SuperSport Schools Plus

Oakdale Bulle gaffel Kwaggas op die plaas

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-19 Tags: ,

FOTO: De Villiers Viljoen

Die Hoër Landbouskool Oakdale se eerste span het Saterdag vir hul tradisionele aartsvyande, Hoërskool Outeniqua, behoorlik gewys waar Dawid die wortels begrawe het.

In 2023 het die Kwaggas hul 100ste herdenking in styl gevier met ‘n sege van 25-14 op eie bodem, maar die afgelope naweek het Oakdale met ‘n wegholsege van 60-8 koning gekraai.

Beleef die kragmeting weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Die Oakdale-blits, Lee-Winn Pretorius (vleuel), het drie van sy span se 10 drieë ingeryg. Die eerste van Pretorius se driekuns het na slegs vyf minute gekom, en 10 minute later het Waylon Kortjie ook vir sy eerste van twee drieë oorgedraf.

Ellie Meyer het die besoekers se rekening met ‘n strafdoel oopgemaak, maar nóg drieë deur Pretorius en Liam Lightly het teen halftyd reeds ‘n voorsprong van 26-3 aan die tuisspan besorg.

Na die omdraaislag kon Pretorius, Kortjie, Duraan Janse van Rensurg, Lohan Gerber en Erick Steyn nog bresse in die Kwaggas se verdediging slaan. Xavier Solomons het die besoekers se enigste drie in die 63ste minuut aangeteken, maar teen daardie tyd het Oakdale reeds die gaping na 40 punte vergroot.

Janse van Rensburg het ook twee keer agter die Kwaggas se doellyn gaan kuier.

Oakdale spog vanjaar met 11 spelers in SWD se Cravenweekspan wat volgende maand, saam met nege spelers van Outeniqua, die streek sal verteenwoordig by die provinsiale toernooi in Krugersdorp.

Intussen sal die Riversdal-span egter hierdie spogsege geniet, met dié dat kaptein, Kurt Coetzee, en sy makkers hul name in die skool se geskiedenisboeke geskryf het met die grootste sege nóg oor Outeniqua. In 2009 het die Kwaggas met 54-3 koning gekraai in die eerste Premier Interschools-kragmeting, maar sedertdien was daar nie veel om die spanne te skei nie en dus sal Oakdale hierdie oorwinning nog lank onthou.

In nóg ‘n drieëfees het Langenhoven Gimnasium vir York High met 50-41 kafgedraf.

Puntemakers

Hoër Landbouskool Oakdale 60 (26) – Drieë: Lee-Winn Pretorius (3), Waylon Kortjie (2), Duraan Janse van Rensburg (2), Liam Lightly, Lohan Gerber, Erick Steyn. Doelskoppe: Kurt Coetzee (5). Hoërskool Outeniqua 8 (3) – Drie: Xavier Solomons. Strafdoel: Ellie Meyer.

Ander uitslae

o.19 – Langenhoven Gimnasium 1ste XV 50, York High 1ste XV 41; Oakdale II 43, Outeniqua II 26; Oakdale III 28, Outeniqua III 10; Oakdale IV 61, Outeniqua IV 7; Oakdale V 48, Outeniqua V 5; Oakdale VI 52, Outeniqua VI 3; Oakdale VII 17, Outeniqua VII 5.

o.16 – Oakdale A 52, Outeniqua A 0; Oakdale B 36, Outeniqua B 0; Oakdale C 27, Outeniqua C 12; Oakdale D 35, Outeniqua D 7.

0.15 – Outeniqua A 14, Oakdale A 0; Outeniqua B 21, Oakdale B 19; Outeniqua C 17, Oakdale C 14; Outeniqua D 35, Oakdale D 21.

o.14 – Outeniqua A 19, Oakdale A 0; Oakdale B 10, Outeniqua B 0; Oakdale C 31, Outeniqua C 0; Oakdale D 56, Outeniqua D 0; Oakdale E 50, Outeniqua E 33.

FOTO: De Villiers Viljoen
Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.