Ocks-tweeling se viertal fel Arende neer, Parkie-senters beïndruk


Hoërskool Dr EG Jansen is deur ‘n goed geoliede Boland Landbou-masjien getref op die eerste dag van die 2025 NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Stellenbosch.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van die Paarl het nie minder nie as 11 keer agter die Arende se doellyn gaan kuier, om uiteindelik met 71-10 koning te kraai. Die Ocks-tweeling was vir vier van die drieë verantwoordelik.
Jason Ocks, wat op buitesenter uitgedraf het, het eerste die doellyn twee keer oorgesteek, maar broer, Jadon Ocks (linkervleuel), het nie op hom laat wag nie en die Ocks-naam in die tweede helfte verder hoog gehou met sy tweekuns. Die tweeling sal nietemin die eerste wees om hul agttal te bedank vir die formidabele grondslag wat vir dié reuse oorwinning gelê is.
Agter die skrum, het skrumskakel, Jayden Brits, sy ervaring ingespan om die uitstekende balbesit uit te kry by die snellers agterlangs, soos heelagter, Gehano van Bo, wat óók twee keer deurgedartel het vir drieë.
Die Hoërskool Menlopark se senterpaar, bestaande uit Dylan Stumke en Leskin Samuels, het die Markotter-stadion vergas op kookwaterspel waarmee hulle vir Outeniqua laat les opsê het in die Pretorianers se sege van 34-24. Samuels het die Kwaggas se verdediging dikwels oorhoeks gehad met sy venynige voetwerk, terwyl Stumke hom perfek aangevul het met sy fisieke spel.
Die span van George het wel sy ritme later begin vind om binne ‘n oogwink 24 punte aan te teken. Loskopstut, Matthew Prins, is beloon vir ‘n kragtige vertoning met ‘n tweekuns aan drieë, terwyl haker, Keenan Myners, terug van Monument, puik ondersteuning gebied het met sy woelige spel in die vaste los.
Puntemakers:
Boland Landbou 71 (33) – Drieë: Jason Ocks (2), Jadon Ocks (2), Gehano van Bo (2), Jayden Brits, Du Toit Brink, Chad Meintjies, Henry Rudder, Blake de Kock. Doelskoppe: Brits (9). EG Jansen 10 (0) – Drieë: Christopher Combrink, Joseph Diesel.
Menlopark 34 (22) – Drieë: Nathen du Plessis (2), Gustav Schäffner, Dylan Stumke, Leskin Samuels, Reinhardt Herbst. Doelskop: Andru Keun. Outeniqua 24 (0) – Drieë: Matthew Prins (2), Keenan Myners, Schalk van der Merwe. Doelskoppe: Virgil Pokpas (2).