Oakdale wil 2018-sukses op Brugstraat herhaal
Hoër Landbouskool Oakdale besoek Brugstraat Saterdag om sake uit te spook met die Hoër Jongenskool Paarl.
Verlede jaar het die boere op Riversdal met 20-17 geseëvier, maar hulle kon vir Boishaai laas in 2018, vir die eerste keer sedert 2002, op Brugstraat pootjie.
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Hannes Gous het die Oakdale-span in 2018 op die veld gelei en danksy bydraes deur sleutelspelers soos Trevino Gordons, Clyde Lewis en Pieter Maritz kon hulle die tuisspan met 47-29 gaffel.
Vanjaar lyk die span van Paarl egter weer soos een van die voorstes in die land, en het hulle reeds hul stempel afgedruk teen ‘n paar van die spanne wat verlede seisoen vir hulle opdraande gegee het.
Boishaai het die seisoen afgeskop met ‘n reuse oorwinning van 73-7 oor Hoërskool Durbanville, nadat die Durbies in 2023 ‘n skoksege oor hulle behaal het.
Daarna het hulle by die NMI Noord/Suid-toernooi met Jeppe High School afgereken (45-19), en dit op die vooraand van Jeppe se opspraakwekkende sege oor Grey-kollege.
Boishaai het ook hope karakter aan die dag gelê teen Garsfontein, om in die doodsnikke die knoop deur te hak met 38-36.
Verlede naweek het hulle ook hul onoorwonne rekord by die King Edward School se Paastoernooi behou, deur die gasheerspan en ‘n begeesterde Pretoria Boys’ High met onderskeidelik 22-7 en 24-8 te klop.
Die tuisspan lyk dus slaggereed om die bordjies te verhang teen Oakdale, maar die manne van Riversdal is self besig om ‘n indrukwekkende seisoen aanmekaar te sit.
Oakdale het reeds vir Ligbron Akademie, Rondebosch Boys’ High, Hoërskool Garsfontein en Helpmekaar Kollege die loef afgesteek, en sal uitsien na nog ‘n kans om met Boishaai in hul eie agterplaas te ploeg.
Oakdale se loskopstut, Kai Pratt, het verlede jaar as deel van die SWD-span by die Grant Khomo-week aandag getrek, en is besig om op daardie momentum voort te bou.
Die Boishaai-voorry, met Christiaan Grundling op haker, sal egter nie terugstaan vir die besoekers nie. Dit gaan ‘n enorme stryd tussen die groot manne in die skrums afgee.
Rubin Dames, die tuisspan se bul van ‘n flank is nog elke naweek ‘n uitblinker vir die span van Paarl, en sy losskakel, Viaan Mentoor, kon ook nog nie ‘n voet verkeerd sit nie.
Kurt Coetzee van Oakdale is ook ‘n opwindende speler om dop te hou en het verlede jaar by die Internasionale Skolefees in Thailand gewys waartoe hy in staat is.
Die spanne:
Paarl Boishaai t. Oakdale om 13:30:
Hoër Jongenskool Paarl: 15 Francois van der Merwe, 14 Aiden Jacobs, 13 Tristan Joubert, 12 Tristan Fransman, 11 Ashwin Swarts, 10 Viaan Mentoor, 9 Keagan Smith, 8 Douw Wessels, 7 Rubin Dames, 6 Anroux du Plessis, 5 Jayden Joubert, 4 Dian Smal, 3 Juan van der Merwe, 2 Christiaan Grundling, 1 Bernard du Toit.
Hoër Landbouskool Oakdale: 15 Reinhart Viljoen, 14 Christian Vorster, 13 Lee-Winn Pretorius, 12 Kurt Coetzee, 11 Duraan Janse van Rensburg, 10 CT Vosloo, 9 Jandrian Goosen, 8 Erick Steyn, 7 Jannes Snyman, 6 Zack Wessels, 5 Roy Viljoen, 4 Ruan Swart, 3 Tiaan Turck, 2 Gustav van der Merwe, 1 Kai Pratt.