte die afgelope week bespreek gewees het.
In die bouldepartement het Midstream nog heel seisoen goed gevaar, met Dian de Villiers wat vyf paaltjies in die vorige wedstryd laat kantel het en op daardie vertoning sal wil voortbou om die Liggies te verdoof. Hy sal wel eers verby die kolf van die tuisspan se Douw Jacobs moet kom.
Hoërskool Pietersburg, wat vir die tweede agtereenvolgende week tuisveldvoordeel geniet, sal hoop dat die gure weer hierdie week wegbly. Hy het nie ‘n maklike taak op hande met Hoërskool Dinamika wat in Limpopo besoek aflê nie en die twee spanne, wat oor hope veelsydigheid beskik, behoort uitstekend op te weeg teen mekaar.
Die Pieties se blad is tradisioneel ten gunste van die kolwers, iets wat Dinamika se Jadin Schlebusch en Trent Shrives sal laat glimlag. Albei het hul ritme gevind in die span van Alberton se stryd teen Monument verlede naweek. Aan die kant van die Pieties kan daar weer vuurwerke verwag word as die veelsydige AJ Galloway, soos verlede naweek, die langsteel inlê.
Bepalings:
Week 4:
Zwartkop t. Monument
Hoërskool Lichtenburg t. Midstream College
Hoërskool Pietersburg t. Dinamika