SuperSport Schools News

Oakdale en Boland trek grofgeskut nader vir kragmeting tussen Oud-Skoliere

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-26

NewsG CJStanderDie Hoër Landbouskool Oakdale het die grofgeskut nader getrek in ‘n poging om sy eerste sege in die jaarlikse wedstryd van die ou-Bulle (old boys) teen Boland Landbou te behaal.

Die kragmeting skop vandag om 16:30 af. Die regstreekse skakel na die beeldsending van die wedstryd is onderaan die artikel.

Die voormalige Ierse-losvoorspeler, CJ Stander (52 toetse), sal Oakdale Landbou se Pedrie Wannenburg XV-tal teen hul eweknie van Boland Landbou in die Agter-Paarl aanvoer.

Stander is egter nie die enigste internasionale speler in aksie vandag in die Paarl nie, met Tobie Botes wat Italië in 22 toetse verteenwoordig het wat vir die tuisspan in aksie sal wees.

Oakdale het besluit om sy span ter nagedagtenis van hul eerste Springbok, Pedrie Wannenburg, te vernoem. Hy is vroeër vanjaar in ‘n motorongeluk in Amerika oorlede.

Oakdale kon sedert die eerste wedstryd tussen die twee skole se oud-skoliere in 2018 nog nie daarin slaag om seker te maak dat hul bier na die tyd soet proe nie.

Stander spog met twee seges oor die All Blacks in sy internasionale loopbaan. Een daarvan was die Iere se eerste sege ooit oor Nieu-Seeland. Oakdale se manne sal dus hoop dat Stander ‘n bietjie van die magic na die tafel toe sal bring om ook Boland Landbou wat ook in swart truie speel die eerste keer ooit te verslaan.

Dit sal ook die eerste keer wees dat CJ saam met sy broer, Janneman Stander, in aksie sal wees. Janneman het ook al vir Suidwestelike Distrikte se seniorspan langs die kant van die skrum gesak. Dit het waarskynlik ook ‘n rol gespeel dat CJ sy tokse vir die eerste keer sedert sy uittrede in 2021 afgestof het.

Oakdale se span het vier pare broers in sy geldere vir die kragmeting. Buiten die Standers sal die broers Melt en HP van Schoor, Stephan en Paul Steicher asook William en Kurt Eybers ook vir die span van Riversdal uitdraf.

Botes was is sy loopbaan vir Italië twee keer teen die Iere in aksie en was ‘n lid van die span wat Ierland in 2013 met 22-15 verslaan het, Die skrumskakel wat ook gemaklik op losskakel diens kan doen is tans die Hoof van Rugby by HTS Drostdy in Worcester.

Die span van Boland Landbou word deur Christoff Janse van Rensburg aangevoer. Die Hoërskool Stellenberg se bemarker, Andras Molnar, sal ook vir Boland Landbou in aksie wees.

Die Pedrie Wannenburg XV-tal se spanbestuurder is die bekende skrywer en rugbykommentator van SuperSport, Marco Botha.

Die wedstryd word ook regstreeks via YouTube uitgesaai met Buks Scott wat vanjaar ‘n matrikulant aan Paarl Gimnasium is, maar vroeër in sy skoolloopbaan by Oakdale Landbou reeds naam as kommentator begin maak het.

Regstreekse Uitsending – https://bit.ly/BolandOakdaleOudSkoliere2022

Die spanne is: 

Boland Landbou

Voorspelers: Evert Grobbelaar (2012), Koos Farr (2005), JP Marais (2011), Dieter du Toit (2011), Albertus Buckle (2001), Jaycee Groenewald (2004), Tamatie Smith (2007), Anlo Schietekat (2007), Christoff Janse van Rensburg (2002), Nicolai Lubbe (2011), Will Hanekom (2004), Nico Nel (2011), Luther Stofberg (2011), Francois Wiese (2007), Willem Dreyer (2006).

Agterspelers: Jos Malherbe (2011), Andras Molnar (2007), Johan Herbst (2005), Janno van Zyl (2003), Tobie Botes (2002), Slabbie Slabbert (2011), Jandré Kleinhans (2010), Bernie Hugo (2007), Stoffel Marais (2007).

Pedrie Wannenburg XV-tal

Voorspelers: Melt van Schoor (2012), SW Odendaal (2014), HP van Schoor (2015), Hanro Liebenberg (2012), Callie Jordaan (2001), Donavan van der Berg (2013), Antonie Gronum (2004), Johan Rademeyer (2008), Adriaan Jansen (2007), Ettienne Vogel (2009), Janneman Stander (2011), CJ Stander (2008), Stephan Streicher (2014).

Agterspelers: Schoeman du Preez (2005), Eckard Leicher (2015), Boeta Hamman (2015), Dirk Sutherland (2004), William Eybers (2015), Kurt Eybers (2015), Paul Streicher (2012), Herman Rademeyer (2014), Gerhard Augustyn (2009), Jandri Meyer (2012), Henk Fourie (2008), Juan Venter (2008).

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.